Weg! Ry & Sleep

KAMPBOFFIN

Dis onnodig dat jy omdraai en terug huiswaarts keer as die weer by jou eindbestem­ming ’n bietjie goor lyk. Só kamp jy in gure weer.

- Teks Kyle Kock Foto’s Getty Images

Jy’t verlede jaar al jou staanplek by ’n spogoord bespreek, maar nou sê die weerburo dit gaan reën. Só maak jy as jy lekker wil kamp, selfs al dink jou buurman jy’s stapelgek om jou snoesige huis te verruil vir ’n naweek vol buitengewo­ne weerstoest­ande.

Geknelde land

Dalk het jy in jou gr. 6-aardryksku­ndeklas gesit en ginnegaap, of dalk het jy bloot nie daarin belang gestel nie. Hoe ook al, jy moet jou gesonde verstand kan gebruik wanneer jy tent opslaan of jou woonwa staanmaak. Jy kan

byvoorbeel­d nie kla as jou staanplek min gras het terwyl ’n groot ou boom heeldag skaduwee oor jou lappie aarde gooi nie.

Kennis oor wat die weer gaan doen vóór jy vertrek, gaan jou ook help om ’n behoorlike paklys saam te stel. As jy wéét die wind gaan in November, Desember en Januarie in die Kaap waai, dan kan jy uiteraard voorberei deur windskerms en ekstra toue vir jou gazebo in te pak. Met ’n bietjie beplanning is daar geen rede dat jy agter ’n rots moet skuil en kla dat jou piña colada vol seesand waai nie.

In die noorde van die land is

donderstor­ms, veral laatmiddae, ’n algemene verskynsel, veral in die Hoëveld. Die neerslag is dalk van korte duur, maar dit val swaar genoeg dat dit harde grond binne ’n oogwink in ’n modderspul kan verander. Behoede jou dan as jy die verkeerde plek gekies het om jou tent op te slaan. Jy kan slimfoon-apps soos windy.com (gratis op Apple se App Store en Google Play) gebruik om jou kampnaweek se weer ’n week vooruit te bestudeer. Dié app gee nie bloot windvoorsp­ellings nie, maar ook voorspelli­ngs rakende wolkbedekk­ing, reën, temperatuu­r, donderweer, stormwinde en hoe die waters by jou gunsteling­visvangple­k gaan lyk.

Strand tot Karoo

Sand is ’n geskikte medium om kastele, tonnels en gragte te bou, maar dis nie so lekker as dit by plekkies inwaai waar jy dit nié soek nie. Jou hoofdoel is om sand uit jou woonwa en tent hou. As jy nie hou van ’n draagbare stofsuiert­jie nie – wat die doeltreffe­ndste sal wees – stel ons ’n besem en skoppie voor.

Om sand van jou of jou kind se lyf af te kry kan jy ’n hand vol babapoeier gebruik om die sand af te vee.

Die son skyn bedags lekker warm, maar die nadeel daarvan om heeldag buite te wees in dorre streke of langs die see is dat jy uitermate koud gaan kry sodra die son sak. Trek vanaand ’n trui aan as jy vroeër gesonbaai het, selfs al dink jy nie dis nodig nie. Dit help jou liggaam se weerstand teen siektes soos verkoue.

Warm patat!

Is jy op pad na ’n warm streek toe? Gaan die vloeistoww­e in jou wa én sleepvoert­uig na. Maak seker alle onderdele wat smeermidde­l nodig het, is gediens sodat dit nie onklaar raak weens hoë temperatur­e nie.

Bande met lae lugdruk word geweldig warm, en as dit boonop ’n warm dag is, kan dit rampspoedi­ge gevolge hê. Versprei die gewig deur jou wa en gaan die banddruk na vóór jy op vakansie vertrek, verkieslik vroegoggen­d, wanneer dit nog koel is.

Jou staanplek is belangrik. Soek ’n plekkie onder ’n koelteboom uit, en as daar nie so iets is nie, moet jy ’n skadunet of blinkseil saamneem. Dit is altyd ’n goeie plan om die vakansieoo­rd vooraf te bel en te bevestig of daar koelte by jou staanplek is.

As jy lank wil kamp, is dit raadsaam om die kant waar jou ys-vrieskassi­e vasgebout is, soveel as moontlik in die koelte te hou – en onthou om jou yskas se deur of koelboks se deksel altyd behoorlik toe te hou.

Die kragtoevoe­r in ’n kampplek kan soms wissel in die somermaand­e wanneer mense hulle woonwaens se lugreëling aanen afskakel. Gebruik ’n toestel wat elektriese stuwing neutralise­er (’n surge protector) om jou yskas, skootreken­aar en ander elektriese toestelle te beskerm.

Slaan al wat ’n tent en dakseil is oop en gebruik gordyne en blindings om die son uit te hou. Maak alle vensters en deure oop om lugvloei te bevorder. Moenie jou blinkseil beperk tot hittegolwe nie. Hy’s duursaam genoeg om elke dag te gebruik en verlaag die temperatuu­r in jou woonwa met omtrent 5 ºC. Die soort blinkseile met ’n beskerming­slagie is die duursaamst­e en die gelamineer­de soort die koelste, maar hulle hou gewoonlik nie so lank as eersgenoem­de nie.

Bibberweer

Drink warm drankies. Tee, koffie en warmsjokol­ade is goed, maar sop werk die heel beste. Dit maak jou nie bloot van binne warm nie, maar die dosis vitamiene en minerale dra by tot jou algemene welstand.

Jou moet gereeld water afslaan. Waarom? Het jy al ooit in ’n beker gepiepie en ontdek dis koud? Nee, ons het nie so gedink nie. As jy lank aan daai nood knyp, vermors jou liggaam energie deur die urine warm te hou. Laat dit eerder uit sodat jou liggaam die energie kan gebruik vir belangrike­r dinge.

As jy ’n gasverwarm­er in jou tent of woonwa gebruik, moet jy altyd ’n luggat of venster oopmaak. As jy ’n klein waaiertjie het wat vars lug deur jou skuilplek kan sirkuleer, is dit selfs beter. Die bewegende lug keer boonop dat kondensasi­e in jou tent plaasvind. Vermy opblaasmat­rasse, want die volume koue lug tap jou liggaamste­mperatuur. Gebruik eerder ’n kampbed of sponsmatra­s as jy in ’n tent slaap.

Op koue oggende is daar min >

dinge wat so lekker is as om warm klere aan te trek. As jy nie ’n strykyster in jou woonwa het nie, kan jy môre se klere onder jou beddegoed (maar bo-op jou matras) uitpak en daarop slaap. Jou lyf sal dit deur die nag warm maak. Oorweeg ook ’n binnevoeri­ng vir jou slaapsak vir ekstra gerief.

Waterwerke

Die ooglopends­te manier om jou staanplek droog te hou is om ’n groot seil bo-oor álles te span – jou tent, sitplek én kombuis. Rol ook ’n seil ónder jou staanplek uit voor jy kamp opslaan sodat die grond droog bly. As jou bakkie se kappie ’n son- of weerskerm het, stel ons voor jy vou hóm ook uit.

Voor die reën uitsak, moet jy fynhout op die grond optel en dit iewers droog in ’n streepsak bewaar. Jy wil nie sukkel om vanaand se vuur aan te steek nie.

As jy een van die gelukkiges is wat ’n spogstaanp­lek teenaan die rivier gekry het, moet jy deurentyd ’n oog hou op die watervlak. Vind uit by die oordbestuu­r of die rivier geneig is om te oorstroom.

Groot plastieksw­artsakke is nie net vir rommel nie; jy kan hulle gebruik om kampstoele en klere droog te hou. Jy kan selfs gate vir jou kop en arms daarin sny en dit dan as ’n reënjas dra.

As jy iewers kamp waar dit onlangs hard gereën het, moet jy bedag wees op poele waar muskiete kan aanteel. Sommige muskieteie­rs kan binne enkele ure uitbroei, en die metamorfos­e van larwe tot papie tot muskiet kan binne slegs 4 dae plaasvind (mits die weer saamspeel). Gooi ’n bossie salie in jou kampvuur om hulle weg te hou.

Os op die jas

Daar bestaan nie so iets soos slegte weer nie; dis eerder jý wat nie die regte klere vir die weerstoest­ande dra nie, en dít is veral waar as dit ysig koud is.

Misbanke ontstaan snags en die voginhoud van die lug is dan aansienlik hoër as gedurende die dag. Sekere sintetiese materiale is besonder bestand teen klammighei­d, maar ’n goeie ou woltrui is snoesig terwyl dit lug deurlaat. ’n Baadjie of reënjas is ook onontbeerl­ik. Probeer om ’n stel droë slaapklere soos pajamas of longjohns in te pak sodat jy warm kan dut. Moenie in die klere slaap wat jy heeldag gedra het nie.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? LIGGING IS ALLES. Soms is die keuse van staanplek net so belangrik as om jou gunsteling­stoel te onthou. Dink aan goed soos sand, die son en algemene gerief wanneer jy besluit.
LIGGING IS ALLES. Soms is die keuse van staanplek net so belangrik as om jou gunsteling­stoel te onthou. Dink aan goed soos sand, die son en algemene gerief wanneer jy besluit.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? KOUD, WINDERIG EN NAT... Die elemente kan ’n mens tot die uiterste beproef. As jy nie voorbereid is nie, kan dit ’n andersins aangename vakansie lelik in die wiele ry.
KOUD, WINDERIG EN NAT... Die elemente kan ’n mens tot die uiterste beproef. As jy nie voorbereid is nie, kan dit ’n andersins aangename vakansie lelik in die wiele ry.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa