Skouspelagtige Lesotho
Sien die Sanipas, Katsedam, die Maletsunyane-waterval en Thaba Bosiu op ’n ses dae lange toer saam met Weg Ry & Sleep-toere en Bhejane 4x4 Adventures. Jy is agter die stuur van jou eie voertuig
DAG 1
Ons avontuur begin in Himeville, KwaZulu-Natal, waar ons by die Stone House Café bymekaarkom. Die res van die dag bring ons deur met ’n rit teen die ontsagwekkende Sanipas uit. Nadat ons deur die Suid-Afrikaanse grenspos is, eet ons ’n piekniekmiddagete en wentel op ons tyd teen die pas uit. Op die kruin gaan ons Lesotho binne.
Ons blyplek vir die nag is die knusse Sani Mountain-lodge op die rand van die Drakensberg. Die lodge bied verruklike uitsigte oor KwaZulu-Natal.
DAG 2
Ons roete na die Katsedam neem ons oor die hoogste paaie in Suider-Afrika. Ons steek die Senqurivier oor (wat die Oranjerivier word wanneer dit Suid-Afrika binnegaan).
By Katse bly ons in huise met ’n uitsig oor die dam. Ons eet aandete in die restaurant en ons ontspan ná ’n wonderlike dag lange rit.
DAG 3
Ná ’n groot ontbyt gaan ons op ’n begeleide toer van die Katsedamwal en kom ook meer te wete oor die Lesotho Hoogland-waterprojek. Daarna ry ons ’n 4x4-sirkelroete om die dam, met middagete op pad, en keer laatmiddag terug na ons blyplek.
DAG 4
Ons ry bergpasse soos die God Help Me- en Blue Mountain-pas. Ons sien ook die Mohaledam, wat deel is van die waterprojek. Laatmiddag arriveer ons op die dorpie Ramabanta, waar ons vir die volgende twee nagte by die Trading Post-lodge sal bly en bederf word met lekker tuisgemaakte kos.
DAG 5
Vandag neem ons dit rustig. Ons besoek die Maletsunyane-waterval by Semonkong waar die water 192 m ver teen ’n krans afstort.
Ons eet ’n piekniekmiddagete en keer na die lodge terug om te ontspan. In die omgewing is lieflike wandelpaaie en ook ’n geleentheid om perd te ry.
DAG 6
Ná ons laaste groot ontbyt saam kies ons koers in die rigting van Maseru, hoofstad van Lesotho. Van hier af ry ons om Thaba Bosiu en groet mekaar dan vir oulaas by die besoekersentrum na aan die Maserubrug-grenspos. Daarna slaan elkeen sy eie koers in.