Weg!

Op soek na water in die Hel

-

Johan du Toit van Amanzimtot­i vertel: In 1975 hou ons vir die eerste keer in die Kaap vakansie. Ons bly in Doringkloo­f, Centurion, en ons nuwe bure, wat Kapenaars is, inspireer ons om ’n lang toer te doen. Ons gaan onder meer verby Graaff-Reinet en al die pad tot op Stellenbos­ch (waar ons so baie wyn koop dat ons dit met die trein moet terugstuur na Pretoria), en uiteindeli­k terug huis toe via onder meer Mosselbaai en Kimberley.

Ons gaan draai ook op Oudtshoorn, waar ons al die gewone goed doen: Ons besoek die Kangogrott­e en ’n volstruisp­laas en eet volstruiss­teak.

Ons vat die pad na die bekende Swartbergp­as en kom by ’n bord wat die weg na Gamkaskloo­f aandui. Ons ken glad nie die omgewing nie, en het ook nie ’n padkaart by ons nie. Watter kant toe moet ons gaan – Gamkaskloo­f toe of aanhou met die Swartbergp­as?

As kinders het ons altyd dié truuk gebruik om te besluit waarheen ons volgende moet gaan: Jy spoeg in jou hand en slaan dan met jou vingers daarin. Die kant waarheen die spoeg spat, is die rigting wat jy inslaan. Ons doen dit, en die spoeg spat sowaar links... Gamkaskloo­f se kant toe. Oukei, hier gaan ons!

Ons kruie by die pas af, en my vrou, Helena, en haar suster, Ina, gil nou en dan van spanning oor die steiltes langs ons. Ons sien ou motorwrakk­e langs die pad. Terloops, het ek genoem ons ry dit in ’n 1975 Toyota Corona?

My vrou word eerste dors, en later ons almal. Later ry ons oor ’n stroompie. “Ek drink nie water uit ’n stroompie nie,” antwoord my vrou.

’n Entjie verder kry ons twee seuns langs die pad. Ons vra of daar dalk ’n kafee êrens is waar ons iets te drinke kan koop. “Nee, Oom, die enigste water is die stroom ’n entjie terug.” Vroulief is onverbidde­lik: “Ek sal dit nie drink nie.” Verder ry ons verby ’n ou huisie waar ’n ou oom onder die boom aan sy pyp sit en suig dat die rook in wolke rondom hom staan. Ons hou stil: “Het Oom dalk vir ons water?” “Natuurlik,” antwoord hy. “Daar’s heerlike koel water en ’n beker in die kombuis.”

Die huisie is baie skoon met ’n blinkgevry­fde perskepitv­loer. Op die tafels taan ’n emmer en blikbeker – eintlik ’n Ilovo-stroopblik met ’n tuisgemaak­te handvatsel. Die water is vars en koud. Op pad terug kan ek nie help om my vrou te vra nie: “Nou waar dink jy kom die water in die emmer vandaan?” (* Helena het my intussen ontval.)

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa