Is daar lig in die Jurgens-tonnel?
Dit is in niemand se belang dat Jurgens Ci, wat só lank die hartklop van die Suid-Afrikaanse kampbedryf was, tot niet gaan nie, sê Neels van Heerden.
Die onlangse woelinge by Jurgens Ci se fabriek in Ga-Rankuwa dreig om die nalatenskap van Geert, Dirk en Rieks Jurgens in die wiele te ry.
Die Jurgense het hulle eerste woonwa – wat deur twee perde getrek is – in 1938 in Nederland gebou en in 1950 na Suid-Afrika geïmmigreer. Plaaslik was hulle eerste skeppings broodafleweringswaens en mobiele biblioteke, maar teen 1952 het hulle eerste woonwa, die Bokkie, uit hulle fabriek in Germiston gerol.
Sedertdien het daar baie water in die see geloop en Jurgens – of Jurgens Ci soos die maatskappy later sou bekend staan – het hom mettertyd gevestig as die voorste naam in plaaslike woonwakringe. Dit is voorwaar ’n ryke geskiedenis.
Maar kom ons kyk hoe loop dinge 50 jaar later...
In 2008 word Jurgens Ci aan die Imperial-groep verkoop, wat gemengde welslae het tot hy in 2017 die maatskappy van die hand sit. Die nuwe eienaar is ’n bekende in supermarkkringe en eiendomsontwikkeling met belange in die woonwabedryf. As ’n kundige Imperial se finansiële state tussen 2010 en 2017 bestudeer, is daar ’n onderliggende tendens te bespeur.
Kort-kort word verslag gedoen oor die woonwamark wat onder groot druk verkeer. Ek kan egter nie help om te wonder wat Imperial gedoen het om die mark vir woonwaens te ontwikkel nie. Veels te min, as jy my vra.
GERUGTE OOR arbeidsprobleme steek kort-kort kop uit, en ’n mens kry die idee produksieteikens word bloot nagejaag. Klagtes oor gehaltebeheer raak ook alledaags. Vakmanne word na bestuursposisies bevorder en fabrieksprosesse steier blykbaar weens ’n gebrek aan vakmanskap op die fabrieksvloer.
Die fabriek ploeter voort en handelaars moet gereeld bontstaan om verbruikers se klagtes oor dinge soos fabrieksfoute op te los. Die ergste was die nuutste reeks Jurgens-woonwaens wat teen luukse pryse maar met slordige afwerking op handelaars afgedwing is.
’n Bontpratery deur senior besluitnemers verbonde aan die fabriek veroorsaak dat handelaars se ontevredenheid toeneem, en verbruikers is baie duidelik op sosiale media oor hulle griewe. Een voorbeeld is die vrotsige verskoning dat woonwaens nie meer met ’n standaardvoltent toegerus word nie omdat kampeerders kwansuis makliker en vinniger wil kamp opslaan.
Die fabriek kon glad nie navorsing aanbied wat dié stelling staaf nie; dit klink eerder na ’n wollerige verskoning om ’n kostebesparingsmaatreël te probeer regverdig. Op ’n webwerf waar verbruikers kan kla oor diens, daal Jurgens Ci se gemiddelde telling tot 1,85 uit ’n moontlike 5. ’n Verdere aanduiding van probleme in die groep is die onaktiewe webtuiste van Howling Moon.
IN JUNIE VANJAAR is die fabriek tydelik gesluit en gerugte oor moontlike bankrotskap doen die ronde. Handelaars kry geen kommunikasie van senior amptenare by die fabriek nie en hulle frustrasie loop uit op die stigting van ’n nuwe liggaam vroeër vanjaar: LeisureWorld.
Hiermee sit hulle skouer aan die wiel om hulle voortbestaan te red met ’n splinternuwe sakemodel wat onafhanklik van die welstand en uitsette van Jurgens Ci funksioneer.
Op 30 Julie 2018 en 6 September 2018 word sake in die Hooggeregshof teen Jurgens Ci aangehoor, maar teen druktyd was daar nog geen uitsluitsel oor wat daar gebeur nie.
Dis ’n hartseer stand van sake. Dit is in niemand se belang dat hierdie maatskappy, wat só lank die hartklop van die Suid-Afrikaanse kampbedryf was, tot niet gaan nie.
Kom ons hou styf duim vas daar is lig aan die einde van dié donker tonnel.
Die fabriek ploeter voort en handelaars moet gereeld bontstaan om verbruikers se klagtes oor dinge soos fabrieksfoute op te los.