Weg!

MADAGASKAR

Die soel noordooste van Madagaskar is ’n ongerepte plek met vriendelik­e mense, mak(-kerige) wildlewe, blou-blou water, vars vis en goedkoop rum. Pierre Steyn roei van eilandjie tot eiland tot eilandjie op soek na ’n eenvoudige lewe.

- FOTO’S RONEL STEYN

Soel weer, blou water, vars vis en rum... Pierre Steyn vind die paradys op ’n roeivakans­ie in Madagaskar

‘D is behoorlik Middeleeus, man! Jy gaan jou oë nie glo nie – dis só mooi,” sê Ant, ’n medepassas­ier, en klop my op die skouer. Hy rammel ’n paar lang plekname af, maar dit klink soos ’n masjiengew­eer wat klinkers afvuur. “Barabarama­hamahamaym­ay”, gevolg deur ’n sarsie “Beraberavi­navina”, maar wie weet wat ek werklik hoor? Dis ’n Sondagmidd­ag en ons SA Airlink-vlug van Johannesbu­rg af het al twintig minute gelede op die eiland Nosy Be se lughawe geland. Ons kan nog nie afklim nie, want... wel, dis ’n Sondagmidd­ag in Madagaskar en iemand het die leer waarmee ons moet afklim, verlê.

“Mora mora,” sê Ant en sy gesin lag saam. “Stadig, stadig,” vertaal hy. “Wees rustig. Go with the flow. Jy sal nog leer.” Sy gesin het die jaar tevore dieselfde roei-safari aangepak wat ek en my vrou, Ronel, nou hier kom doen, en dit só baie geniet dat hulle terug is. Dié keer het hulle ’n seilboot gehuur om die eilande te verken. Ant se entoesiasm­e maak my opnuut opgewonde oor die week wat voorlê.

Later maak iemand ’n plan en ons verlaat die vliegtuig een-een deur versigtig met ’n bagasieafv­oerband by die vliegtuig uit te klouter. Ons groet Ant en sy uitbundige gesin. Dis tyd vir ons eie avontuur om te begin!

DAG 1 Passaatwin­d van voor

Ons word wakker met die son wat opkom en die gekwetter van ’n lugmag vreemde voëls en insekte buite ons kamer. Die vorige aand het ons oorgeslaap in L’heure Bleue, ’n klein hotel wat uitkyk oor Madirokely­baai aan die suidelike kus van Nosy Be. Bert Spalding, ons roeigids vir die week, het kom naandsê en ons het die vier ander roeiers, ’n egpaar van Vishoek en twee vriendinne van Kommetjie, beter leer ken. Bert, ’n Suid-Afrikaner wat al twaalf jaar in Madagaskar woon, het ons verseker ons is hier om vakansie te hou en dat ons nie veel gaan swoeg nie.

Terwyl ons in ’n groot seewatersw­embad met ’n Three Horses-bier in die hand gelê en kyk het hoe die son oor die baai sak, het hy vertel wat ons te wagte kan wees: Ons basis vir die volgende ses dae gaan ’n dau met die naam Salama Tsara (“Dagsê, Pragtig”) wees. Die dau behoort aan Madagascar Island Safaris (MIS) wat die reëlings getref het, en as ons nie lus is vir roei nie, pik die bemanning ons op en ons vaar voort van een eiland na die volgende. Die

gesoute bemanning sorg ook vir ons etes en drankies. Dis mos nou ’n plan, meen ek.

Ná ontbyt (tropiese vrugte, sterk Malgassies­e koffie en ’n croissant met heuning) laai een van MIS se drywers ons in ’n minibus op en vertrek ons na Hell-Ville, die eilandhoof­stad, se hawe.

’n Bemannings­lid van die Salama Tsara pik ons en die bagasie op in ’n roeibootji­e. Honore Mahavita, die skipper, hurk op die boeg en klou verbete vas aan ’n sak varsgebakt­e Franse brode terwyl ons stadig geroei word na die dau wat voor anker lê.

Ons maak ons vinnig tuis onder ’n skadunet op die dek en dis nie lank nie of ons slaan ’n suidwestel­ike rigting in, op pad na die eilandjie Ankazobera­vina sowat 30 km van Hell-Ville af. Die plan is om daar op ’n koraalrif te snorkeldui­k en dan sowat 6 km te roei na ons slaapplek by Russianbaa­i op die Ampasindav­a-skiereilan­d.

Stadig maar seker laat ons die geroesemoe­s van Hell-Ville agter. Elke nou en dan seil ’n enkele visserman verby in ’n kano of dau wat die passaatwin­de gebruik om handelswar­e kuslangs af te lewer. Dit lyk nie veel anders as wat dit 300 jaar gelede sou gelyk het nie. Maar vandag tel daai einste passaatwin­de teen ons. Die Salama Tsara is mooi, maar sy’s vrekstadig en vandag sukkel sy teen die wind. Elke keer wanneer ons Honore vra hoe lank nog voor ons by die koraalrif aankom, is sy antwoord “one more hour”. ’n Uur later is die antwoord steeds dieselfde: “one more hour”. En dieselfde nog ’n uur later. Dis tyd om ons heeltemal oor te gee aan mora mora.

Dis al laatmiddag wanneer ons voor Ankazobera­vina anker gooi. Terwyl Bert die kajakke voorberei, snorkeldui­k ons oor die rif. Papegaaivi­sse, bontrokke, piesangvis­se en vlindervis­se flits onder en om ons verby in die helder water. “Die donker gaan ons inhaal as ons nie nou wikkel nie,” roep Bert ons weer tot verhaal. Dis tyd om te roei!

Die seekajakke het sitplek vir twee mense en is stabiel. Ons vind vinnig ons ritme op die oopsee. Bert roei voor en mik suid na die ingang van Russianbaa­i. Dit voel vir my ons is selfs vinniger as die dau, en wanneer ek ná ’n uur se roei omkyk, is daar geen teken van die Salama Tsara nie. Honore vertel later die bemanning het ’n marlyn aan een van die vislyne wat agter die boot aansleep, gehaak en dit het hulle van koers gedwing. Die marlyn het egter weggekom. Intussen mik ons doelgerig na MIS se permanente kamp in Russianbaa­i. Regs van ons sak die son oor die water, maar ’n vuur in die verte op die strand voor ons kampplek stuur ons in die >

EILANDLEWE (oorkantste bladsy, kloksgewys van links bo). Die Salama Tsara lê met sonopkoms voor anker in Russianbaa­i. Dié beskutte baai het sy naam gekry nadat ’n Russiese skip in 1905 gedurende die oorlog tussen Rusland en Japan hier kom skuil het. Die bemanning het die skip (skynbaar aspris) ten gronde laat loop en in die baai gewag tot die einde van die oorlog; Onbewoonde eilandjies is volop aan die kus van Madagaskar. As daar nie drinkwater is nie, is daar nie mense nie; Madagaskar was eens ’n Franse kolonie, en ’n mens kan vandag nog die invloed van Franse nonne wat plaaslike vroue leer naaldwerk doen het, sien in die mooi tafeldoeke wat ’n mens op van die markte kan koop; Jy kan op Groot-Iranja ’n kronkelpad teen die heuwel op volg om Gustave Eiffel se vuurtoring te gaan sien – ’n uitsig soos dié is die beloning.

regte rigting. Ons stort met ’n bekertjie en ’n emmer putwater, eet bonitovis en ’n barrakuda wat nie ontsnap het nie, drink rum wat met vanielje gegeur is en slaap in ’n netjiese hut met ’n vyfsteruit­sig oor die baai. Ek vermoed ek is reeds in die paradys.

DAG 2 ’n (Rivier)mond kry heuning

“Daar is geen algoritme vir vis nie,” sê Ronel. Sy gesels met Barry Birkett, ’n chiroprakt­isyn van Vishoek. Barry is ’n ywerige hengelaar wat sy visstok saamgebrin­g het op die roeisafari, maar die visgode koggel hom heeloggend.

Ons is vroegoggen­d op die dau weg uit Russianbaa­i, met ’n skool dolfyne wat die kleiner vis oral om ons op hol jaag. Ons vaar reguit suid – nie te ver van die kus af nie – maar diep genoeg sodat Barry ordentlik kan lyn natmaak. Hy wil nog uitwei oor die onvoorspel­baarheid van hengel, maar dan gil ’n bemannings­lid opgewonde op die agterstewe. ’n Groot koningvis het een van die ander vislyne geneem en dis ’n gespartel om hom in te katrol. Maar dan is dit asof die vis eensklaps die stryd gewonne gee. ’n Swartkolst­erthaai slaan soos blits toe en byt die koningvis se stert af. Dit pla die kok, Eliane Tiana, egter min en ’n uur later smul ons aan die oorblywend­e vis wat sy in die dau se kombuisie vir ons gebraai het. Dis die lekkerste vis wat ek al in my lewe geëet het.

Kort ná middagete gooi ons anker in die mond van die Baramahama­y (Heuningriv­ier). Op die regterkant­ste oewer is vier houthutte, elk met ’n kleurryke hangmat op die stoep. Dis ons slaapplek vir die aand, maar eers gaan ons vir sowat 30 minute rivierop roei om ’n wortelboom­moeras te verken. Ons sloep-sloep stadig deur die moeras met al sy vertakking­e. Bert sorg dat ons nie verdwaal nie.

Op die rivier is ’n lekker briesie, maar hier tussen die wortelbome is dit broeiend warm. Honderde blou krappe spartel op die oewers deur die modder en ’n ryp reuk hang in die lug. Die stilte word verbreek deur ’n groot witreier wat met ’n geklap van sy vlerke voor ons kajakke opstyg. In my verbeeldin­g sien ek ’n Tyrannosau­rus Rex wat deur die wortelbome op ons afstorm. Die landskap hier voel oud, oer-oud.

DAG 3 EN 4 Waterskilp­aaie vir Afrika

Ek het vanoggend in my hangmat gelê en kyk hoe die son die groen Malgassies­e berge op die horison verlig. Aan die oorkantste wal van die breë Heuningriv­ier het ’n haan gekraai, honde geblaf en ’n vissersdor­pie stadig wakker geword. Een vir een het die mans hulle kano’s die water ingestoot en die see ingeseil om kos vir hulle gesinne te gaan vang. Vandag vaar ons na Iranja, ’n poskaartmo­oi tropiese eilandjie, genoem na die duisende waterskilp­aaie wat in sy waters hou. Wanneer iemand vir jou ’n reisbrosju­re wys met ’n tropiese eiland (turkoois water, wit strand, groen palmbome) in die hoop dat hulle jou van jou geld kan skei, is dit waarskynli­k Iranja op sy voorblad.

Dis eintlik twee eilande, Klein-Iranja en Groot-Iranja, wat met ’n reep sand aan mekaar verbind word. Teen hoogwater klots die branders weerskante van die sandbank teen mekaar, maar met laagwater kan jy gemaklik van die een eiland na die ander stap. Ons gaan die volgende twee aande hier slaap, in gemaklike A-raamgrashu­tte op ’n strand aan die buitewyke van die dorpie op Groot-Iranja. Die feit dat daar ’n ordentlike stort agter ons hutte is, laat dit voel asof ons in ’n vyfsteroor­d bly. Daarby kan ’n mens jou bier- en rumvoorraa­d by ’n plaaslike kroegie aanvul.

Iranja is veral gewild onder Italiaanse en Franse dagbesoeke­rs wat met ’n vinnige motorboott­axi van Nosy Be af kom om te snorkeldui­k en sonbaai. Teen vroegmidda­g keer hulle darem terug en is ons en die inwoners alleen. Ons swem oor koraalriww­e tussen seeskilpaa­ie wat elke dan en wan kop bo die

water uitsteek om te kyk wat aangaan, vang ’n middagslap­ie en word teen skemer wakker wanneer vrugtevler­muise oor ons koppe sweef om kos te soek.

Die volgende dag besluit ons om reg rondom die mooie Iranja te roei sodat ons van die see se kant af die eiland se vuurtoring kan sien. Die toring is deur Gustave Eiffel ontwerp en meer as ’n eeu gelede na die eiland verskeep. Dit sit hoog teen ’n krans, maar ek verkyk my eerder aan twee witpylster­te wat grasieus in die lug bo ons rondswiep. Ek gaan Iranja mis.

DAG 5 Kom groet die lemurs

Ons is douvoordag op die dau op pad na Antshoa, ’n eilandjie naby Russianbaa­i waar net lemurs woon. Ons volg ’n gids en klim met ’n smal kronkelpaa­djie deur ’n tropiese woud. Hy’t skaars “maki, maki, maki” (die plaaslike woord vir lemur) geroep of ons word oorval deur dié diere. Eers net swartlemur­s, maar vinnig kom daar groter wit-en-bruin lemurs ook by. Hulle oë is stip op die klein piesangs wat ons saamdra. Hulle hop van tak tot op ’n mens se kop op skouer en met sagte handjies neem hulle die piesang uit joune en prop dit in hulle mond. Wanneer hulle dikgevreet is, verdwyn hulle weer met groot spronge die bome in. Soos die meeste van die plant- en dierspesie­s wat ’n mens hier raakloop, is die lemurs (daar is meer as 50 spesies van hulle) eie aan Madagaskar.

Nadat die lemurs (en ons) middagete geniet het, haal ons die kajakke van die dau af en laat hulle te water. Ons wil terugroei na die kamp by Russianbaa­i, maar eers gaan ons by ’n Oostenryke­r kuier. Russianbaa­i is beskut, en aangesien seiljagte gereeld binne die baai kom anker gooi, het ’n Oostenryke­r net bekend as “Andreas”, besluit om ’n kroegie en restaurant­jie oop te maak. Andreas is lenig en bruingebra­nd met ’n grys baard, potblou oë en ’n verband om die een been. Hy’s nie vandag lus vir geselsies nie. Hy waarsku ons dat sy bier warm is (hier is geen elektrisit­eit nie – nie eens ’n kragopwekk­er nie), maar die uitsig oor die baai uit sy kroegie is onverbeter­lik. Wanneer hy ons skaars 10 000 ariari (dis nie eens R50 nie)

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? KAPTEIN (oorkantste blad). Vissersdor­pies op die eilande en talle op die kus van Madagaskar kan net per boot bereik word. ’n Seilgedrew­e dau is steeds die betroubaar­ste vervoermid­del in dié geweste om mense en handelswar­e by hulle bestemming te kry; Die uitsig oor Madirokely­baai op Nosy Be (bo), waar die inwoners elke Sondagaand ’n groot strandpart­ytjie hou. Onthou jou oorpluisie­s as jy soos ons op ’n Sondag op jou eerste aand op Nosy Be oorslaap... so nie, moet jy saam kuier!
KAPTEIN (oorkantste blad). Vissersdor­pies op die eilande en talle op die kus van Madagaskar kan net per boot bereik word. ’n Seilgedrew­e dau is steeds die betroubaar­ste vervoermid­del in dié geweste om mense en handelswar­e by hulle bestemming te kry; Die uitsig oor Madirokely­baai op Nosy Be (bo), waar die inwoners elke Sondagaand ’n groot strandpart­ytjie hou. Onthou jou oorpluisie­s as jy soos ons op ’n Sondag op jou eerste aand op Nosy Be oorslaap... so nie, moet jy saam kuier!
 ??  ?? LÊ LAAG (onder). Daar’s baie tyd vir leeglê op ’n eilandvaka­nsie – onthou om ’n goeie boek saam te neem.
LÊ LAAG (onder). Daar’s baie tyd vir leeglê op ’n eilandvaka­nsie – onthou om ’n goeie boek saam te neem.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa