Weg! Ry & Sleep

Het jy hare op die tande?

-

Wanneer hy nie sy brood en botter as eiendomsag­ent verdien nie, pak Dries Dreyer van Theresapar­k in Pretoria sy tas en gaan verken die res van Suider-Afrika.

“Ons was deel van ’n toergroep wat in Botswana met Hunter’s Road langs tot bo by Kasane gery het. Die ouens was nogal skepties oor my Hyundai ix35 en die Skipper Ranger wat ek gesleep het. Maar my sleepkombi­nasie het die pyp gerook en ons het dit tot in die Chobe-reservaat gemaak. Daar het ons met ’n aluminiumb­ootjie tot by die Sedudu-eiland gevaar – en dít is waar ek dié foto geneem het. Die fyn detail – soos die hare langs die tand – is vir my treffend en sorg vir ’n interessan­te foto.”

Hoewel dit ’n kleurfoto is, lyk Dries se foto basies swart-en-wit, en omdat daar nie kleur is nie, maak die geheelbeel­d merendeels staat op detail en komposisie.

Die olifant is só naby afgeneem dit voel omtrent of hy sy tand in jou oog druk. ’n Mens verwag so iets van fotograwe met lang lense, maar Dries wys hier jy kan ook met beskeie toerusting ’n treffende foto neem.

Met die eerste oogopslag lyk dit bloot na ’n foto van ’n olifanttan­d. Die tand is wel die fokuspunt, maar danksy die res van die detail is daar van hoek tot kant dinge wat jou oog tref. Die diagonale lyn van links onder na regs bo sny die foto in twee. Dit sorg outomaties vir diepte – ’n slim komposisie-element wat deur die fokuspunt strek. Dis ook op hierdie lyn waar ’n mens die hare sien. Ook die plooie in die vel sorg vir ’n verdere vlak op die foto.

Wanneer ’n mens nóg nader kyk, sien jy die klein spikkeltji­es op die olifant se vel. Dit is iets wat jy gewoonlik waarskynli­k nie sou oplet nie, maar danksy Dries se foto kan ’n mens opnuut weer die mooi van die natuur waardeer.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa