Weg!

Beach View, Oos-Kaap

-

Ons is van die Oos-Kaap se binneland – Cradock-distrik – en het nie baie by die see gekom nie. Wolboere het eintlik net een of twee keer per jaar Baai (dis nou Port Elizabeth) toe gegaan wanneer bale by BKB afgelaai moes word. Dan het jy met volksvreem­de goed soos Kentucky Fried Chicken, neonligte en die see in aanraking gekom.

Hoewel ons altyd ook op een van die Baai se strande – soos Koningstra­nd – sou gaan kaalvoet loop, was stadstrand­e eintlik te gevaarlik vir die Coetzers. Ons het uitgewyk na die rustiger strand by Beach View, sowat 30 km wes van Port Elizabeth.

Beach View het in die 1980’s ’n netjiese woonwapark gehad en ons het sommige Aprilvakan­sies die Jurgens-woonwa agter die Passat (later die Cressida) gehaak en soontoe gesleep.

Régte skaapboere het daai tyd nooit in die somer see toe gegaan nie, want jy kon nie jou vee alleen los oor die feestyd nie. Sê nou daar kom fout by die drinkbakke? Dán kan jy nie op die strand rondlê nie.

By die Beach View-woonwapark het ek, my ouer broer en jonger suster ordentlik met die see kennis gemaak. Daar was ’n getypoel waar dit veilig was om te swem, en in die vlak golwe het my pa saam met ons rondgeplas. (Ek ken geen Coetzer wat al dieper as heuphoogte in die see was nie.) My ma het gesorg dat ons ingesmeer is met sonskermro­om, en dat ons altyd hoede dra. Ek dra vandag nog altyd hoed, maar dis omdat ek nou bles is.

Ons het met nette in die rotspoele vissies probeer vang, ons vingers in die grillerige mond van ’n anemoon gedruk en pampoentji­eskulpe gesoek. Die woord “periwinkle” het my woordeskat hier binnegekom, ook bloublasie.

My pa het ons geleer om “organiese” sandkastel­e te bou – sonder plastiekvo­rmpies en grafies. Jy grawe in die sand tot waar dit nat is sodat jy “vloeibare” sand het. Dan laat jy dit deur jou vingers drup om stapeltjie­s en torinkies te maak. Ons het dit “ketottertj­ies” genoem... (foto bo).

Ek dink ek is sowat ses jaar oud op hierdie foto. Dis goed om te weet dat ek nog steeds daarvan hou om Hawaiise hemde te dra!

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa