7 Mokala- nasionale park
KIMBERLEY
Hierdie is nie ’n park waar jy agter leeus en luiperds aan jaag nie. Hier kom raak jy rustig en soek skaarser wild soos swartwitpense, bastergemsbokke en bakoorjakkalse. Ry die park vroegoggend deur die Lilydale-hek sowat 50 km van Kimberley af binne.
’n Entjie voor die Lilydale-ruskamp draai ’n paadjie links af na ’n uitkykpunt. Staan op die houtdek en tuur oor die grasvlakte. Skink vir jou ’n koppie koffie, want die kanse is goed dat jy daai einste skaars bokke hier gaan gewaar. ’n Trop buffels mag dalk ook van doer van die horisonlyn af aangesuiker kom.
Jou oog is nou in; ry die Vaalbosroete wat rondom dié vlakte loop en later by die hoofroete tussen die Lilydale- en Mosu-ruskamp aansluit. Werk stadig westekant toe op dié hoofroete. Hou stil by elke watergat langs die pad – rooihartbees, tsessebe, gemsbokke of ’n vlakvark of twee kom les dalk net hulle dors. Dis amper middagetetyd en die veld is nou meestal in die skadu van groot kameeldoringbome.
Draai regs op die Kameeldoringroete in die middel van die park en ry na die Kameeldoringpiekniekplek. Steek ’n vuurtjie aan en gooi ’n vleisie oor die kole – Erfenisdag is immers ook Braaidag. Hier is ook netjiese badkamers.
Niemand is lus om met ’n vol maag en oor die middaguur wild te soek nie; mik dus ná ete na die Stofdamskuiling sowat 6 km suid van die piekniekplek en gaan span vir ’n wyle uit. Van Stofdam na die Matopiroete behoort jy heelwat koedoes te sien.
Maar kyk ook uit vir elande en kameelperde. Ry eers die Matopiroete voor jy ’n entjie terugkom en op die Tsesseberoete afdraai. Die Tsesseberoete is in die mooiste deel van die park. Jy kyk wyd oor die rooi sandveld, en tussen die kameeldorings deur sien jy gemsbokke, wildebeeste en kameelperde rondstaan. Hou by die watergat stil of soek bloot ’n mooi kameeldoringboom langs die pad, draai jou ruite af en luister hoe die korhane roep terwyl die son rooi raak. Die Mosuhek is mos naby en jy hoef eers teen 6 nm. uit te wees. Hoe kom ek daar? Mokala is sowat 50 km suidwes van Kimberley – jy draai van die N12 af. Tye 7 vm. tot 6 nm. Koste R37 per volwassene, R18 per kind; gratis met ’n Wild Card of van 18-23 September. Kontak 053 204 8300 (Lilydale);
053 204 8000 (Mosu)