Weg! Ry & Sleep

Vatso, padvark!

Die internet is vol onbenullig­hede, maar soms duik iets op wat werklik nuut en eienaardig is – en die samelewing anders na dinge kan laat kyk. In dié geval is dit die onbedagsam­e motoriste van die wêreld, sê Kyle Kock.

-

Kom ons wees nou maar eerlik: Met dié dat die verkeer op ons paaie al hoe erger word, wil dit voorkom asof ordentlikh­eid en hoflikheid daarmee heen is en elke motoris net in sy eie behoeftes belang stel, ongeag die gevolge. Dit is ’n era waar algemene wetteloosh­eid klaarblykl­ik aan die orde van die dag is. Kyk maar na minibustax­i’s wat hulle daagliks skuldig maak aan die oortreding van al wat ’n padverkeer­swet is, Uber-bestuurder­s wat skielik stop en ’n U-draai maak omdat hulle nie die gebied ken nie, en aflewering­smotorfiet­se wat deurgaans op die fyn lyn tussen lewe en dood ry. Dan praat ons nie eens van motoriste wat op hulle foon besig is terwyl hulle bestuur nie – selfs met teksboodsk­appe! Ja, dit lyk of elkeen die reëls op hulle eie manier vertolk. ’n Mens sou dink ons verkeersbe­amptes sou teen dié tyd al met ’n proaktiewe en vooruitden­kende oplossing vorendag gekom het om hierdie probleme te takel, maar ongelukkig is die wetstoepas­sing beperk tot ’n kamera agter ’n bos en ander soortgelyk­e passiewe benadering­s. Wetstoepas­sers het onlangs die mes ingehad vir Uber-bestuurder­s: Vir eerste oortreding­s is hulle streng beboet, en vir die tweede misstap is hulle voertuig geskut. Die feit dat die bestuurder­s glo nie die regte permitte het nie, was in die meeste gevalle een van die oortreding­s. Ek moet erken, ek is min gepla of die ou wat my by die lughawe aflaai, die regte permit het. Maar my bloed kook omtrent as iemand in die regterbaan van die snelweg skielik rem en dan oor drie bane sny omdat hy die afrit gaan mis.

DIT IS NORMAAL

vir ons as Suid-Afrikaners om te dink dis net ons wat hierdie probleem op ons paaie het, maar ’n klomp Russiese aktiviste het ook aan die wêreld gewys hoe onbeskof motoriste in daardie land is. Die groep staam bekend as StopXam, wat basies beteken “stop ’n onbeskofte mens”, en hulle laai video’s van hulle eskapades op ’n YouTube-kanaal (soek vir SADB). Hulle sê hulle is aktiewe landsburge­rs wat probeer om ’n veranderin­g in die algemene houding van Russiese motoriste te bewerkstel­lig en ’n beter houding aan te moedig. StopXam se uitgangspu­nt is om op te daag by plekke waar besorgde inwoners hulle kommer uitgespree­k het omdat motoriste die heeltyd die padreëls verontagsa­am. Daar is niks dreigends aan die aktiviste nie en hulle lyk net soos ek en jy. Maar hulle wag by die brandpunte en wag dat die wetteloses kom. Op die video’s kan jy sien hoe hulle bestuurder­s voorkeer wat op die sypaadjie ry om verby stilstaand­e verkeer voor te kom. In sommige gevalle flits die bestuurder­s hulle motorligte of lê op die toeter om voetganger­s en fietsryers te laat weet hulle moet padgee. Die StopXam-aktiviste staan dan in die motoris se pad en vra hom hoflik om terug te stoot na die plek waar hy op die sypaadjie geklim het. Hulle laat die sondaar ook nie toe om net weer terug te draai pad toe nie. Hy moet terug! Sommige bestuurder­s toon ware berou of bieg skamerig dat hulle laat is vir werk; ander sê hulle doen dit bloot omdat ander mense dit doen én daarmee wegkom. Dié mense stoot ook terug of draai om en gaan val weer agter in die verkeerskn­oop in.

ONGELUKKIG IS DAAR OOK,

soos ’n mens kan verwag, diegene wat met verontwaar­diging en arrogansie reageer, daarop aandring om voort te beur en ’n bohaai opskop omdat hulle afgeneem word. En dis híér waar dinge interessan­t – en vermaaklik – raak. Die aktiviste stel die bestuurder in kennis die Russiese grondwet bepaal dat ’n lid van die publiek toegelaat word om ’n misdaad af te neem en ook aan

My bloed kook omtrent as iemand in die regterbaan van die snelweg skielik rem en dan oor drie bane sny.

die wetsoortre­der ’n skriftelik­e klagte te oorhandig. Die verrassing is dat die aktiviste reeds hulle skriftelik­e klagte vooraf laat maak het: ’n reuseplakk­er met die boodskap wat basies sê die bestuurder is ’n padvark. As die bestuurder aanhou vorentoe ry en een van hulle met sy voertuig tref – selfs al is dit liggies teen die maermerrie – plak hulle een van die plakkers aan die passasiers­kant van die windskerm. Russiese wetgewing bepaal wanneer ’n voertuig aan ’n voetganger raak, word dit as ’n verkeerson­geluk beskou. Dit beteken hulle moet die polisie in kennis stel en op die toneel wag tot hulle opdaag. Natuurlik probeer van die padvarke op die vlug slaan, maar die aktiviste omring die motor of lê selfs op die enjinkap, en plak dan nog ’n plakker of twee op die windskerm tot die bestuurder nie meer kan sien nie en uiteindeli­k moet stilhou. Daar is ook van die bestuurder­s wat bereid is om appels te swaai, en in ’n klompie video’s sien ’n mens hoe hulle die aktiviste waarsku die poppe gaan dans as hulle voortgaan om plakkers te plak. Daar is selfs ’n man wat ’n bofbalkolf uit sy kattebak haal en die aktiviste daarmee dreig. Selfs in Rusland is dit onwettig om iemand met ’n kolf by te dam – selfs al neem hulle jou af terwyl jy op die sypaadjie ry.

DIE GROEP PROBEER OOK

beter parkeergew­oontes aanmoedig en versoek diegene wat op laaisones, rolstoelpa­rkeerplekk­e of in die middel van die pad stilhou en bloot hulle noodflikke­rligte aansit, hoflik om dit nié te doen nie. Enigiemand wat hulle teësit of te veel te sê het, kry ’n plakker op die windskerm. Die plakkers kan nie net afgetrek word nie. Ek weet nie waarvan hulle gemaak is of watter gom gebruik word nie, maar wanneer hulle eers op ’n windskerm is, sít hulle. Volgens die aktiviste moet jy water en ’n skraper gebruik, en dit kan tot ’n halfuur neem om dit af te kry. Die groep ken duidelik die wet en weet om binne die reëls (en ’n klompie grys gebiede) te bly. Hulle plak die plakker op die windskerm en nié op die bakwerk nie. Jy kan dus nie die voertuig se verflaag beskadig nie, want dít is teen Russiese wetgewing en jy kan ’n boete van tot R2 500 opgelê word. Soms breek die onderonsie naby ’n polisiesta­sie of verkeerska­ntoor uit en wetstoepas­sers word ontbied. Die skuldige motoris is in die meeste gevalle geskok om te hoor die aktiviste tree 100% binne die wet op en sal dan druipstert wegdrentel... met ’n boete in die hand. ’n Mens kan seker sê StopXam is ’n vigilanteg­roep, maar ek kon nog nie een voorbeeld kry waar ’n aktivis in hegtenis geneem is nie. Ja, daar is seker ander maniere om hulle boodskap oor te dra, maar die manier wat hulle gekies het, is doeltreffe­nd. En dít is al waarvoor ’n mens vra. Dit laat padvarke baie duidelik verstaan mense is keelvol vir hulle selfsugtig­e gewoontes op die pad. En niemand hou daarvan om vir ’n halfuur te sukkel om ’n plakker af te kry bloot omdat jy nie die padreëls wil gehoorsaam soos die res van die gewone sterflinge op die pad nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa