VAN SPITS TOT SEE
Die Oos-Kaap is ’n beskeie plek wat nie grootpraat oor sy ryk geskiedenis en natuurwonders nie. Kom ry saam oor die móóiste passe, van die stert van die Drakensberg tot onder by die Wildekus, na plekke waarvan jy nog nooit gehoor het nie.
Afrika is nie vir sissies nie. Cowboy country. Wat nie doodmaak nie, maak sterk... Dié sêgoed draal deur my kop terwyl ek en my toermaats uitkyk oor die Indiese Oseaan iewers op ’n afgeleë kol langs die Wildekus. Links van ons strek groen kusveld van die Transkei so ver soos die oog kan sien – sonder ’n mens in sig. Regs van ons kom ’n verdwaalde bees eensaam oor die rotse aangesukkel.
Voor ons gaap die bek van ’n mensgemaakte tonnel wat onder die rotse in verdwyn. Geroeste brokstukke van ’n stokou stoomenjin lê rondom gestrooi. Onstuimige branders slaan teen die rotse asof dit met die klip baklei.
En doer agter die branders lê die wrak (en volgens oorlewering allerhande skatte) van die Grosvenor – ’n Britse vragskip – wat laataand op 4 Augustus 1782 hier in Lambasibaai, omtrent halfpad tussen die kusdorpies Port St. Johns en Port Edward, op die rotse geloop het.
“In that instant, the men, who had just been engaged in revelry, stood looking at one another, and for a frozen moment each recognised in the other a dead man,” skryf Stephen Taylor in The Caliban Shore, sy boek oor die Grosvenor. Daar was 150 bemanningslede en passasiers (vroue en kinders ook) aan boord. Altesaam 136 mense het die angswekkende nag oorleef en dit tot by die kus gemaak. Maar dit was net die begin van hulle beproewing. Die oorlewendes het stry gekry en in groepies verdeel wat elkeen ’n eie rigting ingeslaan het. Die meeste het van honger omgekom. Enkeles het ingeskakel by van die Pondo-stamme (die Britse soldaat John Bryan het byvoorbeeld ’n ystersmid geword met die naam Umbethi – die Slaner).
Uiteindelik het ’n hand vol uitgemergelde matrose by die nedersetting by Port Elizabeth aangekom, en nog ’n paar is later deur ’n soekgeselskap opgespoor.
Volgens die vragbrief was daar ’n fortuin aan staafgoud aan boord. Maar die onvoltooide tonnel en die geroeste stoomenjin is al wat oorbly van die talle mislukte pogings om die Grosvenor se fortuin op te spoor.
Ja, op ons reis sou ons gou agterkom die Oos-Kaap maak nie sommer sy skatte bekend nie, en gaan hulle beslis nie maklik afstaan nie.
Alle paaie lei na Rhodes
Ons toer het vyf dae gelede begin aan die suidelike puntjie van die Drakensberg. Ons het by vyf ander paartjies en ons gids vir die week, Paul Wigley van Mpafa-toere, aangesluit by die
Walkerbouts Inn op die bergdorpie Rhodes.
Die plan is om vir twee dae die omgewing rondom Rhodes te verken, dan oor Naudésnek te ry na die Wildekus. Ná twee dae op Koffiebaai draai ons noordoos en takel ons die propperse Wildekus. Ons toer eindig by die Greenfire Lodge by Port Grosvenor, naby die Mkambati-natuurreservaat.
Die parkeerterrein voor Walkerbouts is vol “ordentlike” 4x4’s. Hier’s ’n Toyota Fortuner en ’n Hilux, ’n Volkswagen Amarok en ’n kortgat Mitsibushi Pajero. Paul sien ek kyk effens bekommerd na my Volkswagen Tiguan. Saam met ’n Nissan Murano is ons die enigste “sagte” 4x4’s in die groep.
“Julle het niks om oor bekommerd te wees nie. Ons ry stadig en gaan niks onverantwoordeliks aanvang nie,” stel Paul ons gerus. Dis in elk geval môre se dinge. Ek gaan nou eers die dorp verken.
Daar is dele van die Oos-Kaap wat jou aan die Wilde Weste herinner.
Skemertyd gooi die son sy laaste strale deur die takke van die sambreeldennebome op Rhodes. As jy deur die stofstrate slenter, kan jy jou maklik verbeel jy hoor Clint Eastwood om die volgende hoek aangeklop-klop kom.
Maar dis nie die Pale Rider op sy perd Death nie – dis ’n veewagter wat ’n troppie beeste aanjaag. Hy wil hulle in die kraal kry voordat die volmaan, wat pas kop uitgesteek het, te hoog die hemelruim inklim.
Die gemoedelike Dave Walker, eienaar van Walkerbouts, is seker die naaste wat jy gaan kom aan ’n sheriff. Hy is immers ’n oudburgemeester van die dorp. Met sy indrukwekkende grys baard, kruisbande en jeans, kort hy net ’n silwer ster op die bors en ’n rollie aan die sy om die rol te vertolk.
En daardie aand, nadat ons aan skaapboud (’n plaaslike skaap s’n), gebraaide aartappels en malvapoeding gesmul het, kuier ons in Dave se kroegie waar hy vertel van Rhodes se wettelose dae in die laat 1800’s, die hippie-era in die jare 70’s en hoe die dorpie danksy toerisme weer sy voete gevind het.
Tussen jou en my lê daar ’n berg
Vandag klim ons ’n berg uit. Sy naam is Ben MacDhui (3 001 m) – die hoogste spits wat heeltemal binne die grense van die provinsie lê.
Die ander een is KwaDuma (3 019 m), maar sy een boud is in Lesotho. Ons verlaat Rhodes en mik noord na die Tiffindell-ski-oord. Ons ry ’n ent langs die Bellrivier. Die takke van >
wilgers en populiere wieg in die oggendbriesie.
Ons kruie stelselmatig op teen ’n tweespoorpad. Op, op, op kronkel ons deur groen valleie tot bo-op ’n plato waar ’n see van gras vir ons wuif. In die verte sien jy die houthuise en groen dakke van die Tiffindell-ski-oord wat vasklou aan Ben MacDhui se hange.
Die sneeu is nog maande in die toekoms, maar ons kry kans om die oord te verken. Party ry die paadjie van Tiffindell na die spits in hulle 4x4. Ek en my vrou, Ronel, gaan hom (weer) uitstap. Jare gelede het ons in die winter terwyl die sneeuvlokkies om ons dartel tot by die kruin gestap. Vandag is die lug koel, maar nie ysig nie. Langs die pad sien ons bergblomme soos die pers Tiffindell-magenta ( Delosperma lavisiae) en die geel Tiffindell-goud ( Cotula) wat hier naam gekry het. Deesdae blom hulle in tuine regoor die wêreld.
Ná 40 minute se stewige stap (dis darem nie te steil nie) is ons bo. Het iemand al ooit ’n berg uitgeklim en ná die tyd gesê die uitsig was saai? Ben MacDhui stel ook nie teleur nie! Voor en onder ons lê Suid-Afrika smaraggroen uitgestrek tot op die gesigseinder. Agter ons styg en daal Lesotho se spitse en valleie soos die voue van ’n verfrommelde kombers.
Ons raak stil, skep asem, neem groepfoto’s, en ry dan af saam met Roland en Chrissie Wilkinson van Newcastle.
Ná middagete by Tiffindell suiker ons konvooi soos ’n klompie trapsuutjies op ’n takkie af tot op Rhodes. Teen die tyd dat ons by Bernie’s – ’n plaaslike boetiekbierbrouery net buite die dorp – laer trek, het ons ’n stewige honger (en dors) opgebou.
Julius Masiwu, ’n boorling van Rhodes, is die brouer hier, en ons is lus om alles op sy spyskaart te proe. Sy Saison, ’n seisoenale bier in die Belgiese styl, is beslis my gunsteling.
Oor passe en deur dale
Paul help my vroegoggend om die bande van die Tiguan af te blaas. Vandag sê ons tot siens Rhodes en hallo Koffiebaai. Dis ’n lang dag se ry en ons moet eers oor Naudésnek kom. Die pas (2 590 m) is waarskynlik die hoogste in die land wat jy met ’n gewone voertuig kan takel (die Sanipas is hoër, maar jy’ t ’n 4x4 nodig).
Naudésnek kronkel oor 32 km en die klim begin net oos van Rhodes op die R396, by ’n piekniekplek en gedenkplaat ter nagedagtenis aan die twee Naudé-broers Stephanus en Gabriël wat die pad begin bou het in die 1890’s om hulle toegang te gee tot Maclear.
Die twee boere se hande het duidelik vir niks verkeerd gestaan nie, want dis ’n padbou- meesterstuk wat meer as 100 jaar later nog sy man staan.
Na aan die bopunt van die pas roep Paul halt op die tweerigtingradio. “Kyk links,” sê hy. “Lammergeiers.”
My hart maak bollemakiesie. Dis die eerste keer wat ek dié bedreigde baardaasvoël van naby sien. Ek sukkel aanvanklik om die voëls deur my verkyker op te spoor, maar dan kry ek hulle. Een, twee, drie... nee, sommer vyf wat in die vallei links van ons op die warm lug sweef.
’n Mens sou dié begaafde sweefkunstenaars ure lank kon dophou, maar ons moet aanstoot – ons moet nog sowat 250 km ry vandag.
Terwyl ons afdaal kus se kant toe, verander die mooi om ons. Die Alpe-landskap van die suidelike Drakensberg word sagter, ronder en meer boomryk terwyl ons die voetheuwels inry. Ons ry oor die Potrivierpas op die R396, waar rooipootvalkies in rye op die telefoondrade sit voor die lang trek terug na Siberië.
Net voor die dorpie Maclear tref ons die eerste keer weer teerpad. Anderkant Ugie draai ons af op die R412 na Mtatha. Kort daarna ry ons op een van Suid-Afrika se indrukwekkendste passe, die Langenipas, wat meer as 700 m deur en dan met ’n viaduk óór ’n inheemse woud daal.
Dis dan ook hier waar jy jou eerste beeste van die toer om ’n skerp draai in die middel van die Langenipas aantref – lekker aan die dut op die warm teer. Nou weet jy... Ons is in die Transkei!
Wild en wakker
Ons het vanoggend in die Ocean View Hotel wakker geword met die ritmiese gesuis van branders wat langsamerhand op die strand breek. Daar was wel koffie in die restaurant, maar van die koffiebome, waar dié kleurryke dorpie sy naam kry, is niks meer oor nie.
Die storie loop dat ’n skip met ’n vrag koffiebone in 1863 by die monding van die Nengarivier gestrand het. ’n Jaar later het honderde koffieplante op die oewers van die rivier opgeskiet, en só het Koffiebaai sy naam gekry.
Net sowat 8 km suidwes van Koffiebaai troon die Hole in the Wall-rotsformasie uit die see – een van mees ikoniese plekke langs die Wildekus, trouens, in die ganse Suid-Afrika.
Soos met die meeste van die Oos-Kaap se natuurlike skatte word hier nie ’n groot fanfare van gemaak nie. ’n Mens verwag daar moet elke kilometer ’n inligtingsbord wees wat aankondig: “Een van die wêreld se natuurwonders – net 6 km verder!” en “Jy gaan jou oë nie glo nie – net 4 km”. Maar nee, jy ry oor ’n heuwel... en
skielik staan hy daar. Boem! Geen toegangsgeld nie en g’n mense nie. Jy parkeer jou motor, klim uit en gaan neem stelling in op die koppie met ’n puik uitsig oor esiKhaleni – die plek van die geraas.
Dis hipnoties om te kyk hoe die branders elke paar sekondes met ’n geskal deur die massiewe rotsboog bars. Elke brander kalwe nog ’n bietjie aan daai gat.
’n Entjie van my af sit ’n ou man. Sy hande gevou op die kierieknop waarop sy ken rus. Hy staar uit oor die see. Onder op die rotse soek ’n jong man na mossels wat hy later as aas gaan gebruik om iets vir die rooster te vang.
Waar kransaasvoëls antwoord gee
Toe ons twee dae later na Port Grosvenor in die hartland van die Wildekus ry, is ek so ontspanne jy kan met my toor. Ek gee nie om dat ons net teen 30 km/h aankruie nie.
Jy kán nie vinniger ry nie. Die pad laat dit nie toe nie. Die bokke laat dit nie toe nie. Die beeste – veral die beeste – laat dit nie toe nie. Maak vrede daarmee.
Op ons laaste dag volg ons vir Paul van Port Grosvenor af op ’n grondpad verby brokstukke van sementbunkers wat wagstaan oor ’n verlate vliegveld, ’n oorblyfsel van die Tweede Wêreldoorlog. Dit was die langvergete tuiste van die Suid-Afrikaanse Lugmag se Ventura-bomwerpers wat meer as 70 jaar gelede langs die woeste kus na Nazi-duikbote gesoek het.
In die middel van nêrens, met geen padteken wat rigting gee nie, draai Paul van die grondpad af en die veld in op ’n vae tweespoorpad. Ná 20 minute se ry deur grasveld hou ons by ’n groot houtdek stil. Van die dek af kyk jy uit oor die diep kloof wat die Msikabarivier deur die landskap kerf op pad na die Indiese Oseaan.
Anderkant die kloof lê die Mkambatina tuurreservaat. Een van die grootste kolonies kransaasvoëls ter wêreld hou in die kranse onder ons. Hier broei tot 170 pare, en deur die loop van die oggend sweef hulle van krans tot krans. Namate die lug warmer word, vlieg hulle ál hoër. As jy die dag gelukkig is, swiep hulle so naby jou verby dat jy die veertjies in hullle vlerke kan tel.
Hoeveel mense in Suid-Afrika weet van dié plek, wonder ek terwyl die kransaasvoëls nog hoër die hemelruim insweef. Op hierdie vakansie het ons soveel ongelooflike plekke gesien wat jy nie sommer in ’n brosjure raaklees nie. En dis die beste soort plek.
Dankie Oos-Kaap, dat jy nog ’n geheim kan hou. >