FRANSCHHOEK
Parlez-vous français? Nie? Toemaar, Franschhoek is nie só Frans nie – Suid-Afrikaners kan ook hier kuier! Hier’s jou plan vir ’n dag wat met ’n berguitsig begin, ’n stukkie sjokolade en ’n glas wyn insluit en by ’n motormuseum eindig.
OGGEND
Pak toebroodjies en ’n fles koffie in en ry eers deur die dorp en uit teen die Franschhoekpas tot by die Mont Rochelle-natuurreservaat aan die bopunt. Hier is sewe stappaadjies, maar julle is met vakansie: Kies die Vista-paadjie. Die hekwagter kom 8 vm. aan diens en sal beduie waar julle moet stap.
Dié sirkelroete (2,5 km) vat minder as 2 uur – dié met kort beentjies sal dus kan byhou. Ná sowat 30 minute se stap kry jy ’n uitsig oor die hele Franschhoekvallei. Haal nou daai toebroodjies uit en verkyk julle aan die dorp, die wingerde en die berge reg rondom.
Bring die res van die oggend in die dorp deur. Hou by die Hugenotemonument ( 021 876 2532;
museum.co.za) aan die onderpunt van die hoofstraat stil en begin hier. Betaal die toegangstarief (R10 per volwassene, R5 per kind) en bekyk die monument van nader. Hier’s ook ’n sonwyser met die name van die oorspronklike Franse Hugenote. Dié wat nog interessanthede oor die Hugenote wil sien, soos ’n ou Bybel wat destyds al die pad uit Frankryk saamgekom het, kan ’n draai maak by die museum (nog R10 per volwassene, R5 per kind).
As die kinders mooi soet saam met Ma en Pa na ’n geskiedenisles geluister het, beloon hulle met ’n sjokoladeproe by De Villiers Chocolate Café ( 021 874 1060;
dvchocolate.com) 200 m van die monument af, in die hoofstraat. Vir vanaf R57 kry jy 4 blokkies van elke soort sjokolade (5 soorte per proe) – julle kan dit dus onder mekaar deel. Maar julle gaan nog wil hê: Koop ’n plak (R32) – die Intense Cocoa is ’n donkersjokolade-staatmaker en meer avontuurlustige eters sal van die kaneel-en-rissiegeur hou.
Soet tot by jou ore? Die Tuk Tuk Microbrewery ( 021 492 2207; tuktukbrew.com) sit net skuins oorkant die pad. Vier 100 mlproeglasies (lager, dunkel, weiss en ligte bier) kos R52. Die lager is heerlik (R44/500 ml). Hier is ook tapaseetgoed, maar byt vas – julle gaan nou-nou op ’n wynplaas eet!
Stap nog ’n ent met die hoofstraat langs en loer in by die kunsgalerye en ander geskenkwinkeltjies. By Tap & Cork ( 021 876 4120; tapandcork. co.za) kan jy olyfolie en balsemiekasyn proe en koop. Hier’s verskeie geure, van lemmetjie-olyfolie (R38/125 ml) tot granaatasyn (R51/125 ml).
MIDDAG
Stap terug kar toe en mik na ’n wynplaas. Hier’s báie om van te kies – meer as 50 in die vallei. As jy die wynvallei behoorlik wil verken, kom op ’n ander dag weer en koop ’n wyntremkaartjie (sien die kassie). Die wyntrem is nie die moeite werd as jy net tyd het vir een plaas nie.
Kyk vooraf op franschhoek.org. za vir ’n volledige lys van wynplase, met elkeen se trekpleisters en aktiwiteite. By La Bourgogne ( 021 876 3245; labourgogne.co.za) kan julle onder die sambrele buite sit en wynproe (vanaf R60 p.p.) en ’n peuselbord geniet (R220, vir twee mense) terwyl die kinders op die klimraam speel.
Hier’s ’n kinderspyskaart ook – ’n boereworsrol met aartappelwiggies kos R65.
Franschhoek het baie restaurantopsies as julle nie op ’n wynplaas middagete wil eet nie.
Franschhoek Cellar ( 021 876 2086; thefranschhoekcellar.co.za) is op jou linkerkant soos jy met die hoofstraat by die dorp uit ry. Hier’s ’n speelplek en klimraam vir die kinders, en die spyskaart het ’n taamlike verskeidenheid: van spaghetti bolognese vir die kinders (R48) tot ’n gourmetsalmbroodjie (R85) of geroosterde varklies (R130).
Maak op pad terug N1 toe ’n draai by die Franschhoekmotormuseum op die L’Ormarinsplaas (draai links van die R45 af op pad na die Paarl, sowat 10 km buite die dorp). Hier word 80 rygoed op ’n slag uitgestal wat die ontwikkeling van motors deur die jare wys. Diegene wat nie regtig omgee oor enjins nie sal dit ook interessant vind: Hier’s onder meer ’n Ferrari wat eens aan Mick Fleetwood, die tromspeler van Fleetwood Mac, behoort het, en die Chevron B25-renmotor waarmee Ian Scheckter in 1972 die Formule 2-kampioenskap gewen het.
– Suzaan Hall