Wil jy régtig ’n woonwapark koop?
Ja, dit klink na pret om jou eie woonwapark te bedryf. Maar daar is ’n klomp dinge wat jy moet oorweeg, sê Neels van Heerden.
Oor die Desembervakansie het jy twee of drie weke van jou jaarlikse verlof by ’n woonwapark êrens in ons beeldskone land deurgebring en dit gate uit geniet. Dan begin jy wonder... jy tel die aantal staanplekke en vermenigvuldig dit met die tariewe wat die oord oor spitstye vra. Dan vat jy daardie getal en maal dit met twaalf, vir elke maand in die jaar, en dit gee jou ’n astronomiese bedrag. Ja, dit klink na hope pret om ’n woonwapark te besit.
Dit is egter nie so eenvoudig nie. Jy kan nie heeljaar spitstydtariewe vra nie, en jy het ’n span werkers nodig om ’n woonwapark suksesvol te besit en bestuur. Hulle moet sterk administratiewe vaardighede hê én rekenaarvaardig wees. Trouens, hulle moet eintlik iets van alles kan doen.
’n Woonwapark se basiese infrastruktuur het ’n lewensduur van nagenoeg 25 jaar. As jou kampterrein in daardie tyd nie gereeld opgeknap is nie, of as jy nie van plan is om binnekort op te knap nie, loop jy die gevaar dat jou woonwapark nie net bouvallig en afgeleef raak nie, maar jy gaan ook meer gereelde onderhoud en opgradering moet doen aan dinge soos loodgietery, die rioolstelsel en elektrisiteitstoevoer.
DIE MEESTE woonwaparke in Suid-Afrika voldoen aan die verwagtinge van hoofsaaklik middeljarige klante, en die grootste uitdaging is om woonwaparke te bou of herbou met die oog op ’n jonger geslag met ander smake.
Vóór jy dus besluit om ’n pakket te vat en ’n woonwapark te koop, kom ons kyk na ’n lys van dinge wat van jou verwag word as jy ’n kampterrein besit:
•Jy is verantwoordelik vir algemene huishouding, wat insluit die skoonmaak van ablusieblokke, opwasgeriewe, kampkombuise en enige ander geriewe.
•Jy moet die besprekings hanteer en seker maak die administrasie van die oord verloop deurgaans seepglad.
•Jy groet die gaste wanneer hulle aankom en moet in staat wees om enige tyd van die dag of nag hulle betalings – kontant óf met kaart – te ontvang.
•Jy moet die kampterrein, tuin, swembad(dens), staanplekke en speelplekke onderhou.
•Jy is verantwoordelik vir alle onderhoudstake soos verfwerk, elektriese herstelwerk, loodgieterswerk en die verwydering van vullis.
•Jy moet beskikbaar wees om hand by te sit in die winkel of kafee of by ander geriewe.
•Jy moet vir jou gaste inligting gereed hê oor plaaslike besienswaardighede en plekke wat hulle kan besoek.
•Jy is verantwoordelik vir ontspanningsaktiwiteite by die oord – die reël én uitvoering daarvan. INDIEN JY steeds oortuig is dit is iets wat jy wil doen, moet jy ook die volgende in ag neem: ’n Woonwaparkeienaar is sewe dae per week dag en nag op bystand en daar word van jou verwag om oor naweke, op openbare vakansiedae en in spitstye lang ure te werk.
Die meeste van jou werk word buite verrig, in enige weersomstandighede.
Stel jou vinnig die volgende voor: Dit is tienuur op ’n Saterdagaand. Dit stortreën en dis koud en aaklig buite. Die woonwapark is stampvol en die ablusieblok se hoofwaterpyp het gebars. Daar is nie ’n manier hoe jy voor Maandagoggend ’n loodgieter in die hande gaan kry nie. Wat doen jy?
Jou enigste opsie is om jou graaf te gryp en te begin grawe. Maar terwyl jy daar buite op jou eie is, koud en mismoedig, weet jy voor jou siel jou tussentydse oplossing – wat basies ’n hele rol boereband behels – gaan nie die pyp rook nie.
Die volgende oggend staan ’n skare ontevrede kampeerders voor jou deur. Sommige wil selfs hulle geld terughê, terwyl die res reeds besig is om jou op sosiale media sleg te sê.
En dan onthou jy dat jy nog die loodgieter moet laat kom en jy weet sommer dit gaan ’n groot deel van jou wins kos om daardie pyp reg te maak.
Praat van geld sommer in die water gooi...
Sommige wil selfs hulle geld terug hê, terwyl die res reeds besig is om jou op sosiale media sleg te sê.