Betowerende bergwêreld
Ons ry in konvooi deur Lesotho en tem die Sanipas voor ons agterpadlangs koers kry na die Katsedam.
Dit is veilig om te sê daar is nie ’n méér ikoniese grondpadbergpas in Suid-Afrika as die Sanipas nie. Dié stuk pad tussen Himeville in KwaZulu-Natal en die bergkoninkryk van Lesotho is ’n uitstekende 4x4-uitdaging met skouspelagtige uitsigte, onvoorspelbare weersomstandighede en toestande wat in ’n oogwink kan verander. Dit is ’n pas wat sy gelyke in Suid-Afrika nie ken nie, en daar is min ander plekke waar jy letterlik kan voel hoe die lug dunner raak namate jy vorder.
WANNEER JY VROEGOGGEND
op Himeville met jou koffie in die hand staan en die Drakensberg gadeslaan, lyk die berg onoorkombaar. Die Twaalf Apostels lê links van jou in die verte, netjies in >
Dit sal inderdaad ’n hartseerdag wees as jy dié besonderse stukkie pad eendag met jou Corolla kan kafdraf.
’n ry, en nóg verder links, hoewel jy dit nie van hier af kan sien nie, is die pad wat jou oor die berg gaan kry. Verlaag jou banddruk tot 1,8 bar voor jy in die kar klim om te ry. Die Sanipas begin op ’n hoogte van net hoër as 1 500 m bo seespieël en oor ’n afstand van net 9 km klim jy ’n verstommende 1 332 m om uiteindelik 2 876 m hoog te staan. Die owerheid is besig om die eerste deel van die pas te teer. Dit is in hierdie stadium onduidelik hoe lank hulle hiermee gaan besig wees en presies hoeveel van die pas uiteindelik geteer gaan word. Ons het verby padwerk gery en wil nie soos doemprofete klink nie, maar as die Sanipas op jou emmerskoplys is, moet jy dit nie veel langer uitstel nie. Dit sal inderdaad ’n hartseerdag wees as jy dié besonderse stukkie pad eendag met jou Corolla kan kafdraf. Die klim begin geleidelik aan die voet van die Drakensberg, maar aan die einde is dit ’n steil besigheid met ’n magdom skerp draaie. Baie voertuie moes al hier die aftog blaas, of, nóg erger, het oor die afgrond gestort. Moenie ’n fout maak nie: Die Sanipas kan lewensgevaarlik wees, veral wanneer dit gesneeu het en jy nie in die regte voertuig is nie. Met ons besoek in Maart kon ons nie vir beter weersomstandighede vra nie. Dit is in elk geval raadsaam om eers by die plaaslike owerheid te hoor hoe die weer lyk voor jy die pas aandurf. In die winter is die kans groter dat die pas gesluit sal wees weens sneeu. Die Suid-Afrikaanse grenspos is jou eerste baken langs die roete. Dit is nie die werklike grens nie; jy gaan Lesotho eers op die kruin by dié land se grenspos binne. Onthou jou paspoort en maak seker hy is nog vir minstens ses maande geldig. Hoewel ons nie daarvoor gevra is nie, is dit ook ’n goeie plan om jou voertuig se registrasiedokumente én ’n brief van jou bank te hê as jou ryding nog gefinansier word. En jou rybewys, natuurlik. Maak veiligheidshalwe sommer gewaarmerkte afskrifte van alles. Hier is ’n groot kennisgewing by die grenspos wat waarsku dat jy ’n 4x4-voertuig móét hê om verder te ry, en dis goed so, want die ernstige sake begin van hier af. Albei grensposte sluit om 18:00; maak dus seker jy gee jouself genoeg tyd. Terloops, die toiletgeriewe hier is die laaste wat jy gaan teëkom tot jy bo is. Van hier af begin die groot pret. Die eerste deel is eintlik ’n vulletjie teen wat hoër op wag. Haak laestrek, behou jou konsentrasie en moenie jou oë van die pad af haal nie. Maak jou reg vir steil opdraandes, los gruis en klippe – en, afhangende van die weersomstandighede, selfs sneeu en ys op die pad. Moet egter nie vergeet om elke dan en wan stil te hou en uit te klim om die natuurskoon te bewonder nie. Hier is spo
radies stilhouplekke waar jy kan aftrek om die asemrowende Khomazanavallei om en onder jou te aanskou, en afhangend van die tyd van die jaar voel dit vir ’n mens daar is om elke draai ’n waterval of ander natuurbeeld om af te neem. Daar is iets magies daaraan om terug te kyk en te sien hoe die pad wat jy reeds afgelê het, soos ’n dun wit lint onder jou wegkronkel. Hier is ’n verskeidenheid toeroperateurs in die omgewing wat toeriste met die Sanipas op en af neem. Hulle jaag egter teen ’n verblindende spoed teen die berg op en ’n mens kan nie help om te wonder watter ervaring dít nou eintlik vir die grootoog-passasiers is nie. As daar een plek is wat gestalte gee aan die uitdrukking “die reis is belangriker as die bestemming”, is dit hier. Vat jou tyd om bo te kom en beleef die wêreld rondom jou. Die pad boontoe heen-en-weer om die skerpste van haarnaalddraaie en jy klim baie vinnig hoër. Hier is vertroue in jou ryding en jou eie vermoëns belangrik, want ruimte vir enige twyfel is hier nie. Ons was gelukkig dat ons op ’n helder dag hier kon ry, maar ’n mens kan net dink hoe groot die uitdaging is as dit toegetrek is, en die pad boonop nat en glad. Die pad is op plekke breër gemaak as wat dit voorheen was, wat jou bestuurstaak effens makliker maak, maar maak jou reg vir ’n geskud en gestamp tot bo. Wanneer jy uiteindelik die afgeleefde gebou van die Lesotho-grenspos aan die bopunt bereik, is jou adrenalienvlakke in die rooi gedruk. Dit voel vir jou die pas was te kort en jy wens jy kan nóg ’n paar kilometer klim. Kry jou stempel in jou paspoort, betaal die padbelasting (R40) en gaan kry vir jou ’n koue lafenis en warm bord kos by die Sani Mountainlodge, wat hulle bemark as die hoogste kroeg in Afrika. Van hier af is dit nog 55 km tot by jou oornagplek, die Mokhotlong-hotel op die gelyknamige dorpie. Die pad is geteer, maar moenie jaag nie en wees op die uitkyk vir rotse in die pad, veral soos jy om die skerp draaie kom. Hou egter eers by die uitkykpunt op die Black Mountainpas still. >
Hier staan jy op die hoogste punt van die hele reis – ’n hele 3 240 m bo seespieël – dit is verbasend hoe dun die luggie hier kan raak, selfs al was jy netnou nog heel tevrede in jou kortbroek en T-hemp. Dit duur ’n bietjie minder as twee uur om die Mokhotlong-hotel te bereik. Die geriewe is basies en afgeleef, maar dit is nietemin skoon en die personeel vriendelik. Hier is ’n restaurant en kroeg waar jy en jou vriende dit kan vier dat julle die Sanipas baasgeraak het.
NÁ ONTBYT DIE
volgende oggend is dit tyd om in die pad te val Katsedam toe. Volg die A1-hoofpad noordwaarts in Letseng se rigting. Die eerste 70 km of so is geteer, maar jy moet nietemin die pad fyn dophou vir slaggate. Jy wil ieder geval nie te haastig ry hier nie, want die bergkoninkryk pronk behoorlik om jou terwyl jy deur golwende groen heuwels op en af teen die hange van die berge ry. Oral langs die pad is klein nedersettings met tradisionele rondawels wat elkeen ’n foto werd is. Maak jou egter gereed wanneer jy stilhou: Dit voel dalk of jy alleen staan en oor die wêreld voor jou uitkyk, maar binne ’n oogwink is jy omring deur ’n groep kinders wat almal net een ding op die brein het... lekkergoed. Dit is ongelooflik om te sien hoe vinnig hulle uit die niet verskyn en om jou saamdrom.
Die bergkoninkryk pronk behoorlik om jou terwyl jy deur golwende groen heuwels op en af teen die hange van die berge ry.
Weerstaan maar die versoeking om vir die kinders lekkers te gee – ons toerleiers van Protea 4x4 Adventures, Jannie en Ansu Rykaart, beveel aan jy neem dinge soos skryfbehoeftes of boeke saam wat jy kan uitdeel. Ná 70 km op die teerpad is die Letsengdiamantmyn aan jou regterkant. Hou stil en kyk vir ’n rukkie na die omvang van die gewerkskaf hier waar hulle in 2014 ’n diamant van 198 kar. gemyn het. Niemand sal jou ook verkwalik as jy ’n paar groter klippe met jou voet omrol nie... ’n mens weet nooit nie! Kort ná die myn draai jy links (S28.948756 E28.832784) en klim van die teer af – nou volg jy die pad deur die vallei in, al langs die Malibamatsorivier af. Hier begin ’n ware avontuur. Gister op die Sanipas het jy min of meer geweet wat om te verwag, maar nie hier nie. Al wat jy weet, is jy moet vanaand langs die Katsedam slaap, maar jy het geen benul hoe die pad gaan lyk nie. Daardie onkunde sorg vir opgewondenheid, >
Die dam, 2000m bo seespieël, is ’n treffende voorbeeld van die moderne ingenieurswese.
want om elke draai lê moontlik ’n uitdading wat jou laestrekratte gaan vereis. Jy ry basies die heeltyd op een groot bergpas met ’n afgrond langs jou of ’n berghang bo jou, en om elke draai voel dit vir jou jy sien iets méér besonders. Die wêreld hier is besaai met goed om te sien en beleef. Moenie net deurjaag nie. Gee vir jouself genoeg tyd, maak seker jou kamera se batterye is gelaai en bring ’n ekstra geheuekaart saam. Jou vinger gaan lam raak van al die foto’s wat jy wil neem. Nog iets wat uniek is aan dié omgewing is al die veewagters op donkies of perde wat jy met hulle troppe skape en bokke gaan teëkom. Hulle gee oor die algemeen nie om as jy hulle afneem nie, maar staan dan agterna nader vir ’n footjie. Hou dus ’n bietjie kontant byderhand vir dié doel. Op die reis deur die vallei ry jy verby klein dorpies en nedersettings met name soos Laoti, Tholo en Lejone. Dit is allermins dorpe soos dié in Suid-Afrika waar
aan jy gewoond is, maar by die meeste van hulle sal jy by ’n klein winkeltjie regkom as die nood druk. Pak dus eerder jou eie water en peuselgoed vir die dag in, want jy kan nêrens aftrek vir ’n hamburger en Coke nie. Brandstof is ook nie vrylik beskikbaar nie; ry jou jerrykanne met noodvoorraad saam. In ’n stadium bereik jy ’n laagwaterbrug waar jy die rivier oorsteek (S29.019924 E28.548332). Die pad is oorwegend stil hier en jy kan op die brug stilhou om vir ’n oomblik stil te raak met die water wat onder jou verbykabbel en die reuserotsformasies wat weerskante van jou die hemel in troon. Trek jou skoene uit en sit jou voete in die water terwyl jy die skoon lug inasem. ’n Mens voel klein, maar ook bevoorreg om oomblikke soos dié te kan beleef. Van hier af is dit net meer as 60 km tot by die Katsedam, waar jy vanaand oornag. Vir meer as die eerste helfte van die pad bly jy op die op-en-af kronkelpad deur die vallei voor jy op teer klim vir die laaste stuk. Hou jou oë oop vir slaggate! Met ons reis het ons by die Katse-lodge langs die dam gebly. Hier het ons uitgevind ons is van die laaste gaste vir die onmiddellike toekoms. Die lodge is sedert einde Maart vanjaar gesluit vir grootskaalse opgradering. Dit is jammer, want verblyfsopsies in die omgewing rondom die Katsedam is beperk. Besoek webwerwe soos visitlesotho.travel en lesotho-info.co.za om verblyf te soek wanneer jy in dié rigting mik.
DIE KATSEDAM,
een van Lesotho se gewildste toerismebestemmings, is volgens die Lesotho-Hoogland-ontwikkelingsgesag genoem na ’n ryk man van die omgewing met die naam Katse wat baie vee besit het en vars groente aan plaaslike gemeenskappe voorsien het. >
Die pad kronkel al hoe laer, en dis jou laaste kans om te voel of jy bo die wolke ry.
Katse boer nou wel nie meer nie, maar die omgewing is nou die tuiste van die naashoogste damwal op die vasteland. Die dam is as deel van die Lesotho-Hoogland-waterprojek gebou en lewer water aan Gauteng terwyl dit ook elektrisiteit vir Lesotho opwek. Die dam, 2 000 m bo seespieël, is ’n treffende voorbeeld van die moderne ingenieurswese. Die damwal is 185 m hoog, 60 m breed by sy basis en 9 m breed aan die bokant. Die wal is nie net van kant tot kant geboë nie, maar ook van die basis tot by die bopunt. Dit is een van net dertig damme reg oor die wêreld met ’n dubbelgeboë betonwal en dit het ses jaar (en amper 2 miljard kubieke meter beton) gevat om te bou. Die Lesotho-Hoogland-ontwikkelingsgesag bied daagliks om 09:00 en 14:00 ’n inligtingsessie gevolg deur ’n toer na die damwal aan waar jy meer leer oor die geskiedenis van die projek, die bou van die wal, hoe sake in stand gehou word en die impak wat die waterprojek op die omgewing en sy mense gehad het. Oor naweke word die toer drie maal per dag aangebied (om 09:00, 11:00 en 14:00). Bel 00 266 22 91 0377 as jy wil bepreek vir so ’n toer.
Buiten die damwaltoer is hier ’n reeks aktiwiteite om jou besig te hou terwyl jy die dag verwyl. Hoewel ons dit nie self gaan doen het nie, het ons verneem hier is ’n klompie 4x4-roetes wat jy met jou veldryer kan gaan verken, óf jy kan ’n quadfiets huur om die pragtige natuurskoon om die dam te verken. As jy vir ’n slag nie met ’n enjin aangedryf wil word nie en darem ook nie wil stap of fietstrap nie, kan jy die wêreld op ’n perd se rug beleef. Op dié manier sien jy paadjies en plekke waar jy nie met jou ryding kan uitkom nie en sodoende ’n heel ander kant van Lesotho. Of jy kan bespreek vir ’n bootrit op die dam, ’n koelboks pak en op die water vaar terwyl die son stadig ondergaan. Stuur ’n e-pos na lhwp@lhda.org.ls vir meer inligting hieroor. Die Katse- botaniese tuin is ook ’n besoek werd. Dié tuin was nie deel van die aanvanklike beplanning vir die Lesotho-Hoogland-waterprojek nie, maar toe die plantlewe uitgehaal is voor die water in die reservoir opgedam is, is dié lappie grond uitgehou en eenkant gesit vir die plante. Die spiraalaalwyn, Lesotho se nasionale plant, is een van hulle en is hier te sien. Die botaniese tuin is daagliks van 08:00 tot 17:00 oop vir besoekers (naweke tot 14:00). Bel 00 266 22 91 0315 vir meer inligting.
NÁ JOU LAASTE NAG
langs die Katsedam is dit ongelukkig tyd om huiswaarts te keer. Eers ry jy basies terug soos jy gekom het, maar draai dan links en ry met die Mafika Lisiupas af terug in die Republiek se rigting. Die pad kronkel al hoe laer, en dis jou laaste kans om te voel of jy bo die wolke ry – in sekere weersomstandighede gaan dit inderdaad die geval wees. Volg die A25 verby Pitseng en deur Hlotse, en draai regs tot by Butha-Buthe, waar jy links draai met die Caledonspoort-grenspos in jou visier. Sake by die grenspos het met ons besoek seepglad verloop en in ’n oogwink was ons terug op tuisbodem. Daar is egter geen haas om terug te kom by die huis nie. Vat ’n dag en gaan span op Clarens uit en sien hoekom soveel mense oor naweke daarheen opruk. Proe jenewer en boetiekbier, stap deur die talle oudhedewinkels en stel die terugkeer na jou stadslewe nog ’n rukkie uit. Bring ’n nag in een van die legio oornagveblyfplekke deur en val môreoggend in die pad terug stad toe.