Kamp in die rooi Kalaharisand
Hoewel die grootste deel van die Kalahari in Botswana lê, hoef jy nie die grens oor te steek om dit te beleef nie. Ons haak net anderkant Upington by twee gawe kampplekke af en sien waarom kampeerders weer en weer na dié wêreld terugkeer.
Wanneer jy Kalahari toe mik, is dit nie sommer net vir ’n dag of twee nie. Jou ammokiste is tjokkenblok met kruideniersware en rakmelk; die langafstandtenks en jerrykanne is vol; en jy moes maande gelede al ’n kampplek by jou bestemming bespreek het. As jy dus uit Upington noord ry, is die kans goed jy gaan óf ’n draai maak in die Kgalagadi óf in die Botswanakant van dié oorgrenspark kuier óf dalk deurskiet na die suide van Namibië. Ná 200 km is jy reeds in die Kalahari. Op Askham kan jy nog ’n laaste paar goedjies kry en die brandstofnaald weer laat lig, want vir ’n hele ruk gaan jy nie weer die beskawing sien nie. Van hier af is dit nog 75 km noord tot by die Kgalagadi se hek en 85 km wes na Namibië se Rietfontein-grenspos. Teen dié tyd is die kinders moeg gespeel op hulle fone, jy is al deurgesit agter die stuur, en in die plastiekbakkie met die Romany Creams is nog net ’n paar krummels oor. Hoekom saal jy nie net hier af eerder as om nog vas te byt vir die laaste entjie nie? Rek vir ’n dag of twee bene en kom sommer uitgerus by jou bestemming aan. Die Molopo Kalahari-lodge is net 15 km verder en die Kgalagadi-lodge nog ongeveer 50 km verby dit. Dié twee plekke het lieflike kampplekke waar jy goed kan uitrus, en vóór jy jouself kry, gaan jy weer kom oë wys wanneer jy op pad huis toe hier verbyry. >
MOLOPO KALAHARI-LODGE Gesnoer
Die kinders kan sommer van die kantoor af oor die grasperk tot op jou staanplek hardloop en jou nader beduie.
Net ’n paar kilometer buite Askham is ’n kruising met ’n paar huisies in die veld waar jy regs draai na die Kgalagadi. Die plekkie se naam is Andriesvale, maar hier is nie veel meer as ’n algemene handelaar nie. Die Molopo-lodge lê ’n kilometer verder links teen die pad. Die netjiese grondpad van 350 m tussen die teerpad en die lodge is glad nie sleg nie, en die immergroen waaierpalms langs die grondpad is ’n voorskou van wat by die lodge wag. By die hek wapper ’n paar Suid-Afrikaanse vlae en ’n verdwaalde Britse een, en daar is ’n paar arendbeelde op pilare. As ’n mens na die plek kyk, verstaan jy hoekom dit so gewild is onder kampeerders. Dit is deel van die N.C. Famous Lodges-groep wat plekke insluit soos die Letsatsi-lodge by Vanrhynsdorp, die Tshahitsi-lodge op Upington en die Vischgat-wildlodge, ook hier in die Kalahari. Werklik puik verblyf. Molopo het sy eie brandstof – 50 ppmdiesel en 95 oktaan- loodvrye petrol – maar hou in gedagte jy moet minstens R200 se brandstof ingooi. Moet dus nie dink jy gaan op Askham volmaak en dan
weer hier nie. Hier is ook ’n kompressor beskikbaar as jy jou voertuig se banddruk wil nagaan. Eers is dit tyd om aan te meld by die kantoor. Ry tot waar die pad in ’n sirkel doodloop – hier is genoeg omdraaiplek vir selfs die langste sleepkombinasie. Jy stap verby die restaurant se stoep tot by die kantoor, en hier kan ’n mens sien hoekom die plek ’n lodge genoem word: Dit is deftig met stylvolle dekor en swaar donkerhoutmeubels. Veral treffend is die reuseblaasbalk wat as tafel ingespan word, en die rits meerkatbeelde agter die toonbank. Hier is nie ’n winkel nie, maar hulle het noodsaaklike dinge soos hout, ys en gebottelde water (geen vuurhoutjies of vuuraanstekers nie). In die kantoor is ’n yskas met verskillende soort vleis: bees- en hoenderbraaipakke, skilpadjies, verskeie soorte wors en selfs springboksalami (R300 vir byna ’n kilogram). Net soos by ’n hotel kan jy enigiets wat jy hier koop, op jou rekening sit. In die kroeg langsaan is ’n deurgetrapte leeuvel op die vloer, kompleet met opgestopte kop, met twee houtietermago’s weerskante daarvan. As jy omstap, sien jy nog ’n leeuvel teen die muur met ’n geweer daarby. Dié leeu is glo jare terug met dié einste .22 by Welkom – digby die Kgalagadioorgrenspark – geskiet. Jou staanplek is terug op jou spoor – draai oorkant die brandstofpompe af. Die kinders kan sommer van die kantoor af oor die grasperk tot op jou staanplek hardloop en jou nader beduie. Dit is skaars 70 m. DIE PAADJIES BY die staanplekke is vasgetrapte sand met enkelhoë klippe aan weerskante. Dieselfde klippe is rondom jou staanplek gepak. Die eerste nege staanplekke het taamlike koelte, maar van nr. 10 af (waar die pad skerp regs draai) is daar geen koeltebome nie. Die staanplekke is betreklik klein en ’n mens gaan net jou wa, sy stoeptent en sleepvoertuig kan inpas. ’n Deel langs die staanplek is geplavei en met skadunet toegespan. In die >
middel is ’n betonblad op twee dwarspale met ’n bankie aan elke kant. Die kragpunt – ’n gewone huissok – is by dié tafel en die skakelaar vir die buislig teen die skadunetdak. Die wasbak is op die hoek digby die tafel. Jy het ’n losstaande staalbraaiplek, en kyk, dit is ’n stewige nommer. Die bak self is seker 1 x 0,5 m groot en die rooster kan verstel word, en op die een hoek staan ’n torinkie waar jy solank ’n paar stompies aan die brand kan steek om kole te maak. Daar’s selfs ’n staalborsel aan die braai vasgemaak. Wanneer Molopo se mense jou bondeltjies hout by jou staanplek kom aflewer, wil jy eers ingedoen voel, want daar is
skaars vyf of ses stukkies per bondel. Maar as jy eers braai, besef jy beter braaihout gaan jy nie maklik kry nie, want dit maak oorgenoeg hitte. Môreoggend nog vóór jy jou kop by die tent uitsteek, het iemand al klaar die braai skoongemaak. Elke staanplek het sy eie private badkamer, maar dis nie op jou staanplek nie. Soos jy die kampgedeelte binnery, is daar twee badkamergeboue links agter die staanplekke in die rigting van die kantoor, en nog een om die draai by die staanplekke sonder koeltebome. Elke gebou het vier vertrekke wat elk aan ’n staanplek toegewys is. Die badkamer is ruim met die oop stort in die hoek. Hier is genoeg neersitplek en die ronde wasbak is in ’n pilaar versink wat met leiklip afgewerk is. Die warm water kom van ’n elektriese geiser en die toilet is in dieselfde vertrek, maar oop. Die twee skottelgoedwasbakke staan oop en eenkant. Die een is langs staanplek nr. 7 en die ander een oorkant nr. 12. Soms val van die bome se blare daarin, maar ten minste is hier warm water. AS JY DIE ROOI Kalaharisand wil ervaar, kan jy omstap na die duin toe. Loop van die sirkel agter die kantoor af in die rigting van Andriesvale verby ’n paar chalets. Hou so 200 m aan verby die laaste chalet heel regs tot waar die grondpad in ’n klein sirkel doodloop. Sowat 40 m na regs begin die duin. Wees net versigtig in die somer, want die rooi sand bak behoorlik warm, en met kaal voete gaan jy les opsê. As dit lyk of die kinders begin tone tel, stuur hulle na die opelugskaakbord langs die brandstofpompe. As jy nog ’n bietjie wil rondloer en nog ’n entjie stap – of as julle dalk ’n draai op Askham wil gaan maak – hou stil by Molopo se hek. Oorkant die pad staan Izak Kruiper – oftewel !hap – in sy tradisionele Boesmandrag. Hy maak en verkoop aandenkings en sê hy staan al tien jaar op dieselfde plek. Izak, wat op Twee Rivieren gebore is, is skraal gebou en dra ’n volstruisleerband om sy kop met twee steenbokhorinkies wat bo sy voorkop uitstaan. ’n Steenbok, verduidelik hy, is ’n trotse dier, en die volstruisband is ’n teken van ’n dier wat baie ver kan hardloop, én “ons kan sy eiers as waterhouers gebruik”. Maar moenie hom vra hoe oud hy is nie: “’n Boesman,” skerts Izak, “weet nie hoe oud hy is nie.” >
Hier van die pad af sien ’n mens bruingeverfde huisies met wit dakke. Die kampplek is agter die huisies.
Die Kgalagadi-lodge is 53km verder in die rigting van die Kgalagadi-oorgrenspark – steeds teerpad wat teen die park self doodloop. Kort ná Molopo loop die pad al teen die droë Nossobrivier wat ook die grens met Botswana vorm. (Dit is die suidelikste punt van ons buurland.) Die Kgalagadi-lodge is links van die pad bo-op ’n begroeide duin. Hier van die pad af sien ’n mens bruingeverfde huisies met wit dakke. Die kampplek is agter die huisies. Bo die ingang wapper ook landsvlae by ’n motorhek. Die kantoor, winkel en restaurant is regs van die hek. Die winkel lyk soos ’n klein supermark en die rakke kreun onder enigiets van vars brood, jogurt, room, kaas, rys, kitskoffie, kookolie en vrugte en groente (appels, piesangs, tamaties, blaarslaai, boontjies en mielies) tot vleis (skaap, hoender, vark, maalvleis en wildswors) en braairoosters. Die een hele muur bestaan uit ’n staanyskas vol koeldrank, wyn, bier en natuurlik ook water wat hier gebotteleer word. Te oordeel na al die motors wat voor die kantoor staan, trek heelwat mense in die verbyry hier in, veral om lyf nat te maak in die swembad.
Die kantoor is net ’n oop toonbank op die stoep – dit lyk soos ’n boomstomp wat in die lengte deurgesny is. Hier sê die lodge se personeel watter staanplek jy kry en gee ook jou badkamersleutels vir jou. OM BY DIE KAMPPLEK uit te kom ry jy verby die kantoor en om die huisies op die duin. Dit is ’n ordentlike grondpad wat jou op die duin besorg sonder dat jy die gevaar loop om in die rooi Kalaharisand vas te val. Die motorhek by die ingang is om ’n goeie rede daar, vind jy vinnig uit: ’n Emoe kom van voor af in die pad afgestap, kry sy staan voor ons en gaan sit net daar op sy hurke. Die aardige voël kry seker warm, en ons moet effens >
terugstoot om verby te kom. Bo-op die duin wag nog ’n aardigheid: Drie blouwildebeeskalwers langs die pad. Hulle is só mak jy kan omtrent tot teen hulle loop om ’n foto te neem. Die kampplek is in twee groepe opgedeel. Die eerste deel regs het ses staanplekke, met verderaan nog nege. ’n Sandpad draai sommer vroeg-vroeg regs uit na die eerste staanplekke, maar hou verby as jy nie ’n veldryer het nie. Die tweede afdraai is steeds deel van die vasgetrapte pad waarop jy selfs met ’n stadskarretjie kan regkom. Hier staan ses huisies (die badkamers) sowat 10 m uitmekaar teen die rooiste sandduin. Elkeen van die huisies het ’n heuphoë paaltjiesheining rondom met die voorste gedeelte oop, en langs elke huisie is ’n plaveiblad met ’n gaasafdak. Jou wa kan gemaklik langs die afdak inpas. Die sand is wel losser hier, maar jy hoef darem nie neus eerste jou staanplek binne te ry nie. Stoot eerder jou wa terug tot langs die afdak sonder om te sukkel in die sand. (By die eerste drie staanplekke is daar genoeg plek om voor die huisie op te slaan.) Die sand lyk te sag vir tentpenne, maar skaars 10 cm onder die sand is harde grond. Selfs ons 8 mm-staalpenne met hulle skerp punte het gesukkel onder die 1,8 kg-hamer waarmee ons ingeslaan het. Nader aan die duin se kant is dit net sand – hier sal ’n lang pen van 30 cm die ding doen. Die afdak is omtrent so groot soos ’n dubbelmotorhuis, met die braaiplek wat op die kant van die plaveisel gebou is. Dis kniehoogte en sonder ’n rooster. Die skottelgoedwasbak is op die stoepie voor die huisie, en die kragpunt – die blou én driepuntsok – is aan die ander kant van die huisie waar die kraan en vullisdrom ook is. ’n Koord van 20 m behoort lank genoeg te wees. Die badkamerhuisies is lekker ruim met die wasbak in die een hoek en die toilet en stort met sy glasdeur in die ander. Die dekor en teëlwerk is modieus en twee of drie mense kan hulle staan kry sonder om in mekaar se pad te wees. Die ander nege staanplekke is 200 m verder en uitgelê in ’n langwerpige hoefyster. Hierdie staanplekke is soortgelyk aan die eerstes, maar het nie plaveisel nie en net ’n driepuntsok vir krag. >
Hier is ook ander aardige goggas... soos haarskeerders. Al lyk hulle soos ’n spinnekop, is hulle nie.
AS JY BY DIE eerste staanplekke oor die duin agter jou staanplek stap, kom jy op ’n kraal af met ’n klein sebra wat net so mak is soos die wildebeeste. Pasop net snags vir skerpioene, veral as die wind waai. Ons het heelwat van hulle gesien – die dag toe ons opgeslaan het, het een so groot soos ’n handpalm onder die seil uitgekruip. Een met ’n gróót stert. Hier is ook ander aardige goggas... soos haarskeerders. Al lyk hulle soos ’n spinnekop, is hulle nie – en hulle is boonop skadeloos. Maar hulle is pienk en harig en het groot kake, en hulle skarrel snags om uit die lig weg te kom (en volg bedags jou skaduwee...). Die Kalahari is natuurlik wêreldbekend vir sy meerkatte. As jy dié interessante outjies van nader wil bekyk, maak ’n draai by die Kalahari Trails-meerkatskuiling. Dit is 30 km terug op jou spoor in die rigting van Molopo. Dis teenaan die pad met ’n duidelike afdraaibordjie. Die bewarea van 3 500 ha behoort aan prof. Anne Rasa wat dit die afgelope 23 jaar besit. Anne is ’n afgetrede dierkundige en hulle sien onder meer om na meerkatte wat voorheen onwettig deur mense aangehou is. Die plaashuis is omtrent 250 m van die afdraai af. Regs hiervan staan ’n boom wat met paaltjies toegespan is en ’n kampie vorm vir van die meerkatte. Een van die gidse sê hoewel hulle die meerkatte hanteer, beperk hulle dit tot die minimum (veral die kleintjies), want die diere moet weer terug natuur toe. Nog ’n entjie verder is nog ’n kampie met meerkatte. Hulle is ouer, en met die gids se hulp kan jy van die ouens streel of selfs vashou. Jy betaal nie toegangsgeld om die meerkatte te sien nie, maar maak gerus ’n donasie om hulle te help met hulle goeie werk.