MIC SE RUBRIEK
Goeie padmaniere en algemene w ets gehoorsaamheid het ’n laagtepunt bereik – en daar is verskeie redes hiervoor, sê Mic van Zyl.
Weens die aard van my beroep het ek die afgelope 30 jaar ’n hele klompie kilometers op ons land se paaie afgelê. Anderdag het ek vinnig sommetjies gemaak en besef ek was meer as twee miljoen kilometer agter die stuur van een of ander voertuig.
Vir ’n tydperk van omtrent agt jaar het ek elke jaar 100 000 km gereis – dit kom neer op rofweg 385 km per werkdag. In dié tyd het ek meer as genoeg lelike voorvalle langs die pad gesien en ook ’n klompie noue ontkomings gehad.
Ek het óók tot die besef gekom goeie padmaniere en algemene wetsgehoorsaamheid het ’n laagtepunt bereik.
Daar is verskeie redes hiervoor. Die vinnige groei in die middelklas van ons samelewing het gelei tot ’n groeiende aantal voertuie op ons paaie, veral in stedelike gebiede. Die grootskaalse migrasie deur mense van landelike gemeenskappe na stede waar hulle geleenthede soek om hulle lewensgehalte te verbeter het ook tot gevolg dat meer mense in dié stedelike gebiede daagliks van punt A na punt B moet reis. Hierdie hoër aantal mense en voertuie lei dus noodgedwone tot groeiende vlakke van verkeersopeenhopings op ons paaie.
WEENS DIE vinnige ontwikkeling in die tegnologie en kommunikasie speel ons lewe teen ’n dolle vaart voor ons oë af. Dit is eintlik verstommend hoe maklik en moeiteloos ons deesdae inligting kan bekom. Dit het ons weerstand verlaag teen dinge wat buite ons beheer is, en nêrens is dit meer sigbaar as op ons paaie nie.
Hoe mense bestuur en die algemene ongeduld met medepadgebruikers laat my soms sprakeloos. Dit wil voorkom of daar ’n duidelike tekort aan basiese bestuursvernuf is, veral onder die nuwe geslag padgebruikers.
Wat kan ons doen om dit reg te stel? Dít is die vraag wat natuurlik by ’n mens ontstaan, maar in ons land blyk dit nie maklik te wees nie. Ek sou selfs so ver gaan as om te sê dit is haas onmoontlik.
Een van my vriende is die hoof van ’n bestuurskool, en volgens hom is ons regering nie sy sout werd wanneer dit by basiese bestuursopleiding kom nie. Hy reken dit is geheel en al in die private sektor se hande.
Daar is ook ander faktore wat bydra tot die probleem. Die polisiëring van swak en gevaarlike bestuurders is pateties en ek kry die idee die verkeerowerheid is oorweldig. Ongelisensieerde en onwettige bestuurders is oral en daar is groot kommer oor onpadwaardige voertuie op ons paaie. ’n Funksionele openbare vervoerstelsel sou help om die verkeersdruk te verlig, maar dit is in hierdie stadium niks meer as wensdenkery nie.
Mense sonder toegang tot private of openbare vervoer word aan die genade van minibustaxi’s oorgelaat, en dié ouens is blykbaar verhewe bo die wet...
EK EN JY kan op ’n persoonlike vlak begin om ’n klein verskil te maak. As jou kinders gereeld saam met jou in die kar is, gaan hulle mettertyd jou goeie – én slegte – gewoontes aanleer. Ek het begin om deurgaans bewus te wees van my gedrag op die pad wanneer klein Michael saam met my in die trokkie is. Dit het nou tweede natuur geword, selfs wanneer hy nie saamry nie.
Hoe meer ons met verantwoordelikheid en hoflikheid optree wanneer ons bestuur, hoe groter is die kans dat ons soortgelyke optrede by die volgende geslag bestuurders gaan laat posvat. Ja, jy het geen beheer oor hoe mense optree nie, maar jy kan wel jou reaksie beheer.
Vra jouself wat my oupa ons altyd as kannetjies gevra het: “Waar is jou maniere?”
Dit het ons weerstand verlaag teen dinge wat buite ons beheer is, en nêrens is dit meer sigbaar as op ons paaie nie.