4x4-BESTEMMING ’n Nuwe toer deur Bhejane 4x4 Adventures verken die unieke bewareas by die see weerskante van die grens tussen SuidAfrika en Mosambiek. Ons ry saam om skugter olifante, skaars voëlsoorte en eierlêende seeskilpaaie te soek.
’n Nuwe toer deur Bhejane 4x4 Adventures verken die unieke bewareas aan land en see weerskante van die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek. Ons ry saam om skugter olifante, skaars voëlsoorte en eierlêende seeskilpaaie te soek.
Die noordoostelike hoek van KwaZulu-Natal is ’n unieke plek. Die kuslyn van 220 km tussen St. Lucia en Kosibaai val onder die beskerming van die iS i manga lis o-vleiland park, Suid-Afrika se eerste Wêreld erfenis terrein. iSimangaliso beteken in Zoeloe “wonderwerk” en die gebied is inderdaad propvol unieke verskynsels. Welige kuswoude omring varswatermere vol krokodille en seekoeie, terwyl ongerepte strande die enigste plek in die land is waar seeskilpaaie hulle eiers kom lê.
Die seewaters aan dié stukkie kuslyn is van die land se gewildste duikbestemmings omdat koraalriwwe oorvloedig is. En nie ver van hier af nie kry jy die Tembe-olifantpark, waar die ou grootvoete van die grootste tande op die vasteland het.
Interessant genoeg is daar ’n sterk ooreenkoms tussen dié landreuse en die seegediertes: Albei se habitat strek noordwaarts oor die grens tot in bewareas in die suide van Mosambiek. As jy ’n ordentlike vakansie – met wildkyk én strande – wil aanmekaarslaan, is dit >
dus ’n puik idee om die suidelike deel van Mosambiek by jou reisplan in te sluit.
Dít is presies wat die ouens van Bhejane 4x4 Adventures gedoen het op hulle nuutste toer, die Suidelike Mosambiekse Bewaringskorridors. As ’n mens ’n uitnodiging kry om dié reis mee te maak, laat jy dus nie op jou wag nie, want dit is beslis ’n emmerskoplys-bestemming.
Grootvoete en viskrale
Die toergroep, wat drie voertuie en ses avontuurlustige siele sterk is, kry mekaar op ’n bewolkte Sondagmiddag by die Kosibaai-kampterrein op die rand van die Kosimeer. Die Bhejane-span het reeds die tente en kampkombuis opgeslaan en langs die kampvuur staan ’n koffiepot en prut. Almal het ’n lang dag se ry agter die rug, en nadat die toerleier, Riaan Haasbroek, almal verwelkom het, word daar oor aandete gesels oor die toer wat voorlê.
Die eerste twee aande kamp ons by die Ezemvelo Kosibaai-kampterrein voor ons oor die grens koers kies, deur die Maputo- spesiale reservaat ry en vier aande by Santa Maria aan die Mosambiekse kus kamp. Die laaste aand van ons toer kamp ons langs die see binne die Maputo- spesiale reservaat.
Die volgende oggend val ons vroeg in die pad en mik na die Tembe-olifantpark, sowat 40 km wes van Kosibaai. Teen 300 km² is Tembe ’n relatiewe klein reservaat, maar dis ’n goeie ding as jy wil wildkyk, want jy kan die meeste van die roetes binne die park binne ’n dag kafdraf. Hier is ook nie teerpaaie nie; dus sal jy bande moet afblaas om sandpaadjies baas te raak. Die reservaat het die Groot Vyf, voëls is volop (sowat 340 spesies), en as jy fyn kyk, sien jy dalk ook die piepklein bokkie die soenie hier.
Die plantegroei in Tembe is baie ruig en kan wildkyk moeilik maak. Maar die voëlskuilings langs die panne in die park is puik en die kans is so te sê 100% dat jy olifante gaan sien. Pak ’n fles koffie, bring jou langlenskamera en verkyker, en mik vir die Mahleselapan. Teen laatoggend kry ons onmiddellik 14 olifante met troppe njalas en rooibokke wat tussenin hulle dors kom les.
Ná middagete mik ons vir die Kos i riviermonding. Hier is nóg’ n unieke verskynsel: die tradisionele viskrale van die Tsongas wat al meer as 700 jaar in die
gebied visvang. Nog’ n twee spoor sandpaadjie–blaas maar weer bande af–lei ons na ’n uitkykpunt op ’n heuwel van waar jy die krale duidelik kan sien. Die vis word met behulp van die getye vasgekeer. Voordat ons terug kamp toe mik, gaan maak ons ook ’n draai op die strand, ’n wye ongerepte beskermde strook sand waar min mense kom. As jy noordwaarts stap, is jy gou-gou in Mosambiek, maar ons het ongelukkig nie ons paspoorte by ons nie...
Tuiste van die oorlogsveterane
Die volgende oggend kom almal wel paspoort in die hand bymekaar, want vandag gaan ons oor die grens. Die Kosibaai-grenspos kry deesdae meer verkeer as in die verlede vanweë die nuwe teerpad tussen die grens en Maputo (en ook ’n verbinding tot in Ponta do Ouro), maar ons gaan nietemin sonder moeite oor en hou sowat 48 km noord tot by die westelike hek (Futi) van die Maputo- spesiale reservaat van 1 040 km².
Dié reservaat met sy pragtige kombinasie van vleilande, mere, grasvelde, moeraswoude en strande vorm ’n belangrike deel van die Lubombo-oorgrenspark tussen Mosambiek, SuidAfrika en Swaziland. Die Maputo- spesiale reservaat word deur middel van die Futi-korridor met die Tembe-olifantpark verbind in ’n poging om die migrasieroetes van wild te herstel nadat jare >
Pak ’n fles koffie, bring jou langlenskamera en verkyker, en mik vir die Mahleselapan. Teen laatoggend kry ons onmiddellik 14 olifante.
se burgeroorloë en stroping verwoesting gesaai het in die streek. Aan die kuslyn is daar planne om die reservaat uiteindelik met die Ponta do Ouro-reservaat en iSimangaliso te verbind om een aaneenlopende mariene bewarea te vestig. Meer as 4 000 diere is reeds in die park hervestig en sowat 400 olifante wat die oorlogsjare oorleef het, sterk goed aan. Hulle bly egter nog lugtig vir mense en voertuie; dus gaan jy hulle nie sommer van naby te sien kry nie.
Ons blaas weer bande af by die ingangshek van die reservaat, want die roetes binne is net vir veldryers. Ons kry ook netjiese kaarte wat die roetes, ruskampe en piekniekplekke aandui, hoewel die meeste van die geriewe nog besig is om ontwikkel te word. Daar is wel reeds een vyfsterlodge by Anvilbaai, met verdere lodges, selfsorgruskampe en 4x4-kampterreine wat nog ontwikkel word. In die nabye toekoms sal jy ook staproetes in die park kan aandurf, die mere in ’n kano en die kuslyn in seekajakke kan verken, én snorkelduik en bergfietsry.
Die Maputo- spesiale reservaat is besonder mooi, en al is die diere yl gesaai, maak net die landskap al jou besoek die moeite werd. Ons sien wel troppe olifante op ’n afstand terwyl hulle water drink in ’n vleiland, heelwat rietbokke, seekoeie in die mere, en hier en daar vlug ’n rooiduiker wanneer hy ons konvooi sien. Die park het ook kameelperde, sebras en blouwildebeeste, maar vandag ontduik hulle ons.
Ons bestemming vir die aand is Bemugi’s Place net buite die klein dorpie Santa Maria aan die oostelike oewer van Maputobaai. As jy nie van die hoofstad af per boot oor die baai wil reis nie, is die sandpaaie van die reservaat die enigste manier om tot hier te ry. Gelukkig is dit nie ver nie (die kortste roete van die reservaat se ingangshek af is sowat 70 km) en dit gee jou oorgenoeg tyd vir wild- en voëlskyk terwyl jy noordwaarts vorder.
Ná al die sandryery is ons niere dankbaar toe ons laatmiddag die kampterrein by Bemugi’s Place binnery. Gelukkig brand die vuur klaar, ’n pot moerkoffie prut en ons tente staan al.
Koraalriwwe, watervoëls en R&R’s
Soos dit hoort met elke goeie vakansie, moet ’n mens darem die ryery balanseer met ’n klompie aande se stilsit op een plek. Bemugi’s is ons slaapplek vir die >
volgende vier aande. Stilsit is nie heeltemal die regte woord nie, want hier is baie in dié geweste om ons besig te hou.
Bemugi’s is naby die verste punt van die Machangulo-skiereiland aan die suidoostelike kant van Maputobaai. Noord van die skiereiland lê Inhaca, ’n eiland wat van die vasteland geskei word deur Hell’s Gate, ’n smal en diep kanaal wat met elke getyverandering die baai met seewater voer. Met laagwater is die water só laag in die baai dat jy byna ’n kilometer op die sand kan uitstap tussen daus, vissersbote en skibote wat soos verwaarloosde speelgoed in ’n sandput lê.
Die wortelboommoeras voor Santa Maria is teen laagwater ontbloot en jy kan tussen dié aardige bome gaan stap en kyk hoe honderde wenkkrapmannetjies hulle een groot knyper in die lug waai, so amper asof hulle sê: “Kom hier!” Dit lyk vreeslik verwelkomend, maar as jy nie ’n krapwyfie is nie, is dié waaiery nie vir jou bedoel nie.
Met hooggety kan jy in Inhaca-eiland se baai met ’n kano tussen die wortelboommoerasse roei. Dis ’n aardige gevoel om tussen boomtakke deur te roei, maar ook ’n unieke manier van voëlskyk, omdat jy veral watervoëls stilletjies kan bekruip. Ons groep kom binne enkele meters van duikers, reiers en pelikane en sien selfs hoe ’n swerm flaminke voor ons kano’s oor die water hardloop terwyl hulle lomperig probeer opstyg.
Hoogwater maak dit ook moontlik om oor koraalriwwe in Inhacabaai te snorkelduik. Bemugi’s maak ’n daguitstappie daarvan en vat ons met ’n boot oor na die eiland. Hulle slaan sambrele, stoele en ’n mini-kroeg op die strand op en deel snorkelduik toerusting uit. Wanneer die gety op sy hoogste is, vat die boot ons uit na die koraalriwwe waar ons soos gemaskerde hemelwesens onder die water oor ’n aardige seelandskap sweef. Onder lê hengse seekomkommers soos luislange >
Met laagwater is die water só laag in die baai dat jy byna ’n kilometer op die sand kan uitstap tussen daus, visserbote en skibote.
SOOS DIE LOCALS DIT DOEN
In Santa Maria is daar oorgenoeg tyd om die dorp te verken (regs bo), nuwe vriendinne te maak (bo), ’n dau-konstruksiewerf en jetty te besoek (onder en regs) en natuurlik seekos en R&R’s (links onder) te drink. Die laaste aand kamp jy wild (heel links) in die Maputo- spesiale reservaat (links bo). tussen helderblou en -groen koraaltuine, hermietkrappe skarrel verby seesterre groter as jou hand, en elke tweede vis lyk asof hy ’n kleurryke haute couturemodeuitrusting dra.
In die loop van ons tyd by Bemugi’s gaan maak ons ook ’n draai by die skeepswrak van die Blue Wave aan die seekant van die skiereiland en stap die steil opdraande na ’n uitkykpunt oor die ganse Maputobaai om te kyk hoe die ondergaande son die skadubeeld van die hoofstad in die verte in ’n dieporanje gloed dompel. Bemugi’s het ook ’n restaurant waar ons weglê aan vars tunacarpaccio, garnale, calamari en dorado, en in die kroeg vind ons uit wat ’n 2M en ’n R&R is.
Dis moeilik om al dié dinge agter te los, maar ná vier nagte in dié paradys draai ons weer suid en ry in ons spore terug na die Maputo- spesiale reservaat. Gelukkig wag daar nog een verrassing op ons...
’n Besonderse afsluiting
Vir die laaste aand van die toer kamp ons met die spesiale vergunning “wild” langs die see by Ponta Dobela, een van die plekke in die Maputo- spesiale reservaat wat vir die ontwikkeling van ’n ruskamp geoogmerk is. Dis net sowat 60 km van Santa Maria af en ons het dus oorgenoeg tyd om eers vroegoggend ’n draai te gaan maak by die jetty, ’n markie op die dorp en ’n werf waar daus met die hand gebou word.
Maputobaai se daus is nie net ikonies nie, maar speel ’n belangrike rol in die ekonomie, want dié tradisionele seiljagbote vervoer enigiets van sement tot voertuie heen en weer oor die baai. Die sandpaaie waarmee ons deur die natuurreservaat tot hier gery het, is die enigste alternatief en uiteraard nie baie bruikbaar vir kommersiële vervoer nie.
Die Bhejane-ondersteuningspan is weer vooruit om te gaan kamp opslaan en dit gee ons die res van die dag tyd om op ons tyd wild te kyk soos ons weer suidwaarts deur die Maputo- spesiale reservaat vorder. Dié slag kry ons weer olifante, rietbokke en ’n paar rooiduikers – en sien selfs ’n olyfbyvreter wat nie gewoonlik in dié gebied voorkom nie.
Ons kampplek is teen die see, en ’n geniepsige wind bly heelaand pluk >
aan die tente. Dit is egter ’n skitterende ligging, en ons almal hou duim vas ons toer word op ’n hoogtepunt afgesluit: om ’n seeskilpad te sien eiers lê. Dis iets wat gewoonlik saans plaasvind, maar in hierdie wind is niemand eintlik lus om in die donker op die strand op en af te loop nie. Pleks daarvan gaan stap ons net voor sononder ’n draai, en dis toe dat ons haar sien: ’n moeder-seeskilpad kruip uit die see om haar eiers op die strand te kom lê.
Vir die volgende twee uur hou ons haar van ’n afstand af dop en kyk hoe sy ’n plekkie bo die hoogwatermerk uitsoek, die moeisame proses begin om ’n gat van ’n halwe meter diep te grawe en uiteindelik die gholfbalgrootte eiers lê. Dit is ’n sonderlinge gebeurtenis om dop te hou, veral in dié ongerepte en verlate plek waar die strand in die sagte pienk en orange lig van die ondergaande son gehul word.
As jy hierdie toer saam met Bhejane 4x4 Adventures wil meemaak, bel 044 535 9033 of stuur ’n e-pos na bookings@bhejane.com.
Dis egter ’n skitterende ligging, en ons almal hou duim vas ons toer word op ’n hoogtepunt afgesluit: om ’n seeskilpad te sien eiers lê.