AGTER DIE SKERMS
Lloyd Zandberg vertel ons in die nuwe rubriek “Brief uit Windhoek” (bl. 144) van sy lewe in Namibië se hoofstad.
Wat is jou verbintenis met Namibië? In 1991 het ek my eerste asempie iewers in Windhoek geskep. My familie sê ek was een van daai gillende peach- kleur babas, maar ek het maklik uitgekom. Blykbaar was dit net ’n ligte hoesie en sowat drie drukke, toe’s ek daar. Ek was amper so hoog soos ’n sonneblom, toe trek ons Melkbosstrand toe. Daar het ek skoolgegaan, geleer rook en ná skool het ek in Kaapstad gestudeer. Vier jaar gelede het ek na Namibië teruggekeer om die waters hier te kom toets.
Waarmee hou jy jou besig? Ek skryf tans my tweede boek en gaan binnekort op toer met my eenmanvertoning Ons is almal só. Intussen is ek die kuns- en vermaakredakteur van ’n weeklikse bylae van Namibië se enigste Afrikaanse dagblad, Die Republikein. Naweke drink ek te veel water en te min wyn.
Wat maak Windhoek ’n spesiale plek? Dis nie so kosmopolitaans soos byvoorbeeld Kaapstad nie, maar ons het ook boetiekbier, gin specials, buitelugfeeste, kunsgalerye en hipsters. En ons het net ’n bietjie verkeer. Ek wil nie eens begin praat oor die vleis nie. Wat onderskei ’n Namibiër van ’n Suid
Afrikaner? Afgesien van skoenkeuses (SuidAfrikaners hou om een of ander rede van Salomons – dis asof dié wat dit dra, probeer sê hulle hét in ’n stadium vreeslik gedraf, maar nou nie meer nie...) vind ek Namibiërs se eerlike, amper naïewe benadering tot die lewe boeiend. “Dankie” beteken nog “dankie” en “hoe gaan dit?” is ’n vraag, nie net ’n terloopse tussenwerpsel nie.
Wat is jou gunstelingplekke in Namibië? Die Hartmannvallei in die noordweste roer my elke keer. My voorliefde vir fotografie het ook daar vlam gevat. Die Epupa-waterval, om die eenvoudig rede dat dit my oupa Charles se gunstelingplek is om poësie te skryf. Ek hou van hoe hy dink, en sy denke word daar gebore.