ROETES WAT ROEP
Teen die Swazilandse grens loop daar naby Barberton ’n grondpadpas wat ’n destydse asbesmyn bedien het. Vandag is die pas grafstil en amper vergete, en dis goed so.
As jy weer ’n draai op Barberton maak, moet jy ’n dag opsy sit vir een van die bekoorlikste roetes in Suid-Afrika. Uit dié dorp (genoem na ene Graham Barber en nié ’n soort vis in die Vaaldam nie) ry jy oos met die R40-teerpad, ook bekend as die geologieroete, in die rigting van die Josefsdal-Bulembu-grenspos na Swaziland. Skaars 2 km voor die grenspos is ’n half versteekte afdraai en ’n padpredikant wat aankondig: Oshoek en Badplaas.
Langpad deur die Laeveld
Draai regs by die padteken en volg die afdraandegrondpad tot op die vloer van ’n smal vallei. Die pad daal oor die volgende 14 km altesame 800 m, wat hom onder die voorste 3% van Suid-Afrika se steilste passe plaas. Die padoppervlak is gewoonlik in ’n goeie toestand, maar as dit swaar gereën het, gaan jy beslis nie regkom in ’n Toyota Corolla nie.
Die roete loop deur die oostelike kwart van die Songimvelo-wildreservaat wat deur die Mpumalanga-parkeraad bestuur word. Hoewel jy deur die reservaat ry, hoef jy nie te betaal nie omdat die roete as streekpad geproklameer is.
Ná 7 km steek daar ’n stomp heuwel uit die valleivloer. ’n Tweespoorpaadjie loop loodreg teen hom uit (’n slimmer ou sou ’n kronkelpad gebou het, maar dit daargelaat) en jy gaan beslis laestrek moet inhaak om teen dié steil bult uit te kom. Bo-op die bult het jy ’n puik uitsig oor die vallei. Links bulder ’n waterval, voor jou lê Swaziland, en na regs vervaag berg op berg geleidelik in die dynserige verte.
Altesame 4 km verder suid is die afdraai na die Dunbar-4x4-roete. Jy mag die roete slegs per afspraak ry en die
minimumvereistes is dat daar
minstens twee voertuie in jou groep moet wees – en albei voertuie moet laestrekratte hê. Dié roete eindig ná 8 km diep in die berge en jy moet weer in jou spoor terugkeer na die hek toe. Hoewel die roete nie té uitdagend is nie, wil die park se bestuur nie hê jy moet kanse waag nie aangesien hier olifante en buffels rondloop.
Net om die draai van die Dunbar-roete verskyn ’n verlate voorstedelike huis uit die niet voor jou. Dan is daar nog ’n huis en nóg een. Kort voor lank is jy midde-in ’n verlate dorp met geen siel in sig nie.
Bly in ’n spookdorp
Die huise se vensters is heel en die deure netjies toegetrek. Die grasperke word egter deur bosse verswelg en rankplante is besig om oor die wonings se dakke te sluip. As jy deur die vensters loer, sien jy leunstoele, rusbanke en speelgoed op die volvloermatte. Dis ’n onrusbarende gevoel om ’n dorp in hierdie toestand te sien – iets uit ’n zombie-apokalips. Maar dis nie ’n grillerige plek nie, want daar is geen teken van geweld of vandalisme nie en die vreemde mooiheid van die natuur wat die netjiese geboue talmend kou en insluk is roerend.
’n Ferriswiel troon bo die landskap uit. Sy agt karretjies is almal vasgeroes, maar daar ontsnap nou en dan ’n kreungeluid uit die struktuur. Eenkant in die hotel >
se dameskroeg staan ’n klavier, en wanneer jy hom speel, slaan sy hamers teen pap snare wat reageer met gedempte, droewige klanke.
Die skooltjie se geroeste sinkplaatdak is besig om inmekaar te sak. By die ingang lees dit: Diepgezet Laerskool. Die dorp Diepgezet is in die jare veertig gestig om ’n nabye asbesmyn te bedien, maar toe dit ontdek word dat asbes kankervormend is, is die dorp ontruim en die myn se ingang met dinamiet toegeskiet. Die laaste inwoner het in 2003 weggetrek en die grond is aan die plaaslike Seswati-stam oorhandig (onder die bestuur van die Ekuphleni Kesive Songimvelo-gemeenskapseiendomsvereniging).
Daar ís nog mense op Diepgezet: Alan en Liz Eltze is namens die gemeenskap besig om die huise op te knap en hulle hoop om mettertyd die ganse dorp in ere te herstel en in ’n toerismebestemming te omskep. Die dorp se naam is intussen na Msauli Village verander.
As jy sien hoe ’n wildevy se vlesige wortels besig is om die mure van die jongmanskwartiere pap te druk, gaan jy die haalbaarheid van hulle plan betwyfel. Nietemin is hier blyplek vir 14 gaste (R550 per kamer en R380 per rondawel, albei vir 2 mense). Daar is ook ’n koffiekroeg waar jy ’n ligte ete kan bestel.
Dis eintlik jammer dat Alan en Liz so ywerig is om die dorp te restoureer. Hulle bedoel goed, maar daar is ’n tragiese mooiheid aan ’n dorp wat met waardigheid sterf.
Van Msauli Village af is dit 35 km tot by die N17, verby die Ebutsini-4x4-roete wat in 2015 gesluit is, en van daar af 330 km tot in Johannesburg.
Maksimum getal voertuie Onbeperk.
Kry ek ’n kaart? Nee.
Sal my voertuig krap? Nee.
Moet ek ’n kompressor saamneem? Nee wat.
Kan ons langs die pad braai? Braai liewer by Msauli Village.
Kan ek halfpad omdraai? Ja.
Is daar selfoonsein? Swak sein.
RONDOM DIE ROETE Beste tyd om te gaan? Heeljaar.
Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.
Net vir die dag of die naweek? Naweek.
Is daar ablusiegeriewe? Op Msauli Village, ja.
Aanwysings Van Barberton af is dit sowat 35 km suid oor die pragtige Saddlebackpas tot by die OshoekBadplaas-padpredikant. As jy uit die suide met die N17 ry, moet jy by die Ekulindeni-padteken, sowat 17 km ná Lochiel, afdraai.
GPS S25.94348 E31.10560 (noord) S26.18171 E30.93896 (suid) S26.00498 E31.07620 (Msauli Village)
Wat kos dit? Gratis.
Kontak Songimvelo-wildreservaat (Dunbar-4x4-roete) 017 883 7942
mpumalanga.com/our-provincialparks/songimvelo-nature-reserve Msauli Village 011 828 0227 (kantoorure) of 082 777 2026 (na-ure)
msaulivillage.co.za