BAND-EKSPERT VELDRYBANDE
ALLES WAT JY VAN DIE ONTWERP MOET WEET
Sand, rots, gruis, gras en modder. In die veld kry jy met baie grondoppervlakke te doen. Om nie eens te praat van hoe elkeen van dié oppervlakke kan verskil as dit kom by diepte en samestelling nie.
As jy die groot verskille in terrein in ag neem, kan jy verstaan dat bandevervaardigers nie gretig is om syfers vir ’n band se vastrapvermoë te gee nie. Trouens, die enigste bandtoets wat traksie bepaal, word op teer uitgevoer, en selfs dan moet die teer aan internasionale standaarde voldoen.
Jy sal dus verstaan dat die vastrapvermoë (of traction) van bande ’n omstrede onderwerp is, veral by veldrybande wat dikwels op ’n los grondoppervlak gebruik word. Daarom moet veldrybande ontwerpeienskappe hê wat voorsiening maak vir los, uitgeryde en ongelyk oppervlakke. Wat is hierdie ontwerpeienskappe? In die bedryf staan dit as LKS bekend, oftewel loopvlak, karkas en samestelling. (In Engels TCC – vir “tread, carcass and compound”.)
LOOPVLAK
Dis dalk ’n oorvereenvoudiging, maar hoe losser die terrein, hoe aggressiewer moet die loopvlakpatroon wees. Wat bedoel ons met “aggressief”? ’n Aggressiewe loopvlakpatroon het ’n groter persentasie oop spasies tussen die loopvlakblokkies én dieper groewe.
Dieper groewe op padbande word gewoonlik met meer kilometers en waarde verbind (wat absoluut waar is), maar by veldrybande dui die dieper groewe op beter vastrapvermoë, weerstand teen lekplekke en duursaamheid.
Die groewe speel ook ’n deurslaggewende rol in die band se verrigting in die veld. Dis ’n algemene wanopvatting dat groewing (“siping”) net ’n rol op nat teer speel. Dit speel ook ’n groot rol by die buigsaamheid van die loopvlak op ’n rotsagtige terrein.
Die nadeel hiervan is egter dat elke groef ’n plek is waar die band kan stukkend raak. Die sogenaamde “cut and chip”-skade kom gewoonlik by die groewe voor.
Gelukkig verbeter die groeftegnologie ook. Hedendaagse groewe word gewoonlik
intern gesny, binne die loopvlakblok, wat die band se weerstand aansienlik verbeter.
Nog ’n groot deurbraak in bandtegnologie is die koms van mikrometer-groewing (“microgauge siping”), wat die ghrênd manier is om na dunner groewe te verwys. Die voordeel van dunner groewe is egter dat hulle dieper in die loopvlakblok sny, wat ’n beter vastrapvermoë vir die hele leeftyd van die band verseker, en nie net die eerste paar duisend kilometer nie.
’n Ekstra voordeel van mikrometer-groewing is dat die band minder geneig is om klippies op te tel wat in die groewe vassteek, wat tot skade kan lei as die klippies in die band boor.
Nog ’n groot verbetering in veldrybandontwerp is aan die sywande van sekere bande, soos die Cooper STT PRO, waar ’n spesifiek-ontwerpte spangroef in die skouer ingevoeg is. Hierdie buigsame groef help om die impak van oneweredige terrein op die band te verlig, en verbeter die buigsaamheid van die sywand teen lae druk aansienlik. Dit verbeter ook die band se vastrapvermoë en veiligheid.
Die band se vastrapvermoë hang egter nie nét af van die grootte en ontwerp van die blokke nie, wat ons by die volgende onderwerp bring...
KARKAS
Die karkas van die band is soos die fondament van ’n huis: Dit bepaal tot 70% van die sterkte van die band. Dis ook waar die meeste van die krag en wrywing (op die band) geabsorbeer word.
Vragdravermoë, verrigting onder druk, en weerstand teen hitte en lekkasies word direk deur die vorm van die karkas bepaal.
Maar die lys eindig nie daar nie: Die rigiditeit van die karkas speel ook ’n rol in jou 4x4-stuurreaksie, veral by groter voertuie en sportnutsvoertuie wat skielik moet uitswaai in ’n noodsituasie. ’n Sterk karkas verminder skerp sywaartse bewegings (“fishtailing”) en bakrol, en laat die voertuig toe om vinnig na die sentrale stuurposisie terug te keer.
Om op te som: ’n Band met ’n swak karkas is soos ’n huis wat op sand gebou is.
SAMESTELLING
Alle rubber is dieselfde, nè? Wel… nee.
Net soos plastiek verskil wat digtheid, sterkte en buigsaamheid betref, verskil rubber ook. Dit is daarom baie belangrik watter mengsel (of “resep”) vir jou band gebruik is.
Verskeie byvoegings speel ’n rol in hoe goed (of sleg) jou band in die veld vaar. Hierdie byvoegings (of die proses om dit egalig by die bandmengsel te voeg), is egter duur. Daarom raak die koste en posisionering van die band in die mark ’n belangrike oorweging vir die vervaardiger. Sommige vervaardigers is heeltemal tevrede daarmee dat hulle band nie die sterkste op die mark is nie omdat hulle dit as ’n kostedoeltreffende alternatief (met goedkoop bestanddele) kan bemark.
’n Goeie voorbeeld van ’n duur byvoeging is koppelsilika (“coupled silica”). Hoewel silika ’n aansienlike verbetering in die verrigting van veldrybande veroorsaak, verkies vervaardigers soms om dit nie by te voeg nie omdat dit duur is en moeilik is om dit egalig deur die rubber te meng.
Wat is so wonderlik aan silika? Die meeste laegehalterubbersamestellings het ’n hoë terugspringvermoë. As jy ’n soliede rubberbal omtrent op kophoogte laat grond toe val, gaan die bal feitlik net so hoog terughop – kom ons sê tot op 70% van die oorspronklike hoogte. As jy silika in die samestelling van die bal gebruik, sal die terugspringvermoë moontlik gehalveer word.
Vir ’n bestuurder beteken dit ’n paar dinge: beter kontak met die pad, minder bons, minder wrywing, beter vastrapvermoë en meer kilometers.
Volgende maand kyk ons in diepte na die bou van die karkas en die vragdravermoë, en waarom dit belangriker is as wat 4x4-bestuurders dalk besef.
Intussen, stuur gerus jou bandnavrae na marketing@ tyrelife.co.za of gaan na die webwerf www.tyrelife.co.za vir kundige raad. Groete. Die TyreLife-span