D
ie wind steek sy ysvingers in die holte van my nek en waai traanstrepe tot agter my ore in. Ek kan nie meer my tone voel nie, maar wie gee om? Voor my lê ry op ry berg tot op die horison. Ek is ’n moderne ontdekker tussen berge en valleie waar bittermin toeristestewels trap.
In Lesotho is ’n plat stukkie aarde so skaars soos glutenvrye brood op Brandvlei, en byna elke pad is ’n kronkelende bergpas. Jy moet jou voertuig se remme én jou kuitspiere toets voordat jy hier kom vakansie hou. Want jy gaan stáp om by die mooiste plekke uit te kom.
Vir ’n klein land het Lesotho verbasend baie indrukwekkende uitsigte. Jy moet minstens twee keer in jou lewe hier kom draai om die metamorfose van somer na winter te aanskou.
In die somer lê die landjie soos ’n verfrommelde groen wolkombers so te sê in die middel van Suid-Afrika. Wintermaande verander die koue dié groen grasvelde in goudgeel, bedek die bergpieke met sneeu en vries watervalle in skouspelagtige yskolomme.
Die beste plek om die Bergkoninkryk in al sy glorie te sien is in die land se amptelike groen kolle (twee nasionale parke en ’n natuurreservaat). Maar moenie Sanparke verwag nie.
Dinge hier is meer, um, informeel. By die hek stof die wag dikwels die spinnerakke van die permitboek af. Jy sal waarskynlik meer oor die parke se plant- en dierelewe kan Google as wat die personeel kan vertel. En jy moet meestal self uitpluis hoe die staproetes werk.
Maar as dit by natuurskoon kom, kan hierdie drie maar spog. Elkeen het sy troefkaart: Die Bokong-natuurreservaat sit hoog tussen bergpieke aan die bopunt van ’n 3 000 m hoë pas, Ts’ehlanyane lê tussen valleie met inheemse fynbos en bergbamboeswoude om te verken, en Sehlabathebe se grasvlaktes, rotspoele en sandsteenformasies herinner aan ’n David Attenborough-dokumentêr.
Al drie is aan die klein kant – teen 65 km² is Sehlabathebe die grootste. Maar Lesotho ís ’n klein land – dis skaars groter as Gauteng. In ’n land waar die meerderheid mense op bestaansboerdery staatmaak, is dié drie beskermde gebiede belangrik vir die voortbestaan van die inheemse plant- en dierespesies. Die Malutirooivlerkie – ’n hoogs bedreigde visspesie – kom byvoorbeeld net hier voor.
Die parke is nie omhein nie – ek het hier en daar ponieruiters wat kortpad vat, aangetref – maar dis van die enigste plekke in die land waar jy nie skaap- of beesklokke hoor lui of ’n mielieland sal aantref nie.
In die ou dae was dit moeilik om die parke te verken sonder ’n taai 4x4, of ’n perd. Gelukkig het Chinese ingenieurs honderde kilometers van Lesotho se grondpaaie met gladde teerlinte vervang.
Jy kan deesdae met ’n Ford Fiesta tot by Bokong en Ts’ehlanyane ry. Trouens, as jy vroeg genoeg wegtrek uit die Oos-Vrystaat, kan jy jou lyf dagbesoeker hou in een van die twee. Bokong is sowat 80 km van Ficksburg af en Ts’ehlanyane sowat 55 km van Fouriesburg af.
Sehlabathebe is egter ’n ander storie. Die grondpaaie soontoe is in ’n beter toestand as in die verlede, maar dit neem minstens 6 tot 8 uur om by die hek uit te kom, en jy moet ry met ’n voertuig met hoë grondvryhoogte.
Maar die beloning is groot. In Sehlabathebe sien ’n mens die wind se aanloop oor die landskap: van sy snelle vaart deur die grasvelde en kabbelspore oor die rotspoele tot dit loei om die sandsteenformasies en uiteindelik in die berge wegraak. >