Weg!

Birchenoug­hbrug, Zimbabwe, 81 jaar later

-

Het jy al oor die Birchenoug­hbrug sowat halfpad tussen die dorpe Mutare en Masvingo in Zimbabwe gery en gedink dit lyk nogal soos die bekende brug oor Sydney se hawe? Jy had gelyk! Die twee brûe is inderdaad “neefs” – al twee is deur die Britse ingenieur Ralph Freeman ontwerp. Die Birchenoug­hbrug is wel heelwat korter (329 m teenoor die sowat 500 m lange boog van die Sydneybrug).

Die Birchenoug­hbrug oor die Savérivier is in 1935 – drie jaar ná die Sydneybrug – voltooi om die mense in die ooste van die land toegang te gee tot die sentrale distrikte van die destydse Suid-Rhodesië. Ná die bou van die brug kon Suid-Afrikaanse toeriste ook makliker by die mooi bergdistri­kte in die gebied uitkom. Dit was in daardie stadium op twee na die langste enkelboogh­angbrug ter wêreld. Die brug het ook later jare op die Zimbabwies­e twintigsen­tstuk gepryk.

Roger Whitall van die plaas Humani Ranch naby die brug vertel voordat daar ’n brug was, het sy pa, Jimmy, mense se motors met osse oor die rivier gesleep. “As hulle nie wou betaal nie, het hy die motors losgemaak en net daar in die rivierbedd­ing gelos!” onthou Roger. Vir dié reisigers het Jimmy twee rondawels aan die dorpskant gebou vir verblyf.

Die brug is na sir Henry Birchenoug­h genoem. Die dorpie by die brug staan ook bekend as Birchenoug­h Bridge.

Birchenoug­h was destyds die voorsitter van die Beittrust, wat die geld vir die bou van die brug gegee het. Ná sy dood is sy as (en dié van sy vrou, Mabel) onder die brugstrukt­ure begrawe, met ’n plaatjie wat sê: “Within these walls repose the ashes of Sir Henry Birchenoug­h and of Mabel his wife. They wished to be laid to rest in the country they had served among the people they had loved. Rhodesia will hold them for ever in fond and grateful memory.”

– Suzaan Hauman

Bronne: rhodesianh­eritage.blogspot.co.za;

thesoverei­gnstate.org, australia.gov.au

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa