Drie weke in die noorde van Namibië
Op hulle reis van 7 000 km oor 21 dae het die noorde van Namibië behoorlik vir hulle gepronk, vertel Jeannie Venter van Porterville in die Wes-Kaap.
Toe die lus hulle beetpak om na die noorde van Namibië te toer het Jeannie en Henri Venter van Halfmanshof buite Porterville nie op hulle laat wag nie. Hulle het op die internet rondgekrap en uiteindelik besluit om saam met Live the Journey na die konsessiegebied in die Skedelkus en Kaokoland te reis. Hulle het ’n jaar voor die tyd hulle plek op die toer bespreek, maar die toerdatums het in die skoolkwartaal geval. Jeannie en Henri besluit toe dis ’n goeie plan om ’n slag sonder die kinders vakansie te hou. Gelukkig is daar oumas en oupas wat meer as bereid was om te help met die kinders se besige skoolprogram. Jeannie vertel... Die beplanning vir die Live the Journey-toer raak só lekker dat ons uiteindelik ’n toer van drie weke rondom dit beplan. Ons besluit om ook deur Etosha en Damaraland te ry en dan op Swakopmund te eindig voordat ons die Sondag saam met ons toergroep na die Skedelkus vertrek. Ons vriende Schalk en Elsa Burger van Kakamas toer saam. Hulle los ook hulle kinders by die oupas en oumas. Ons kinders is baie bevoorreg om sulke op-en-wakker grootouers te hê! Ons vertrek op 8 Mei van die huis af met ons Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4 en ons Bush Lapa Vlooi. Ons kry die Burgers op Mariental en slaap die eerste nag by die River Chalets op die dorp – hier haal ons in met al die agterstallige gesprekke van die jaar. Van Mariental af ry ons na Windhoek om vleis te koop by Hartlief Shop & Bistro se fabriekswinkel. Dit is ’n goeie stilhou
plek vir enige vakansieganger, want van die B1 af is dit maklik om hier te kom én die vleis en verwerkte produkte is van hoogstaande gehalte. Jy kan ook heerlike koffie en ’n vars brötchen eet terwyl jy inkopies doen. Met vrieskaste vol vleis en lekkernye val ons weer in die pad. Ons ry tot by die Etosha- nasionale park en kamp twee nagte net buite die Von Lindequisthek by Onguma se Tamboti-kampterrein. Die staanplekke is ruim en privaat en jy is skaars 5 minute van die park se hek af. Jy het ook jou eie luukse ablusieen opwasgeriewe. Bedags ry ons deur die park en geniet die natuurskoon. Saans hoor jy die roep van die hïena by die watergat. Op ons tweede dag sien ons sowat 300 m van die kampterrein af ’n swartmamba in ’n boom en ons kan nie help om te wonder hoeveel van sy familie hier rondseil nie... Ná die twee nagte by Onguma gaan kamp ons by Halali, ook vir twee nagte. Bedags ry ons tussen al die watergate rond – en sien dieselfde luiperd twee keer op een dag! – en saans ná ete stap ons na die Moringa-watergat met ’n warm koffietjie. Die watergat, wat soos ’n amfiteater lyk, is waar heelwat renosters kom drink. Ons bring ons laaste aand in Etosha by Olifantsrus deur. Die westekant van die Etosha-park beïndruk ons die meeste – hier is die paaie in ’n goeie toestand, die aanwysings goed (en die naamborde nuut), en die watergate pragtig. Olifantsrus is werklik ’n hoogtepunt, want hier is die netjiese uitkykpunt oor die watergat op stelte gebou. Die paaie in die res van Etosha is teleurstellend: Die sinkplaat het behoorlik met ons gal (en ons voertuie s’n) gewerk. Ons meen dit het te make met die feit dat baie toeriste in ’n huurbakkie met ’n daktent in Namibie rondtoer, en omtrent almal van hulle kom Etosha toe. Maar ondanks die padtoestande sorg Etosha vir ’n spesiale bekoring wat jy nie maklik elders kry nie. Die watergate, die troppe wild, die soutpan, die kalkklippe... die Groot Wit Plek is werklik enig in sy soort.
ONS VERLAAT ETOSHA
by die Galtonhek en ons voertuie word vir vleisprodukte deurgesoek. Ons ry na Kamanjab waar ons by die Spar kosvoorrade aanvul en die tradisionele Himbadorpie besoek. Ons bring heelwat tyd daar deur en ondersteun die vroue deur van hulle handewerk te koop. Ons ry oor die Grootbergpas en die klipwoestyn van Damaraland tot by die Aba-Huab-gemeenskapskamp. Hier kamp ons twee nagte onder ’n groot mopanieboom in die rivierloop van die Aba-Huab. Jy moet ’n donkie stook om warm water vir jou stort te kry. Die Aba-Huab is sentraal geleë en naby aan die besienswaardighede rondom Twyfelfontein. Die volgende oggend doen ons die toer van die Twyfelfontein-wêrelderfenisgebied en gaan kyk na al die rotskuns. Ons besoek ook die Orrelpype en Verbrande Berg. Ons besluit om vir middagete in een van die klipwoestyn se droë rivierlope sosaties te braai. Terwyl ons vuur uitbrand, hoor ons ’n hond blaf. Ons sien dit is ’n plaaslike bokwagter wat rustig agter sy trop bokke aanstap. Hierdie mense leef eenvoudig en is met bittermin tevrede. Ná ons rivierloopbraai ry ons tot op Khorixas en is verras met die netjiese >
OK Foods. Sowat 42 km wes van Khorixas is die Versteende Woud, nog ’n nasionale monument. Vir my is dit die hoogtepunt van Damaraland. Ons gids is ’n ouerige Damaravrou en sy vertel vir ons die bome is deur ’n groot vloed van Angola af gespoel. Deur die jare is dit bedek deur spoelgrond, wat dit laat versteen het. Die eeue oue versteende bome lê tussen ’n klomp welwitschias in die Damaralandse son. Die veld is dor en Schalk vra vir die vrou wanneer laas dit gereën het. Haar antwoord is kort en kragtig: “Nooit.” Ons ry die volgende dag oor Uis na die Brandberg. Ons haak vas op Uis in die Brandberg Rest Camp-lodge – en die “jukebox” raak teen N$5 vir 7 liedjies amper ons grootste uitgawe van die vakansie. Ons geniet dit só baie dat ons oorkant die pad moet gaan kleingeld kry. Die versameling CD’s is perfek uitgekies vir ons geslag se “jong mense”. Ons eet in die Koekepan en ry teen sononder uit na die Brandberg White Lady-lodge en kamp heerlik op die walle van die Ugab, waar ’n vet skerpioen ons die aand om die vuur verras. Die personeel van die lodge kom stook al vroegaand die donkie vir die storte. Die ablusiegeriewe is uitstekend, en die beste van alles is die feit dat dit ’n opelugstort en -toilet is. Met sonsopkoms gaan neem ons foto’s van die gloeiende Brandberg met sy vele skakerings van rooi.
ONS BESLUIT OM
nié padlangs Swakopmund toe te ry nie. Ons ry reg rondom die voet van die Brandberg tot by die pad wat loop na Myl 105. Dis agterpaaie hierdie, en dit lyk regtig of die aarde hier ophou. Ons stop op Kaap Kruis vir middagete en los ons boswa by kennisse van ons. Ons toer na die Kunene en Kaokoland begin oor twee dae en ons moet alles wat ons gaan nodig hê, in ons bakkie oorpak. Ons kamp nie op Swakopmund nie, maar besluit om die twee nagte hier tussen die wit lakens van die Be Stillselfsorghuisies te geniet voor ons die ongerepte noorde aandurf. Dit is baie sentraal en ons kan dorp en restuarante toe stap. Ons doen die Saterdag ons inkopies vir
Die veld is dor en Schalk vra vir die vrou wanneer laas dit gereën het. Haar antwoord is kort en kragtig: ‘Nooit.’
die Kaokoland-toer – ons het ’n paklys gekry van dinge wat ons moet saamneem, dinge soos ekstra diesel, water en hout. Ek en Henri pak die bakkie en maak seker alles is goed vasgetrek. Ons wil seker maak niks val rond as ons oor die groot duine gaan nie. Die Sondagoggend groet ons vir Elsa en Schalk en ontmoet ons toergroep vir die volgende week. Ons toergids, Jakkals, en sy twee regterhande sit vir elke voertuig ’n radio in. Ons vertrek om 08:00 uit Swakopmund en pak die eerste skof na Möwebaai. Ons ry verby die Zeila-skeepswrak tussen Hentiesbaai en Swakopmund, besoek die ligeenvelde by Kaap Kruis en maak ’n draai by die oorskot van die dapper en avontuurlustige Ben du Preez se olieboor. Ons gooi ons laaste brandstof op Terracebaai in en betree die streng konsessiegebied van die Skedelkus. Ons Venters kry hier ook ons eerste lekband... min wetende dat ons die einste band die laaste dag van die toer gaan verloor. Op Möwebaai dien Jakkals ons papierwerk in terwyl ons die museum besoek. Ons toergidse slaan ons eerste aand se kamp net buite Möwebaai op. Hulle slaan elke aand vir ons ’n toilet en stort op en bederf ons met ’n peuselhappie, hoofgereg en iets soets saam met koffie. Die kos is voortreflik en die span professioneel.
OP DIE TWEEDE
dag ry ons tot by Kaap Fria, maar ons hou eers stil by die skeepswrak van die Karimona (1971). ’n Entjie verder hou ons by die oorblyfsels van ’n stootskraper en trekker stil, en ’n klompie kilometer noord daarvan bereik ons die wrak van die Ventura Bomber. Dié vliegtuig was deel van een van die grootste reddingspogings in Namibië se geskiedenis en moes kos afgooi vir die oorlewendes van die Dunedin Star wat in 1942 ongeveer 100 km noord gestrand het. Die vlieënier, ’n kaptein Naude, het ’n stuk plat aarde gesien waar hy kon land. Die landing was suksesvol, maar toe hulle weer wil opstyg, het die Ventura Bomber vasgeval in die dik sand. Kaptein Naude en sy manne was self twee weke gestrand voordat hulp uit Windhoek opgedaag het. ’n Paar maande later word die Ventura Bomber herstel en Kaptein Naude kan opstyg. Maar hy het net ’n entjie gevlieg voor die vliegtuig in die see neergestort het. Vandag is net ’n paar wrakstukke oor. Ons ry oor ’n paar duine en sien die befaamde Shipwreck-lodge waar Prins >