Weg! Ry & Sleep

REDAKTEURS­BRIEF

- REDAKTEUR schalk.jonker@media24.com

Dit voel vir my ek skryf al vir die afgelope vyf uitgawes elke keer presies dieselfde redakteurs­brief: “Die inperking is moeilik... hou moed... beplan solank jou eerste reis... die einde is hopelik in sig.” Maar hier sit ek nou en dit is die 126ste dag van die grendeltyd. My bier is op, die drankwinke­l is toe, die skole is weer gesluit en ek mag nie die Wes-Kaap se grense oorsteek nie. Ure voor die tydskrif gesak het, het ons wel gehoor jy mag darem nou in jou provinsie vakansie hou. Ek is nie iemand wat maklik my humorsin verloor nie, maar genade! Ja, ek besef mense se lewens is op die spel, maar ek kan nie anders nie as om ’n absolute weersin te hê in hoe die regering... Nee, wag. Kom ons laat dit eerder daar, om ons almal se onthalwe. Om my te help om van ons werklikhei­d te ontsnap het ek begin om van die reisboeke op my boekrak af te stof en weer te lees. Ek is pas klaar met McCarthy’s Bar deur Pete McCarthy. Hy toer deur Ierland en pas die agtste reël van reis (volgens hom) toe wat lui: “Moet nooit by ’n kroeg verbystap met jou naam daarop nie.” En kom ons sê maar net daar is ’n ooraanbod kroeë in Ierland met die naam McCarthy’s. Nodeloos om te sê kom hy ’n verskeiden­heid kleurryke karakters teë terwyl hy die wonder van die Ierse kultuur, geskiedeni­s en landskap beleef. Hy ontmoet ene Dara Molloy by Inishmore, een van die Aran-eilande in Galwaybaai, en dié vertel vir McCarthy hoe die roepstem van ’n sekere bestemming werk. Hy gesels oor hoe magies sommige plekke is en vertel van daardie spesiale gevoel wat die landskap, geskiedeni­s en ons persoonlik­e verbinteni­s daarmee omarm. Dit is ’n gevoel wat ons nie kan beskryf nie, maar dit is eg en iets waarvan jy die bestaan nie kan ontken nie. Molloy sê vir McCarthy elkeen van ons het ’n stem binne ons waarna ons moet leer om te luister. Jy hoef nie noodwendig te ontleed waar daardie stem vandaan kom nie, maar jy moet jou daarop instel. As jy kan leer om daardie stem te volg, sal dit lei tot vervulling. Ek hoor daagliks daarde stem binne my, en die boodskap is onverander­d: “Jy móét uitkom.” EK HERINNER JOU dat hierdie September-uitgawe die laaste maandeliks­e weergawe van Ry & Sleep is voordat die tydskrif al om die ander maand op die rak gaan verskyn. Soos ek laasmaand verduideli­k het, was dit ’n moeilike maar nodige besluit om ons voortbesta­an in hierdie ongekende tye te verseker. Onthou egter dat ons tussendeur ook aan spesiale projekte soos die immergewil­de Oordgids, 4x4-gids en Pretboek gaan werk en dat daar dus gereeld een van ons gedrukte publikasie­s beskikbaar sal wees. Die Oktober-November-uitgawe sal van 22 September af aan intekenare gestuur word en van 25 September af op winkelrakk­e beskikbaar wees. Tot dan, bly veilig!

Dit is ’n gevoel wat ons nie kan beskryf nie, maar dit is eg en iets waarvan jy die bestaan nie kan ontken nie.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa