SLAAN DIE SONSAMBRELE OOP
Die Indiese Oseaan se sterk seestrome en die rotsagtige kuslyn by Knysna het al menige swemmer en vaartuig in moeilikheid laat beland.
Soek jy ’n veilige swemstrand, is Buffelsbaai die plek vir jou. Soos jy die stranddorpie inry, is die Giandee-strand aan jou linkerkant, maar die hoofstrand is waar jy wil wees.
Hier is ’n groot parkeerterrein, restaurante en ’n kafee. Die strand is stapafstand van die woonwapark, en hier is veel meer om te doen as net swem.
As die wind sterk genoeg waai, gebruik valskermswewers die strand om te lanseer, branderplankryers pak die dieper branders aan, en jy kan selfs tussen Buffelsbaai en Brenton-on-Sea stap.
Brenton-on-Sea of die versteekte Coney Glen is goeie plekke vir tan, maar bly liefs uit die water – hier’s gevaarlike trekstrome. Stap by Brenton-on-Sea met ’n plankiespad af tot op die strand. Vissermanne staan en lyn natmaak terwyl hulle die opskiet-branders ontduik.
Maar jy kan kwalik ’n beter ligging kry as Coney Glen. Dié klein strand is teenaan The Heads en is omring deur woud, branders en kranse. Hier is ook ’n piekniekplek waar jy oor middagete ’n tjop op die kole kan gooi.
Behalwe vir die see kan jy ook in die strandmeer lyf natmaak. By Bollardbaai op Leisure Island kan jy kniediep in die water staan sonder dat die branders jou van jou voete af slaan.
BONUSSTRAND: Draai by Hornlee af en volg die pad vir 5 km tot by
Noetzie, bekend vir sy kastele. Parkeer jou motor en stap af tot by die klein strand by die mond van die Noetsierivier.