LANDMETERSKOP, NABY STANFORD
Landmeterskop is die soort plek wat jou laat wonder watter waarde ’n voorstedelike bestaan het.
Die eienaars, Theuns en Val Steenkamp, kom oorspronklik van KwaZulu-Natal af en het dié grond in 2011 gekoop sodat Theuns sy droom van voltyds boer en Val haar toerismebelangstellings kon uitleef.
Dis ’n wenkombinasie. Val se selfsorgverblyf is silwerskoon en goed deurdag en Theuns se plaas loop soos ’n goedgeoliede New Holland-trekker.
Kinders is welkom en word soos eregaste behandel. Hulle kan elke aand die lammers, varkies, eende en alpakkas voer en hulle kan ook eiers uithaal vir ontbyt. Hier is trekkerritte en oorgenoeg plek om rond te hardloop en fiets te ry. Die swemdam is so helder dat jy die bodem kan sien – al is dit vier meter diep. Gryp die roeibootjie of een van die binnebande en plons na hartelus.
Die avontuurlustiges kan tot bo-op ’n berg met twee uitkyk- punte stap of fietsry, of net rustig raak met ’n koppie tee en ’n boek. Nie lus vir kosmaak nie? Bestel vooraf heerlike etes wat afgelewer word en jy dan net kan warm maak. Hoe klink lamsbredie en boneslaai met kaaskoek en ’n bessiesous (ongeveer R150 p.p.)? Waar bly ek? Die Homestead is ’n groot huis met slaapplek vir 13 mense in sewe slaapkamers, ’n plaaskombuis en ’n stoep en braaiplek met ’n dak – ideaal vir daai familiereünie wat jy al so lank dreig om te reël.
Hier is ook twee huisies, elk met ’n kombuis, eet- en sitkamer, ’n stoep en ’n slaapkamer vir twee. Koste Van R330 p.p. wat deel. Gaan na die webblad vir meer inligting. Wat pla? Net een ding: Dis moeilik om hier plek te kry! Naweke is gewoonlik lank vooraf vol. Bespreek nou vir julle naweek, of kyk op die webblad vir spesiale winteraanbiedinge in die middel van die week. Kontak 082 653 8110 (Val); landmeterskop.com
– Jon Minster