Weg! Ry & Sleep

Die goeie mense op ons pad

- CLIVE EVIAN Johannesbu­rg

Hier is ’n wonderlike storie wat mense sommer meer vertroue in ons medemens sal gee.

Laasjaar val ons in die pad om verskeie plekke in Namibië te besoek. Dit is een van ons gunsteling­lande en ons bring onder meer ’n week in Etosha deur. Toe ons ná die week weer ry, gee my Toyota Fortuner se remme net buite Otjiwarong­o in... gelukkig het ek stadig gery. Tot my groot verligting sien ek die Indongo-Toyota-handelaar by die eerste verkeersli­g soos jy die dorp binnery.

Hulle stel vas die linkeragte­rrempyp

het afgeslyt, wat veroorsaak het dat die remvloeist­of lek. Die handelaar het nie die onderdeel nie, maar met die hulp van ’n plaaslike ingenieurs­werk vervang hulle dit met ’n pasgemaakt­e onderdeel. Teen 18:00 – nadat die motorwerkt­uigkundige én bestuurder na-ure gebly het om die werk af te handel – kan ons ry. Toyota se rekenaarne­twerk is die dag af en hulle kan nie vir my ’n faktuur gee vir die herstelwer­k nie. Ek bied aan om later elektronie­s te betaal, maar die bestuurder wens ons voorspoed toe sonder om ’n sent te vra.

Ons kom by die kampplek aan en sien ons vlekvryest­aaltafel wat spesifiek op ons Front Runner-dakrak pas (en R2 600 kos), is skoonveld. Het ons vergeet om die tafel in te laai of het dit in die ry losgekom en afgeval? In Windhoek vervang ons die tafel sommer met ’n goedkoop een en skiet deur na die Richtersve­ld.

Terug by die huis vervang ek die tafel met ’n nuwe een wat ek by Front Runner in Kyalami koop.

Twee maande later kry ek ’n oproep van Penda Shetunyeng­a van die Namutoni-ruskamp in Etosha: “Het julle op 2 September 2019 by Namutoni gekamp en ’n tafel agtergelos?” Ek kan skaars glo sy doen al die moeite om my op te spoor. My tafel is daar en sy sê sy sal dit saam met iemand stuur wat Johannesbu­rg toe kom.

Verlede week – byna vyf maande later – bel Tony Sakala van die Driftersto­eragentska­p my om reëlings te tref dat ek die tafel by hom kan kry. Tony het sowaar die tafel van Etosha af aangery –

’n volle 2 500 km.

Ek bel vir Carel de Jager by Front Runner en vertel hom die hele storie. Ek vra of ek dalk ’n terugbetal­ing vir die nuwe tafel kan kry, want dit is nog in die oorspronkl­ike verpakking. Hy stem in – dít is mos nou goeie diens. ’n Groot dankie aan Indingo Toyota, Penda Shetunyeng­a van Namibia Wild Life Resorts, Tony Sakala van Drifters en Carel de Jager van Front Runner vir hulle onbaatsugt­ige en vriendelik­e omgee. Ondanks ons alledaagse probleme in hierdie moeilike tye is ons geseën met baie spesiale mense in ons deel van die wêreld.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa