4 Addo-olifant- nasionale park
PORT ELIZABETH
’n Reuse-trop olifante beur deur spekbome, en skuifel en gooi slurp rondom ’n watergat. Die kalfies speel in die modder... ja, ’n mens kan heeldag olifante dophou, maar die res van die park wag!
Dié park het vyf dele en die gewildste een vir dagbesoekers is die Colchester-deel, wat jy in jou voertuig kan verken.
Ry die park by die suidelike Matyholweni-hek langs die N2 tussen Port Elizabeth en Grahamstad binne. Ry dan rustig in ’n noordelike rigting langs die hoofwildkykroete. Die kinders sal dit geniet om die verskillende spesies af te merk op die gratis kaart wat jy by die ontvangskantoor kry. Met ’n bietjie geluk sien julle dalk ’n rooijakkals, ’n trop buffels of ’n Kaapse grysbok.
Draai af langs die Ngulube-luspad en fynkam die gebied vir leeus – die park se 15 leeus hou hier rond. Mik ná die luspad noord en draai af by Jack’spiekniekkol vir beskuit en fleskoffie.
Onthou om op pad na die hoofkamp by die Hapoorwatergat stil te hou. Dis soos die Vida e Caffè van die park. Olifante wíl hier gesien word.
Geniet middagete by die Cattle Baron-restaurant in die hoofkamp. (Bespreek liefs vooraf by 042 233 8674). Die springbokboud smaak vorentoe.
Besoek ná middagete die Interpretasiesentrum, raak allerlei braaivleisvuurfeite wys en bekyk die gemonteerde kop van Hapoor, die park se bekendste olifant. Hapoor was tussen 1944 en 1968 die dominante bul. ’n Jagter se koeël het ’n stuk uit sy oor “gehap”. Dis te verstane dat dié grootvoet min ooghare vir mense gehad het.
Verken nou die roetes rondom die hoofkamp. Ry teen die bult uit na die Zuurkop-uitkykpunt ( jy mag uitklim). Die panoramiese uitsig – derduisende groen spekbome met die Zuurberg wat tot op die horison strek – sal ’n mooi Timeline-foto op jou Facebook-blad maak. Gaan sit ook ’n rukkie by die Domkragdam- en Gwarriepan-watergat.
Sluit jou dag af by die hoofkamp se ondergrondse skuiling. Jy sit digby die watergat, amper voyeuristies, en hou ongesiens die diere dop wat nader stryk om teen sononder water te drink. Dit lyk soos ’n toneel uit Noag se ark as olifante, buffels, volstruise en sebras saam kom aantree. Hoe kom ek daar? Die park is 72 km buite Port Elizabeth. Die Matyholweni-hek is langs die N2 in Grahamstad se rigting en die hoofhek langs die R335. Tye 7 vm. tot 6.30 nm. Koste R62 per volwassenes, R31 per kind; gratis met ’n Wild Card of van 18-22 September. Kontak 042 233 8600