Jaagduiwel
Die Jeep Grand Cherokee SRT Trackhawk is moontlik die kragtigste sportnutsvoertuig ter wêreld, hoewel hy beslis nié bedoel is vir die bos nie. Ons het tog op ’n grondpad gaan ry om te sien wat gebeur.
Onthou jy die eerste keer toe jy as kind op ’n roller coaster gaan ry het? Onthou jy die angs terwyl jy in die ry wag, die tweestryd as jy in die karretjie klim en hoe jou maag draai wanneer jou waentjie oor die hoogste punt van die spoor ry en op ’n afwaartse vaart lostrek? Dan onthou jy seker ook hoe jou kniekoppe met die uitklimslag gebewe het, maar jy’t nietemin geskree: “Kom ons ry hom weer!”
Dis presies hoe dit voel as jy op ’n verlate loodreguit agterpad stilhou, die Jeep Grand Cherokee SRT Trackhawk se sogenaamde launch control-knoppie druk... en die petrolpedaal wegtrap.
Wat het ons hier?
Op die oog af lyk die Trackhawk soos ’n doodgewone Grand Cherokee. Dis eers as jy naderstaan en die tamaai Brembo-skyfremme, lug gate op die enjinkap en ’n kenteken op die luikrug gewaar dat jy hom sal herken.
Onder die enjinkap grom ’n 6,2 ℓ-V8masjien – die Chrysler Hemi, oftewel Hellcatenjin – wat 522 kW krag en 875 Nm wringkrag uitstoot. Dis meer as waarmee ’n Lamborghini Urus vorendag kan kom (478 kW en 850 Nm) en ook aansienlik meer as die “skamele” kragleweringsyfers van ’n BMW X5 M50i, Mercedes-Benz AMG GLE 63 S en
Porsche Cayenne Turbo S – drie motors wat nie gewoond is daaraan om terug te staan vir ander voertuie nie.
Die V8 word verder aangejaag deur ’n superaanjaer – anders as met ’n turboaanjaer begin dié dadelik sing as jy die petrolpedaal trap. Binnelangs is daar bonkige knoppies, gloeiende liggies en ’n netjiese swart en silwer afwerking. Die naam Trackhawk is in die leersitplekke se rugleunings gestik en die toereteller in die instrumentepaneel geniet voorkeur bo die spoedleser.
Kragtig, sê jy...
Kom ons keer terug na daai launch controlknoppie. Kom tot stilstand en skakel launch control in die outomatiese modus aan. ’n Boodskap op die toereteller gee opdrag dat jy rem trap, en ’n grafiek wys of jy meer of minder druk moet uitoefen. Sodra jy die korrekte druk op die rempedaal toepas, flits ’n tweede boodskap dat jy die versnellerpedaal moet intrap – hou jou ander voet op die rem. Sodra die enjin 3 000 r.p.m. haal, flits ’n boodskap dat jy die rem dadelik moet los.
Die Trackhawk se neus lig opwaarts terwyl sy agterstewe hurk. Jy skiet verwoed weg met al vier bande wat skree – en wat volg, is ontsagwekkende versnelling wat jou bors laat toetrek. Binne minder as 5 s skiet jy verby 100 km/h... en die Trackhawk is stééds besig om te versnel. Die Trackhawk begin dwars oor die pad sweef en jou eerste gedagte is dat daar té veel krag is en té min padhouvermoë, maar dan kom jy agter dat jy só diep in die sitplek ingestoot is dat jou arms skeef aan die stuurwiel trek.
Kom weer tot stilstand en blaai deur die middelkonsole se raakskerm tot jy by die launch control-skerm kom wat jou in staat stel om die maksimumtoere laer te stel. Probeer 2 500 r.p.m. sodat jy vroeër wegspring, met minder wieltol. Die skreeuende bande klink dalk lekker, maar dit mors tyd.
Skuif jou sitplek vorentoe sodat die versnelling nie weer jou arms uit jou bolyf probeer skeur en jou nek breek nie. Volg dieselfde rem-en-petrolpedaalritueel, maar dié slag gaan jy die ratte met die ratwisselspane aan weerskante van die stuurwiel verwissel.
Trap die petrolpedaal, wag vir die sein en los die rempedaal. Dié keer skiet jy inderhaas weg, en al vier bande skree steeds, maar nie meer so histeries nie. Omdat die bande >
Skuif jou sitplek vorentoe sodat die versnelling nie weer jou arms uit jou bolyf probeer skeur en jou nek breek nie
stiller is, hoor jy die fluitgeluid van die superaanjaer. ’n Liggie op die instrumentepaneel flits dat jy van rat moet verwissel. Tweede rat, flits, derde rat, flits, vierde rat. Teen dié tyd kan jy nie meer uit die hoeke van jou oë sien nie – hulle noem dit tonnelvisie. Jy kyk af na die spoedleser... en genugtig, jy’s lankal reeds oor die spoedperk en daar is ratte oor wat jy nog nie gebruik het nie.
Kom ’n laaste keer tot stilstand en skakel oor na renbaanmodus – die Trackhawk se aggressiefste ritmodus. Stel die maksimumtoere selfs laer tot 2 000 r.p.m. sodat die bande nie meer tol nie. Nou moet jy kophou, want in dié modus word alle elektroniese hulpmiddels afgeskakel, die Bilstein- aktiewe vering word kliphard gepomp, die enjin lewer nou volle krag en jy is nou behoorlik aan die stuur van sake.
Die toereteller se naald lê op 2 000 r.p.m. en jy los die rempedaal. Eers voel alles stadig, en die enigste sensasie van spoed is die druk op jou lyf en die enjinkap wat boontoe styg, maar jy gehoorsaam die liggie wat ratwisselings aandui terwyl jy luister hoe die superaanjaer harder fluit tot dit deur die V8-enjin se brul oordonder word. Meteens bars die Trackhawk verby 100 km/h.
Die ritrekenaar hou rekord van jou versnelling en wys ’n grafiek met die swaartekrag op jou liggaam tydens die versnelling en, natuurlik, jou tyd: 3,9 s! Die brosjure sê jy kan 3,7 s haal en op YouTube is daar video’s van ouens wat dit selfs vinniger kon doen, maar jy sal dit vir ’n ander dag moet los, want jy’s nou so vol adrenalien dat jou kniekoppe bewe nes daai eerste keer in die roller coaster toe jy 13 jaar oud was.
Op ’n grondpad
Ons het die teerpad vir ’n grondpad verruil en sommer dadelik agtergekom hier moet jy dinge kalm vat. Die Trackhawk is nie lewensgevaarlik op grond nie, maar om launch control hier te gebruik sal nie bloot dwaas wees nie, maar noodlottig. Jy kan dit nie eens waag om die renbaanmodus op grond te gebruik nie, want ondanks die allewielaandrywing is die Trackhawk nét te kragtig vir plaaspaaie.
Asbeweging word ook beperk, en as jy deur erosieslote ry, hang daar alewig ’n wiel
in die lug omdat die vering net nie daarvoor gemaak is nie. Die standaard-Pirelli-P Zerobande hoort gewis nie hier nie en die lugvering lewer ’n betreklik sagte rit mits jy die outomatiese ritmodus gebruik. Nee, ’n plaaspad is nie ’n Trackhawk se heimat nie.
Slotsom
As jy ’n Jeep soek vir 4x4-roetes, dan is die Trackhawk die verkeerde keuse. As jy nou en dan grondpad ry, kan jy hom seker oorweeg, maar hy’s nié daarvoor gebou nie.
Die Trackhawk hoort op ’n hitsrenbaan of ’n breë snelweg. Sy verstommende versnelling is fantasties, maar hy kan ’n hand vol raak as jy hom vlak kyk, soos die jong renjaer Stuart White by vanjaar se Emerald Speed Fest in Vanderbijlpark ontdek het toe hy beheer oor ’n Trackhawk verloor en herhaaldelik gerol het. Hy het gelukkig ongedeerd daarvan afgekom.
Die Trackhawk is darem nie ’n onsinnige ryding nie, want sy bagasieruim is groot en daar is TV-skerms agterop Ma en Pa se kopstutte sodat die kleingoed kan fliek kyk terwyl die grootmense oor grootmensgoed praat.
Wie is die tipiese ou wat ’n Trackhawk koop? Ons reken hy is vroeg in die dertig, woon in ’n spogbuurt en is baas van ’n suksesvolle sakeonderneming. By die halfopgerolde mou van sy Fabiani-hemp steek ’n stamtatoeëermerk uit en sy naam is iets soos Chad, maar met ’n Afrikaanse van soos Uys. Hy het dit egter op sy LinkedIn-profiel na “Ace” verander.
Chad sou graag ’n Ford Mustang 5.0 GT wou hê, maar hy’s deesdae ’n gesinsman en vroulief se voorwaarde was dat hy enigiets kan koop solank dit ’n sportnutsvoertuig is met vier deure. Min weet sy dat Chad se Trackhawk heelparty sportmotors se agterent kan skop...