Uvongostrand, KwaZulu-Natal
Ek het elke liewe somervakansie van my kinderjare deurgebring in Uvongo, ’n kusdorp noord van Margate, in ’n vakansiehuis wat my ma met haar broer en suster gedeel het.
Ek en my suster het byna uit die kar geval as ons daar gestop het ná ’n lang rit van Johannesburg af.
Ons sou dan na die klipperige strand oorkant ons huis hol, maar ons het die meeste van ons tyd op Uvongostrand deurgebring. Ons het ure lank op die strand baljaar... soms saam met my pa, Roy (foto onder).
Uvongo is steeds ’n mooi plek, maar destyds was die strand wilder, meer dramaties. Die ou La Crete Hotel was nog nie gesloop om plek te maak vir verbeeldinglose vakansiewoonstelle nie. Die bisarre luukse ontwikkeling langs die waterval van die Vungurivier was nog nie aan ’t verbrokkel nie.
Die natuur het nog die oorhand gehad. Groen kuswoude het van die kranse af getuimel en visse het geflits deur die vlak water van die strandmeer. Vir my jong oë was die branders wat teen die kaai geslaan het, woedende monsters – net die dapperste seuns sou durf om hulle te ry.
Daai seuns was my drie nefies, almal ouer as ek, en hulle het in Pretoria gebly. Hulle sou ure aaneen in die branders met hulle lyfplanke verdwyn. Ek sou my vergaap aan hulle gespierde bruin lywe wat dobber in die water en wens ek kon een van hulle wees. (Ek dink een van hulle was dalk ’n finalis vir Mnr. Mini Margate...)
Ons het gesmul aan lietsjies, slaptjips wat drup van die asyn, en samoesas, wat ons jaar ná jaar by dieselfde Indiër-tannie gekoop het. Warm, nat wind. Taai vingers, sandvoete. Weerlig wat oor die see flits. Wafels. Middagslapies in die skaduwee van ’n strandsambreel, doodmoeg en dooddollies.
Later jare het ek wel ’n paar branders gery met my blou Hot Buttered-lyfplank. Ek het skoolvriende en later universiteitsvriende (sonder ouers!) aan Uvongo voorgestel. Ons was dom en is beroof. Ek onthou een middag toe ek in ’n donker bui was, het ek op ’n bankie gesit met Smashing Pumpkins in my ore, en gekyk hoe die lig op die water kaats tot wat ook al stukkend was, weer heel was.
Deesdae kuier ek op Uvongo met my twee seuns, Elliot en Francis. Ek kyk hoe hulle oor die grasperk nael en af met die seepaadjie...