SÓ LYK MY VUURHOPIE
Die artikel oor die braaibrikette in Weg Ry & Sleep se Desember-uitgawe laat my terugdink aan ’n vakansie in Amanzimtoti teen die einde van 1997. Ek en twee vriende, Jacques en Cois Beukes, het die einde van ’n harde jaar op universiteit in die KwaZulu-Natalse kus afgesluit.
Die woonstelblok waar ons gebly het, het ’n gemeenskaplike braaiplek, en elke aand het die manne nader gestaan met braaibakke, -tange en -roosters, ’n koelboks en, uit die aard van die saak, daardie kenmerkende swart Charka-sakke. Dit was die dae vóór hordes briket-opsies en droë hout in daardie deel van die wêreld.
Ons drie jongeres het lekker gesels met die “ooms” (destyds se jong pa’s, soos ons vandag) wat nie kon wag om ’n bietjie ’n blaaskans van die kinders te kry nie. Hulle wou weet of die meisies nog so mooi is op universiteit, of die partytjies nog so wild en die koshuisrugby nog so taai is soos in hulle dae. En laat ons nou een van hulle net “oom” noem...
So staan een oom een aand nader toe ons ’n bietjie sukkel met die vuur. Ons blikkies bier en worsrolletjies het sleg afgesteek teen sy bottel whisky en dík steaks, maar om die braaivleisvure was ons gelyk. En hy wou ons help, want daardie studentemae moes vol vóór ons die nagklubs kon invaar.
Toe leer hy vir ons hierdie truuk: Pak jou kole in ’n netjiese piramide en maak seker daar’s ’n kraan naby vir die swart hande. Los ’n klein “nessie” heel bo. Dis waar die stukkie vuuraansteker so groot soos ’n hotelsepie pas. Steek dit nou aan die brand en skink nog enetjie.
Om die een of ander onverklaarbare rede – ek weet nie of ek iets in my wetenskapklas gemis het nie– brand daai hopie kole pragtig van bo af deur en daar is geen gesukkel om onder in te kom met jou aansteekvlam of brikette rond te skuif nie. Dis nou 21 jaar later en dit bly een van my gunstelingbraaivuurtruuks as jy nie braaihout het nie.