PILANESBERG
Pilanesberg is ’n puik bestemming vir Gautengers, want dis skaars twee uur se ry soontoe. Die verblyf hier is effe afgeleef, maar vrek, jy kan die Groot Vyf in ’n naweek sien!
Jy hoef nie verlof in te sit om die Groot Vyf te sien nie – doen dit sommer oor ’n naweek in dié park.
Dis altyd opwindend om vir die eerste keer by ’n plek aan te kom. ’n Stukkie wêreld wat jy nog net op foto’s gesien het, kry skielik gestalte. Soms is dinge mooier as wat jy gedink het. Ander kere is dit bloot ’n bedrieglike advertensie. Pilanesberg is iets van albei. Met die intrapslag by die Manyaneruskamp lyk dit asof die Noordwes-parkeraad van Pilanesberg vergeet het: Die geboue is afgeleef en plek-plek kan jou peuter wegraak in die onkruid. By ontvangs is die mense egter vriendelik en paraat, en gou soek ek ’n staanplek uit vir die naweek.
Ek slaan my tent op onder ’n staning doringbome. Ja-nee, dié kampterrein het genoeg bome sodat elkeen ’n stukkie bosgevoel ervaar.
Vroeg die volgende oggend klim ek op die Tshwene-teerpad en mik na die suidooste van die park op die Tshepe-roete.
Hoewel die geriewe na aan opgee is, is die omgewing mooier as wat ek kon droom. Manyane is omring deur skouspelagtige berge. Dié berge word meer as 1 000 miljoen jaar gelede gevorm. Lang storie kort: ’n Vulkaan het oor eeue heen verskeie kere hier uitgebars en ingeplof en só die berge en valleie in konsentriese sirkels gevorm. Trouens, geoloë is dol op Pilanesberg en dis een van die besbewaarde voorbeelde van ’n alkaliese kringgangkompleks ter wêreld... Maar dit daar gelaat.
Dis hoogsomer en die berge is toegegroei onder welige bosse. Groot lowergroen bome troon bo die hange uit. Dit lyk asof ’n yslike luiperd in elke skadukol skuil. Ek bekyk elke tak totdat my oë traan, maar die donker klowe en koel rotse verklap niks nie. En so byna ry ek om ’n skerp draai in ’n alleenloper-olifant vas omdat ek die omgewing vir ’n kolkat fynkam. Die grootvoet lyk nie lus vir gesels nie en ek moet ’n ent agteruit ry voordat hy weer rustig aanstap in die ander rigting.
Dis my stil kind daai...
Later die middag mik ek vir die Bakgatlaruskamp in die noordooste van die park. Eers gaan draai ek op die Moloto-roete. Hier sien ’n mens ve-e-er. Troppe wildebeeste en sebras wei spekvet in die groen gras. Olifante staan soos massiewe standbeelde teen die landskap. ’n Miskruier kruiwa sy bal oor die grondpad.
Voertuie word al hoe minder terwyl ek verder noord ry. Die meeste besoekers en wildkykvoertuie vol Chinese toeriste ry heeldag om en om die mensgemaakte Mankwe-
dam rofweg in die middel van die park waar ’n mens die meeste wild teëkom.
Die noorde raak gou my gunsteling-deel van die park. Teen sowat 550 km² is Pilanesberg nie vreeslik groot nie, maar tog voel jy in hierdie deel ver verwyder van die Guptas en hulle dinge.
Ek kap my tentpenne in by die Bakgatlaruskamp. Bakgatla het minder bome en meer onkruid as Manyane. Maar as twee vriende van Johannesburg die aand by my aansluit en ons vuur brand hoog, voel ons tog dieperig in die Bosveld.
Pieter Steyn en Simon Sonnekus was vanmiddag nog by die werk... en nou sit hulle langbeen in die bos. Dis sekerlik die grootste rede waarom Pilanesberg so gewild bly. Vir Gautengers en oorsese toeriste is dit tjoef-tjaf en hulle is hier, tússen die Groot Vyf.
Die volgende oggend pak ons die luiperdmissie met hernude ywer aan. Vergeefs. Olifante, wildebeeste, sebras, kameelperde en rooibokke is wel volop. ’n Mens kan skaars glo dat hier op ’n tyd bittermin wild was.
Dié park is gestig in 1979 en tydens Operasie Genesis, toe een van die grootste wildskuifoperasies van sy tyd, is sowat 6 000 diere hierheen gebring – selfs leeus van die Etosha- nasionale park af!
Teen die middag se kant hoor ons via die riemtelegram van ’n troppie leeus wat by die Mankwedam rondlê. Ons gaan kyk of ons hulle te siene kry. ’n Klompie voertuie dui gou aan waar die aksie is. Maar genade, die leeus is ver en lê plat op hulle sy. Ons wag. Die trop van ses kom later lui op die been en begin stadig al langs die waterrand stap.
En toe is dit asof al wat mens is in Noordwes, op die toneel toesak. Dit raak ’n gespook om iets te sien. Van die mense klim uit hulle voertuie en tel hulle kinders op die dak, met ’n wie-weet-hoe-honger leeu wat sowat 50 km van ons af verby stap. Nee, man!
Dis ons laaste oggend in die park en ons ry al die afdraaipaadjies om die dam. Op die Mankwepad beduie ’n vriendelike ou daar het pas ’n luiperd oor die pad en in die klipperige koppie ingedraf.
Daar kry ons ’n enkele voertuig met mense wat die bosse en klippe bespied asof Charlize Theron met ’n tas vol Lotto-geld haar opwagting gaan maak. Ons neem stelling in.
Soos Die Skim van ouds verskyn die luiperd skielik op ’n rots onder die skadu van ’n bos. Skaars 30 m van ons af! Ta gee ons ’n paar warm kyke met sy geel oë, stap teen die rots af en verdwyn weer veld-in. Dit gebeur so vinnig dat ek wonder of dit my verbeelding was.
Maar daar is hy op my kameraskerm – een van die mooiste katte op die aardbol. En skielik vergewe ek Pilanesberg die onkruid en die moeë blyplek, die slaggate... >