Môre is nóg ’n dag
Nuwe voertuie het raakskerms híér en sensors dáár, maar Cyril Klopper wonder of daardie katoeters oor 30 jaar nog gaan werk.
Dit is die jaar 2049, Februariemaand, en die reën val hard oor Kaapstad. Die weerburo se voorspellings is alwéér ver buite die kol. Of dalk raak die weerpatrone jaarliks net al hoe meer deurmekaar.
Voetgangers skuil onder balkonne en oorhange van kantoorgeboue, belig deur flikkerende neontekens in die andersins grou laatmiddaglig. Ek trek my baadjie se kraag styf teen my nek vas, steier oor Patricia de Lillestraat en kies kortpad deur die China-basaar se parkeerterrein.
Ek onthou die dae toe die Chinabasaar nog die Kunstekaap-teater was. Dié parkeerterrein was destyds ’n breë plein waaroor deftiggeklede teatergangers gestap het om na Pieter Toerien se jongste toneelstuk te kyk. Dit voel soos ’n leeftyd gelede en die surrealistiese standbeelde en gesnoeide boompies is vervang met rye tweedehandse voertuie en ’n halte vir selfrybussies.
Die mark vir tweedehandse voertuie is gesond in Afrika, ondanks die wêreld (en veral Europa) se aandrang dat alle ou – onveilige – voertuie verbied moet word.
Binne die China-basaar heers ’n soort georganiseerde chaos. Die vuil marmervloer word vertrap deur honderde mense wat tussen die winkeltjies en stalletjies maal, almal op soek na katoeters uit die verlede. Daar is selfs ’n stalletjie wat platespelers verkoop, want langspeelplate is stééds in gebruik. Wie sou dít nou ooit kon voorspel?
Die meeste mense kry egter hulle musiek deur Callista, Google se ontasbare kunsmatige intelligensie wat in die eter woon en ongesiens besig is om ons samelewing te beheer. By ’n radiostalletjie is daar tientalle helderkleurige kartonbokse op die rakke agter die tegnologiesmous.
Op elke boks is daar ’n foto van ’n ou motor se instrumentepaneel.
Ek is hier om ’n nuwe raakskerm te koop vir my 2021-model Mitsubishi Pajero. Dis ’n stokou ryding, veral gemeet aan vandag se standaarde, maar ek was nog altyd gaande oor hulle. My Pajero se raakskerm het verlede week opgepak en nou kan ek nie meer die lugreëling verstel nie. Dit klink dalk na ’n geringe saak, maar in die 2021-model is omtrent ál die fisieke knoppe deur ’n raakskerm vervang, en die verdomde lugreëling haak nou vas op 28 ºC. Dit help nie om Mitsubishi te nader nie, want hulle vervaardig nie meer hierdie katoeter nie. Hulle bou, terloops, ook nie meer motors nie.
Dis ’n algemene soort kwaal met voertuie wat tussen 2000 en 2030 gebou is: Motorvervaardigers het allerlei rekenarisering in motors gesit sonder enige nadenke om ooit die programmatuur daarvan op te dateer. Op dié manier het hulle jou gedwing om ná elke vyf jaar, sodra die katoeters begin ingee, ’n nuwe ryding te koop, of na ’n dienssentrum te gaan waar tegnici die katoeters met spe-
siale skootrekenaars kon “herstel” – ten duurste, natuurlik.
Die kortsigtige najaag van wins het daartoe gelei dat mense nie meer kans gesien het om nuwe motors te koop nie. Eienaarskap van private voertuie het boonop dramaties gedaal nadat die aarde se klimaat, en daarmee saam die ekonomie, in ’n chaos verval het. Voertuie was skielik onbekostigbaar en die finale spyker in die doodskis van die private ryding was die opkoms van kunsmatige wesens soos Callista wat mettertyd openbare vervoerstelsels oorgeneem het.
Meer as 90% van pendelaars gebruik Uber of Callista se selfryvoertuigdienste – niemand durf praat oor wat met die minibustaxi’s gebeur het nie... Dis net kontrakteurs en mense soos ek wat op die platteland woon wat nog private rygoed besit en bestuur.
Die smous maak sy keel skoon en ek ruk my los uit my neerslagtige gedagtes. “Ek soek ’n raakskerm vir my 2021 Mitsubishi Pajero,” sê ek terwyl ek die rakke agter hom fynkam.
“Niks van daai nie,” antwoord hy taamlik ongeërg.
“Maar jou webblad sê jy hét voorraad,” sê ek mismoedig. Hy grinnik vir my oudmodiese internet-terminologie. “Vat dié Genesis-raakskerm. Hy’s óók 12 duim groot en jy kan Mitsubishi-programmatuur op hom laai.” Ek tik die hoek van my slimfoon teen syne om die transaksie te beklink en verlaat die Chinabasaar met die kartondoos onder my arm.
Dis donker buite. Die reënvlaag het bedaar en ek mik na Adderleystraat om kitskos te koop voordat ek terugkeer na my huis op Hopefield. Batteryaangedrewe selfrybussies suis verby op nat teerpaaie; hulle gedempte elektriese enjinklanke word aangevul deur kamma-enjingeraas wat deur weggesteekte luidsprekers uitgesaai word sodat voetgangers kan hoor as een nader kom.
Meer as 90% van pendelaars gebruik Callista se selfryvoertuigdienste – niemand durf praat oor wat met die minibustaxi’s gebeur het nie...
OP DIE HOEK van D.F. Malan- en Zackie Achmat-straat staan ’n nuwe Jaguar Chennai. Dis ongewoon om private voertuie, veral nuwes, in die stad te sien. ’n Ontstoke vrou skop aan die peperduur motor se voorwiel, draai om en leun moedeloos teen die deur. “Is alles reg?” vra ek. Sy kyk my vol agterdog aan, maar haar liggaamshouding versag tog.
“Ek kan nie in my motor kom nie,” antwoord sy. Ons staan skouer aan skouer en kyk na die spoggerige ryding. Ek wil haar aanraai om die bystand-metaalsleutel uit die afstandbeheer te trek om die elektroniese sluitstelsel te omseil, maar dié motor hét nie ’n standaardslot nie. “Is jou slimfoon gelaai?” vra ek. Sy wys na die skermpie en alles lyk in die haak. “Hy wil ook nie my vingerafdruk lees nie. Callista het die kar se neurale netwerk ondersoek, maar sy kan nie die fout opspoor nie.”
Oomblikke later stop ’n leë selfrybussie langs ons en die gerusstellende fluisterstem van Callista sing deur die vrou se slimfoon: “Ek is hier om jou huis toe te neem, Amanda. Tata-Jaguar sal môreoggend ’n nuwe voertuig laat aflewer.”
Dis dan hoe dit is. As iets breek, word dit vervang eerder as herstel. As jy hulp nodig het, kom ’n masjien tot jou redding.
TERWYL EK IN die donker met die N7 terugry Hopefield toe, dink ek aan Amanda en haar Jaguar wat haar nie wou binnelaat nie, en Callista wat haar beter kon help as ek.
Die Pajero se V6-enjin brom vreedsaam en ek swiep verby ’n konvooi geruislose selfrybussies in die linkerbaan. Die konvooi is geprogrammeer om die voorste selfryvoertuig slaafs te volg, slegs sentimeters uitmekaar, en ’n “veilige” spoed van 100 km/h te handhaaf. Die insittendes se strak gesigte word belig deur die gloed van hulle selfoonskerms. Hulle staar na die flieks wat Callista vir hulle gekies het, of lees nuusberigte wat Callista self geskryf het.
Ek glo hierdie mense ervaar ’n diepe tevredenheid. Hulle hoef nie twedehandse onderdele vir hulle outydse tjorre te soek of hulle oor motorpaaiemente te bekommer nie. Hulle het geen bates wat hulle kniehalter nie en hulle word nie gekonfronteer deur onaangename nuus terwyl wetenskaplikes slim plannetjies bedink om ons klimaat te red nie.
Die ruite van my Pajero is afgedraai sodat die lugreëling se warm lug kan uitwaai. Die sweet tap my af, want dit het nie vandag gereën in die Swartland nie. ’n Digitale padteken langs die snelweg pleit dat ek water moet bespaar, en verkondig dat die kwik môre wéér by 40 ºC gaan draai.
As ek môre die Chinese raakskerm installeer, is die kans goed dat hy nie satellietkaarte vir Suid-Afrika gaan hê nie of dat daar spelfoute soos “Check tire presser” op die skerm gaan wees, maar dis oukei, solank ek net die vervlakste temperatuur in die binneruim kan verstel.
Dis beslis nie goedkoop om ’n ou Pajero te onderhou nie, maar meganies gesproke is hy redelik betroubaar – niks wat Wim, die mechanic op Hopefield, nie kan regmaak nie. Ek moet wel elke nou en dan ’n draai by die China-basaar maak om een of ander katoeter te vervang.
Dan dink ek terug aan my eerste ryding: ’n 1988 Volkswagen Jetta wat eers my ma s’n was. As arm Stellenbosse student kon ek self die 1 800-enjin diens. En as die bestuurder se deur nie wou oopsluit nie (wat soms gebeur het), kon ek die sentrale sluitstelsel aan die passasierskant oopmaak. Daar was geen digitale raakskerm wat onklaar geraak het nie, en wanneer die deur se sluitknoppie uitgeskud het (wat dikwels die geval was), kon ek dit met amper enige ander kar s’n vervang.
Die beste van alles is dat hierdie trokkie waarin ek nou ry – nes daai Jetta – heeltemal myne is en dat geen kunsmatige intelligensie beheer oor hom het nie.