DAG 3 NDUMO Gaan soek ’n visuil
Stel vandag die GPS vir die NDUMO-WILDRESERVAAT. Pasop vir koeie en bokke wat tot op die P522 loop. Dagbesoekers betaal R60 p.p., halfprys vir kinders en R50 per voertuig, maar dit geld nie as jy oorbly nie.
Ndumo het buffels en renosters, maar jy’s nie hier vir die groot ouens nie; jy’s hier om voëls te kyk: Hier is 430 aangetekende spesies! Joseph Gumede werk al 24 jaar as gids by Ndumo en hy sê die park se ligging is die rede hoekom die voëls (en die voëlkykers) hierheen stroom. Die kombinasie van sandwoud, vloedvlaktes en panne is die perfekte bymekaarkomplek vir ’n voëlkonsert.
Bespreek wanneer jy by ontvangs aankom ’n begeleide stap saam met Joseph die volgende oggend (R150 p.p.; ’n gewapende veldwagter stap saam). As jy met ’n tweewielaangedrewe voertuig hier is, ry die Balemhlangaroete al langs die parkgrens.
As jy wel ’n 4x4 het, pak ’n stukkie boerewors en houtskool in en ry na die RED CLIFFS-UITKYKPUNT. Dié kyk uit oor die Usuthurivier, wat Suid-Afrika van Mosambiek skei (GPS S26.85306 E32.20611). Hier’s braaigeriewe, piekniektafels en ’n toilet.
Hou op pad terug stil by die uitkyktoring by die ingangshek vir ’n uitsig oor die Lebombobergreeks in Swaziland en die Mosambiekse vlaktes. Draai nog 5 km verder, op pad terug kamp toe, links na die EZULWENI-VOËLSKUILING en slaan jou Roberts-voëlgids oop.
BLY HIER
NDUMO-RUSKAMP Ndumo se hoofkamp is basies maar gemaklik, met baie bome wat skadu gee. Hier is selfsorgchalets met slaapplek vir twee en ’n kampterrein met elektrisiteit. Die chalets en die kampplek deel ablusiegeriewe en ’n swembad. Jy kan basiese voorraad soos drinkwater by die ontvangswinkel koop, of jou eie saambring. Koste Kamp vanaf R130 p.p.; chalets vanaf R800 p.n. (slaapplek vir 2). Kontak 033 845 1000; kznwildlife.com