Weg! Ry & Sleep

RY-INDRUK

Kan die Mahindra Pik Up hom aansluit by Suid-Afrika se groot vier, veral nou dat hy óók met ’n outomaties­e ratkas spog – of is dit sy lot om in die agtergrond te bly?

- Teks en foto’s Cyril Klopper

Suid-Afrika se vier gunsteling­bakkies wat verkoopsyf­ers betref, is die Toyota Hilux, Ford Ranger, Isuzu D-Max en Nissan NP300 Hardbody. In die vyfde plek staan die Mahindra Pik Up, wat graag saam met die onafskeidb­are vier musketiers – dit is nou D’Artagnan, Aramis, Porthos en Athos – op hulle avonture sou wou gaan, maar meermale as ’n buitestand­er beskou word.

Ons het in die inperkings­tyd ’n week lank die strate vir onsself gehad en kon die Pik Up se bene behoorlik rek voordat ons berge toe is om uit te vind hoe hy vaar in veldrytoes­tande. Kan die Mahindra Pik Up hom aansluit by die vier musketiers?

Só ry hy

Die Mahindra Pik Up se 2,2 ℓ-turbodiese­lenjin loop soos stroop in die stad, en die sesspoedou­tomatiese ratkas wissel seepglad op die langpad. Dit is nodig om dit te noem, want anders as met die Hilux, Ranger en D-Max sou jy dit nie kon dink as jy hom in ’n parkeerter­rein sien staan nie – die hoekige bakwerk is immers allesbehal­we vaartbelyn, en dis net die NP300 wat stadiger as die Pik Up lyk (en is).

Die sitposisie is gaaf en die stuuraksie voel reg, maar liewe aarde, die Pik Up se draaisirke­l ewenaar ’n ossewa van ouds. Jy moet mooi beplan in ’n parkeerter­rein, want hy kry nie sommer sy draai nie.

Ons hou van die groot syvensters en stomp voorruit. Dis ’n wildkyker se droom, want jy kan ’n 600 mm-zoemlens rondswaai sonder om die deurraam raak te kap – en danksy die stomp voorruit bak die instrument­epaneel nie so warm in die son nie. Dit is veel beter as die Hilux, Ranger én D-Max met hulle smal syvensters en skuins voorruit. Die NP300 gee jou ’n soortgelyk­e sig, maar jy sit heelwat laer as in die Pik Up. Die Pik Up se agterbank is effens knap en jou passasiers gaan kla dat hulle kiertsrego­p moet sit. Hier sou ons eerder die Toyota, Hilux en Isuzu oorweeg.

As ’n veldryer?

Ons het die Mahindra Pik Up na die Matroosber­gprivate reservaat buite Ceres geneem. Met ons besoek was die 4x4-roete met sy moeilikhei­dsgraderin­g van 3 droog en sonder sneeu (sien Ry & Sleep #37).

Ons het die banddruk verlaag van 2,2 bar tot 1,8 bar, en die eerste hindernis, Land Rover Hill, met viertrek en hoëstrekra­tte (4H) gepak. Dit is nie ons eerste besoek aan dié 4x4-roete nie en van al die voertuie waarmee ons al teen die berg uit is, het die Pik Up die meeste gesukkel. Ons kon wel die roete baasraak, maar dit was so hittete. >

Die elektronie­se vastrapbeh­eer was die kardinaal Richelieu in die verhaal, want hy’t heeltyd krag na die wiele gesny om wieltol te verhinder en probeer help waar dit nié nodig was nie. Uiteindeli­k het ons oorgeskake­l na laestrekra­tte (4L), nie omdat die terrein so moeilik was nie, maar bloot sodat ons die elektronie­se “hulpmiddel” kon afskakel. In 4L was die roete verspotmak­lik, hoewel ons uiteraard nou meer brandstof verbruik het.

Bo-op Matroosber­g is ’n laaste uitdaging met ’n moeilikhei­dsgraderin­g van 4 (as dit sneeu 5) wat bestaan uit hoë kliptrappe, los skalie en ’n steil bult. Al vier die Pik Up se wiele het hier getol en die bakkie het links en regs geskuif, maar kon nie ’n aks vorentoe beweeg nie. Waldo de Kock, die eienaar van Matroosber­g, was geensins verras hierdeur nie en sê min bakkies kan die laaste hindernis tem – tensy hulle ’n gewig op die laaibak dra. Ons reken die Pik Up is betreklik dieselfde as die Ranger, Hilux en D-Max as dit by veldryverm­oë kom, en beter as die Hardbody omdat dié nie meer met ’n ewenaarslo­t beskikbaar is nie.

Wat wel in die Pik Up én Hardbody se guns tel, is dat jy nie so jammer vir hulle voel as die spoggerige Ford, Toyota en Isuzu nie.

Met die terugkomsl­ag het ons die Mahindra se elektronie­se afdraandeb­eheer aangeskake­l en luilekker teruggesit terwyl die Pik Up die rem- en ratwerk behartig. Dit is iets wat die Hardbody nie het nie, maar die ander wel.

Slotsom

Die Mahindra Pik Up staan geensins terug vir sy mededinger­s nie. Ons is nie beïndruk met die vastrapbeh­eer nie, maar kan wel insien dat ’n groentjie – iemand wat nog nooit gaan 4x4-ry het nie – hierby sal baat vind.

Ons is dit met die res van Suid-Afrika se motormedia eens dat die Mahindra Pik Up uitstekend­e waarde vir geld is. Hy’s kennelik nie so wintie as ’n Ford Ranger Raptor of Toyota Hilux Legend 50 nie, maar as jy net ’n doodgewone bakkie soek, is die Mahindra Pik Up een vir almal, en almal vir een.

 ??  ?? WERKESEL. Die sogenaamde mHawk-2,2 ℓenjin (onder) is nie besonder fris nie, maar hy trek nietemin sterk genoeg – jy het nie ’n groter kapasiteit nodig nie.
WERKESEL. Die sogenaamde mHawk-2,2 ℓenjin (onder) is nie besonder fris nie, maar hy trek nietemin sterk genoeg – jy het nie ’n groter kapasiteit nodig nie.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa