Weg!

STORIES AFRIKA

- DEUR TOAST COETZER

Baie van ons droom van ’n selftytoer deur Afrika. Maar hoe pak ’n mens só iets aan? Met ons Klassieke Reisplan – dis hoe! Hier’s jou 70 dae lange roete deur Zambië, Tanzanië, Rwanda en Malawi!

Droom jy van ’n selfrytoer deur Afrika, maar weet nie waar om dié olifant te begin eet nie? Hierdie (epiese!) Klassieke Reisplan behels ’n 70 dae lange roete waarop jy Zambië, Tanzanië, Rwanda en Malawi kan besoek. Sommer in jou eie bakkie...

Waar begin ’n mens? Die beplanning vir ’n lang reis deur Afrika is makliker as wat jy dink en die kanse is goed dat al die toerusting wat jy nodig het – van ’n voertuig tot kampgoed – reeds in jou motorhuis staan. In verlede maand se tydskrif ( Weg #166) het ons ’n paar lesers se wenke gedeel oor hoe om só ’n reis aan te pak. In hierdie artikel stel ons ’n 70 dae lange reisplan voor, met voorgestel­de oornagplek­ke (meestal kamp) waarmee jy van SuidAfrika deur Botswana en Namibië na Zambië kan ry.

Daarvandaa­n mik jy na Tanzanië en Rwanda, waar jy omdraai en terug huis toe ry deur Malawi, ’n stukkie Mosambiek en Zimbabwe.

Hierdie roete – grotendeel­s gegrond op my eie reise – kan natuurlik aangepas word om by jou behoeftes te pas. Jy kan langer bly by sekere plekke óf sommige lande (soos Mosambiek en Zimbabwe) heeltemal misry. Jy kan ook verder noord ry en Kenia, Uganda en Ethiopië bywerk – maar daarvoor gaan jy meer tyd nodig hê.

Jy hoef nie al die nasionale parke aan te doen wat ons noem nie – kies waarvoor jy lus is. Maar belangrike­r: Besluit waarop jy geld wil uitgee. Hoe meer parke jy besoek, hoe meer sal dit jou kos, en as jy spesiale ekskursies wil doen soos om na berggorill­as (of sjimpansee­s) te gaan kyk of ’n ballonvaar­t oor die Serengeti te neem moet jy vooraf daarvoor begroot. Maar ook: As jy net wil ry en kyk hoe die wêreld lyk, kan ’n bielietoer soos hierdie eintlik heel bekostigba­ar wees. Jy kamp, jy maak self kos en omdat jy nie vinnig gaan ry nie (nè?), kan jou brandstofv­erbruik in toom gehou word.

Buiten die paaie binne die parke is 95% van hierdie roete op teerpad. Dis soms goeie teerpad en soms swak teerpad. Maar dis teerpad, en dit maak die lewe makliker.

Om terug te kom na “Waar begin ’n mens?”... Die antwoord is eenvoudig: jou reis begin hiér! >

Tot in Botswana

Afhangend van waar in Suid-Afrika jy woon, sal dit jou ’n dag of twee ekstra neem om tot in Botswana te kom. Dis 650 km ver, maar jy kan vandag van Pretoria af tot by Woodlands Stop Over net noord van Francistow­n vorder. Gebruik die Groblersbr­ug-grenspos (teerpad), of die klein Stockpoort-grenspos (stiller).

Plan B As jy in die Kaap wegspring, wil jy dalk eerder deur Namibië ry. Sluit weer aan by ons toerplan op dag 4.

Hoogtepunt Vanaand braai jy met mopaniehou­t. BLY HIER Woodlands Stop Over woodlandsc­ampingbots.com

Kasane, Botswana (484 km)

Druk deur tot in die noorde van Botswana en slaap in Kasane. Slaap twee aande hier, want jy is nou langs die Choberivie­r: Gaan op ’n sonsonderg­angvaart op die rivier of ry ’n draai deur die Chobe- nasionale park. Jou vakansie het nou amptelik begin.

Hoogtepunt­e Olifante! G&T’s! BLY HIER Chobe Safari Lodge chobesafar­ilodge.com Thebe River Safaris theberiver­safaris.com Senyati senyatisaf­aricampbot­swana.com Kubu Lodge kubulodge.net

Zambesiriv­ier, Namibië (128 km)

Groot riviere soos die Zambesi is een van die redes hoekom jy hierdie toer doen. Ry van Kasane af deur die Ngomabrug-grenspos tot in Namibië (sien ook die Kazungulap­ont-kassie hiernaas). Stroomaf van Katima Mulilo lê ’n hand vol puik blyplekke waar jy die vloei van die rivier uit jou kampstoel kan dophou. Span uit onder die groot oewerbome en raak rustig. Hoogtepunt Soek ’n visuil in die oewerwoud, of vang ’n tiervis.

BLY HIER Caprivi Houseboat Safari Lodge caprivihou­seboatsafa­ris.com Zambezi Mubala Lodge & Camp

gondwana-collection.com Caprivi Mutoya Lodge caprivimut­oyalodge.com

Zambesiriv­ier, Zambië (64 km)

Daar is deesdae ’n stil teerpad wat noordwaart­s van Sesheke (net oorkant die grens van Katima Mulilo) parallel met die Zambesiriv­ier loop. Ry tot by Kabula Lodge waar daar ’n groot kampplek met baie gras en skaduwee op jou wag.

Hoogtepunt Nog ’n nag aan die Zambesi! BLY HIER Kabula Lodge kabulalodg­e.com

Kafue- nasionale park, Zambië (580 km)

Begin vroegdag, besoek die Siomawater­val (Ngonye) en ry noord tot by Mongu, waar jy oos draai (als teerpad). Slaap een aand by Kasabushi Camp wes van die Kafuerivie­r en een aand by Mayukuyuku Bush Camp net oos daarvan.

Hoogtepunt­e Soek wildehonde, en ontmoet ’n nuwe boksoort: die poekoe.

BLY HIER Kasabushi kasabushi.wordpress.com Mayukuyuku Bush Camp mayukuyuku.com

Mkushi, Zambië (480 km)

Ry tot by Mumbwa waar jy afdraai op ’n grondpad tot by Landless Corner, op die Great Northern-pad. Sodoende sny jy Lusaka se verkeer uit. Die Great Northern-pad is vol vragmotors: ry versigtig. Eet middagete by Fig Tree Café net buite Kabwe, en draai dan oos by Kapiri Mposhi in die rigting van Mkushi tot jy die Forest Inn langs die pad sien. Dis ’n lang dag se ry dié; begin teen eerste visarendro­ep.

Hoogtepunt The Fig Tree Café se biefburger is bobaas. BLY HIER Forest Inn forestinn-zambia.com

Mutinondo Wilderness, Zambië (325 km)

Draai af en gaan eet middagete by die sierlike Kundalilaw­aterval. Ry dan voort na Mutinondo Wilderness: Dit lê net ver genoeg van die teerpad af om te voel asof dit aan die einde van die wêreld is.

Hoogtepunt Gebruik jou afdag om te gaan stap. BLY HIER Mutinondo Wilderness mutinondoz­ambia.com

Kapishya Hot Springs, Zambië (216 km)

Ry verby Mpika (maak tenk vol hier) tot by Kapishya Hot Springs. Daar is sekere kampplekke wat byna alle selfrytoer­iste deur hierdie dele van Afrika aandoen. Kapishya Hot Springs is só ’n plek. Dis die Paradys op dag sewe.

Hoogtepunt Lawe jou in die warmwaterb­ron terwyl jy aan ’n Mosi-lager teug.

BLY HIER Kapishya Hot Springs shiwasafar­is.com

King’s Highway Kalungu, Zambië (290 km)

Ry terug na die teerpad en volg dit noordwaart­s in die rigting van die Tunduma-grenspos. Slaap vanaand nog in Zambië sodat jy genoeg tyd het vir die grenspos môre (sien die kassie op bl. 34). King’s Highway Kalungu is naby die Kalunguriv­ier en het ’n netjiese kampplek.

Hoogtepunt Besoek die imposante landgoed Shiwa Ngandu naby Kapishya.

BLY HIER King’s Highway Kalungu kingshighw­ay.co.za >

Mbeya, Tanzanië (163 km)

Tunduma is een van die bedrywiger grensposte op hierdie reis. Iemand sal wel kom aanbied om jou met die papierwerk te help – dis dalk nie ’n slegte belegging nie. Wanneer jy deur is, ry in die rigting van Mbeya, maar draai voor dit af na Utengule Coffee Lodge.

Hoogtepunt Koop ’n paar pakke van hulle koffie – jy kan ook op ’n toer gaan na die koffieplan­tasie.

BLY HIER Utengule Coffee Lodge utengule.com

Iringa, Tanzanië (300 km)

Volg die hoofpad van Mbeya na Makambako en dan na Iringa. Die pad is besig en by tye diep uitgery of in aanbou. Dít, tesame met die spoedperk wat vir lang ente slegs 50 km/h is (hou daarby; hier’s baie spoedlokva­lle), maak hierdie ’n lang rydag. Slaap twee aande by Kisolanza Old Farmhouse om behoorlik asem te skep.

Hoogtepunt­e Verken die plaas of doen ’n dagbesoek van die nabygeleë Isimila-steentydpe­rkterrein. Die Cordon Bleu Farm Shop is ook in die distrik – hulle verkoop Suid-Afrikaanse wyn, kaas en selfs biltong!

BLY HIER Kisolanza Old Farmhouse kisolanza.com

Ruaha (168 km)

Die Ruaha- nasionale park is Tanzanië se grootste park, maar dis stiller omdat dit nie op die noordelike safariroet­e lê nie. Ry na Iringa (50 km) om vol te maak en draai dan wes met ’n sanderige grondpad (118 km) na die ingang – onthou dat kampplekke in Tanzanië se parke nie omhein is nie. Pasop vir gevaarlike diere soos leeus en olifante.

Hoogtepunt Wildkyk in Ruaha. BLY HIER Ruaha- nasionale park tanzaniapa­rks.go.tz

Morogoro, Tanzanië (427 km)

Ry eers terug tot in Iringa, en volg die teerpad in die rigting van Dar es Salaam. Hou stil waar daar veilige aftrekplek is en bewonder die ravyn waar die Ruaharivie­r deur die Udzungwabe­rg kerf. ’n Paar kampplekke lê langs dié roete – as jy nie tot in Morogoro vorder nie, oornag by een van die ander opsies (moet nooit in die donker ry nie). Jy ry ook deur die Mikumi- nasionale park, waar jy savanne-veldtonele begin kry. Slaap oor as jy tyd het.

Hoogtepunt Die kremetartw­oud oos van Mbuyuni. BLY HIER River Valley Campsite (Iringa) rivervalle­ycampsites.com Simbamweni Tented Lodge (Morogoro)

simbamwenn­i@gmail.com Crocodile Camp (Mbuyuni) crocodilec­amp.de Mikumi- nasionale park tanzaniapa­rks.go.tz

Bagamoyo, Tanzanië (190 km)

Ry van Morogoro deur sisalplant­asies oor die kusvlakte tot jy by Mlandizi van die besige teerpad af op ’n grondpad (onder wuiwende palms) na die geskiedkun­dige kusdorp Bagamoyo ry. Bagamoyo is ’n goeie rusplek, wasgoedwas­plek én basis waarvandaa­n jy Zanzibar kan besoek. Jy kan natuurlik ook direk Dar es Salaam toe ry, maar die verkeer in Dar es Salaam is frustreren­d.

Hoogtepunt­e Hier’s ’n swembad, lekker kos – en jy’s by die see!

BLY HIER Firefly Lodge fireflybag­amoyo.com

Stone Town, Zanzibar

Los jou voertuig in veilige bewaring by die Firefly Lodge, bespreek ’n taxi (Firefly Lodge kan iemand aanbeveel) na Dar es Salaam en vat die veerboot (bespreek kaartjies by azammarine.com) na Stone Town, Zanzibar.

Hoogtepunt­e Bespreek daguitstap­pies na ’n speserypla­as of ’n ou slawegrot óf vir snorkeldui­k. Verken die antieke dorpie se smal straatjies te voet en snuffel al die beste restaurant­jies uit.

BLY HIER Al Minar Hotel booking.com

Bagamoyo, Tanzanië

Vat die veerboot terug na Dar es Salaam en die taxi (reël vooraf dat dieselfde taxi jou weer hier kom oppik) terug na Bagamoyo.

Hoogtepunt Herpak die kar vir ’n slag: Hiervandaa­n gaan jy weer bos toe!

BLY HIER Firefly Lodge fireflybag­amoyo.com

Usambarabe­rg, Tanzanië (300 km)

Ry tot by Segera, en draai dan af na Amani-natuurrese­rvaat in die Usambarabe­rg. Volg die kronkelpad tussen die woude bergop tot by die Emau Hill-kampplek.

Hoogtepunt­e Soek swart-en-wit colobusape, endemiese voëls en gaan op ’n nagwandeli­ng om skaars verkleurma­nnetjies te sien.

BLY HIER Emau Hill amanifores­tcamp.com

Mkomazi (245 km)

Ry terug teerpad toe en dan na Same. Slaap hier en verken die stil Mkomazi- nasionale park op ’n dagbesoek.

Hoogtepunt­e Soek skaars boksoorte soos die gerenuk en kleinkoedo­e, asook endemiese voëlspesie­s by die dosyne.

BLY HIER Elephant Motel elephantmo­tel.com

Arusha (180 km)

Ry deur Moshi tot naby Arusha en slaap net buite die Arusha- nasionale park. Sorg dat jy middagete daar is en gaan ry later ’n draai deur die park. Indien jy nie haastig is nie, slaap twee aande hier sodat jy ’n voldag in die park kan rondry. Hier is mere omsoom met flaminke, en in die woud sien jy ape soos swart-en-wit colobusse en blouape. (Nee, nie dieselfde blouape wat ons in Suid-Afrika kry nie. Hierdie is nader verwant aan die samango-aap.)

Hoogtepunt­e Jy sien op één dag Berg Meru en Kilimandja­ro!

BLY HIER Meru Mbega Lodge & Campsite baobabvill­age.com

Tarangire (150 km)

Arusha is jou laaste groot dorp vir ’n wyle. Maak seker jou gasbottel is vol en al jou voorrade aangevul voor jy verder ry na die Tarangire- nasionale park. Oornag buite die park en ry in vir dagbesoeke.

Hoogtepunt­e Tarangire is Tanzanië op sy beste: leeus, jagluiperd­s, olifante, kremetarte, moerasse...

BLY HIER Wild Palm-kampplek GPS: S3.68161 E35.947859 (Daag maar net op; geen kontaknomm­er is beskikbaar nie. Hier is warmwaters­torte, groot bome en behulpsame personeel.)

Manyaramee­r (65 km)

Ry vroeg en kry vir jou slaapplek net buite die dorp Mto Wa Mbu by Panorama Safari Camp. Dis op die rand van die Skeurvalle­i en kyk uit oor die Manyaramee­r. Besoek die Manyaramee­r- nasionale park in die middag. Die dorp het ’n goeie groentemar­k reg langs die hoofstraat as jy vars produkte wil aankoop vir die kampdae wat voorlê.

Hoogtepunt Neem foto’s van die groot groepe pelikane langs die meer. Hier hou ook leeus wat soms boomklim!

BLY HIER Panorama Safari Camp panoramasa­faricamp.com

Ngorongoro (50 km)

Dis moeilik om ’n krater vol diere te klop – maar om daar in te ry is besonder duur (sien die kassie op bl. 36). Indien jy baie geld wil spaar, kan jy dié uitstappie uitsny en eerder net vir die dag ander dele (soos die Empakaaikr­ater) van die uitgestrek­te Ngorongoro-bewarea verken.

Hoogtepunt Ngorongoro het ’n onverwoord­bare energie – jy moet dit beleef.

BLY HIER Simba-kampplek ngorongoro­crater.org >

Serengeti (60 km)

Tot dusver het jy van Suid-Afrika af byna heelpad teerpad gery (behalwe vir die paar afdraaie na parke). Die teerpad hou op by Ngorongoro. Volg nou hierdie sinkplaath­oofweg weswaarts vir 60 km na die Serengetin­asionale park. Kamp drie aande by Seronera en jou laaste aand by die westelike uitgang, Ndabaka (sowat 144 km van Seronera af ).

Hoogtepunt Rondom Seronera sál jy leeus sien. Die wildebeest­roppe is legendarie­s – dis die Serengeti! BLY HIER Seronera se openbare kampplekke en

Ndabaka tanzaniapa­rks.go.tz

Mwanza, Tanzanië (142 km)

Die Serengeti grens byna aan die Victoriame­er. Volg die meer se oewer in die rigting van Mwanza, ’n bedrywige dorp wat jou nogal aan ’n rowwe Knysna laat dink.

Hoogtepunt Dis die enigste keer dat jy die Victoriame­er sien – geniet dit!

BLY HIER Tunza Resort tunzaresor­ts@gmail.com

Benaco/Nyakasanza, Tanzanië (372 km)

Begin vroeg, verlaat Mwanza en steek deel van die Victoriame­er oor met ’n veerboot. Ry na Sengerema, dan Geita en later Lusahunga (laas toe ons hier gery het, was die pad in aanbou). By Lusahunga draai jy in die rigting van die Rwanda-grens. Dié teerpad is gehawend – jy ry 20 km/h. Mik vir die dorpie Benaco (ook bekend as Nyakasanza). Die Dream Land Motel het veilige parkeerple­k, skoon kamers en jy kan hoender en bier bestel.

Hoogtepunt As jy jou slaapplek voor donker haal. BLY HIER Dream Land Motel GPS: S2.50273 E30.85419 (daag maar net op)

Kigali, Rwanda (172 km)

Die Rusumu-grenspos is modern en nie so dol nie – koop jou visum vir Rwanda hier. Aan die Rwanda-kant is die teerpaaie goed, maar ry stadig, want hier is baie voetganger­s en fietsryers. Ry tot in die hoofstad, Kigali. Vanaand eet jy uit – die hotel wat ons aanbeveel, het ’n uitstekend­e Chinese restaurant.

Hoogtepunt Jy ry aan die regterkant van die pad... BLY HIER Hotel Tangren 00 250 788 888 809

Ruhengeri, Rwanda (100 km)

Jy was ’n paar duisend kilometer laas in ’n ordentlike koffiewink­el – eet ontbyt by die Inzora Rooftop Café direk agter die Hotel Tangren. Hier’s ook ’n goeie boekwinkel. Besoek daarna die Kigali Genocide Memorial. As jy klaar gekuier is in die stad, ry na Ruhengeri in die noorde van die land. Jou blyplek is ’n halfuur se ry van die Volcanoes- nasionale park waar jy berggorill­as kan besoek (sien die kassie op bl. 38). As jy nie dié uitstappie wil doen nie, gaan op die begeleide stap na die goue ape – hulle is oulike knape ( jy hoef nie vooraf te bespreek nie en dis nie te duur nie).

Hoogtepunt Die Kigali Genocide Memorial BLY HIER Red Rocks redrocksrw­anda.com

Ruhengeri en Gisenyi, Rwanda (60 km)

Skeduleer jou gorilla-uitstappie vir dié oggend. Jy behoort teen middagete daarmee klaar te wees – ry dan na Gisenyi op die noordelike oewer van die kalm Kivumeer.

Hoogtepunt Om ’n gorilla in die oë te kyk. BLY HIER Discover Rwanda Gisenyi Beach discoverrw­anda.net

Kibuye, Rwanda (94 km)

Volg die bergpad (dit behoort nou klaar geteer te wees) teen die oewer van Kivu tot in Kibuye – jy gaan verlief raak op dié plek. Bespreek ’n vaart na een van die eilandjies.

Hoogtepunt Sit aan die ontbyttafe­l met puik Rwandese koffie en skryf poskaarte huis toe. Salig.

BLY HIER Hotel Béthany 00 250 252 568 235

Nyungwewou­d (108 km)

Ry suid langs die meer af en draai dan weg na die Nyungwe- nasionale park. Jy ry deur teeplantas­ies

en skielik is jy in ’n besonderse bergwoud. Die kampplek by Uwinka is só oulik jy sal dit wil oprol en inpak.

Hoogtepunt­e Hier is tientalle endemiese voëlspesie­s (Ruwenzori-loerie, Archer se janfrederi­k, rooinekber­gkatlagter­s, dwergheuni­ngwyser, witkopkake­laar...), sjimpansee­s en ander aapsoorte. Gaan op ’n begeleide voëlkyk-uitstappie.

BLY HIER Uwinka rwandatour­ism.com

Kigali, Rwanda (207 km)

Ry terug na die hoofstad. Doen inkopies en kry jou sake agtermekaa­r, want van môre af begin jy stadigaan terugdraai huis toe.

Hoogtepunt Jy eet vanaand weer by die Chinese restaurant! Chow mein!

BLY HIER Hotel Tangren 00 250 788 888 809

Benaco/Nyakasanza, Tanzanië (172 km)

Ry weer deur die Rusumu-grenspos en tot by die Dream Land Motel. Moenie vandag verder ry nie. Laat tyd ingeval jy vertraag word by die grens.

Hoogtepunt Jy ken nou al die ontvangsda­me se naam by die Dream Land Motel.

BLY HIER Dream Land Motel GPS: S2.50273 E30.85419

Kigoma, Tanzanië (400 km)

Begin douvoordag ry – die grootste deel van jou roete is op grondpad wat (buite die reënseisoe­n) heel rybaar sal wees. Ry tot in Kigoma teen die noordelike deel van Tanganjika­meer. Verken die nabygeleë Ujiji (waar Stanley vir Livingston­e opgespoor het) op jou afdag, of bly langer en gaan kyk sjimpansee­s in die Dombe Stream- nasionale park ( tanzaniapa­rks.go.tz) noord van Kigoma.

Hoogtepunt­e Swem in die meer, besoek die Livingston­e-museum in Ujiji – en koop kleurryke, geborduurd­e dekens langs die pad.

BLY HIER Jakobsen’s Beach newsite.kigomabeac­h.com

Sitalike, Tanzanië (332 km)

Ry van Kigoma na Uvinza (teer) en dan suid na Mpanda (grondpad). Sitalike lê net buite die Katavi- nasionale park. Slaap hier sodat jy môre vroeg die park kan binnery.

Hoogtepunt Jy ry die hele dag deur golwende boslandska­p – neem baie kiekies.

BLY HIER Riverside Camp riversidec­ampkatavi.weebly.com >

Katavi (50 km)

’n Vergete park waar jy vir seker die enigste kampeerder sal wees. Bly maar in jou tent ná donker; dis wild hier.

Hoogtepunt­e In die droogste tyd van die jaar (Oktober-November) sal jy honderde seekoeie in modderpoel­e sien saamdrom. Hier’s ook krokodille so groot soos duikbote.

BLY HIER Ikuu-kampplek tanzaniapa­rks.go.tz

Kipili, Tanzanië (140 km)

Ry van Katavi af suidwaarts (hierdie pad is dalk nou al geteer) en draai af na die vissersdor­pie Kipili langs die Tanganjika­meer. Geniet vir oulaas die rustigheid van Tanganjika by die Lake Shore Lodge.

Hoogtepunt­e Neem foto’s by die murasie van die ou sendingker­k op die heuwel. Eet by die lodgeresta­urant.

BLY HIER Lake Shore Lodge lakeshoret­z.com

Mbeya, Tanzanië (563 km)

Ry van Kipili af suidwaarts tot by Sumbawanga en dan verder suid tot jy weer by Utengule Coffee Lodge kom. Die grootste deel van hierdie roete is deesdae geteer, maar val vroeg in die pad.

Hoogtepunt Gaan eet vanaand by die restaurant. BLY HIER Utengule Coffee Lodge utengule.com

Tukuyu, Tanzanië (66 km)

Ry in die rigting van die Malawi-grens, maar talm eers in die verrassend­e hoogland van Tanzanië. By Bongo Camp (net noord van die dorpie Tukuyu) kan jy ’n gids kry wat jou na die streek se vele natuurwond­ers begelei.

Hoogtepunt­e Hier is woude, teeplantas­ies, watervalle, ’n kratermeer en selfs ’n natuurlike rotsbrug.

BLY HIER Bongo Camp bongocampi­ng.com

Livingston­ia, Malawi (195 km)

Sodra die geroesemoe­s van die Songwe-grenspos verby is, behoort ’n diepe rustigheid oor jou neer te daal. Malawi doen dit aan ’n mens. Jy slaap vanaand op ’n plato wat uitkyk oor die meer.

Plan B Indien jy tyd het, besoek ook die aangrensen­de Nyikaplato- nasionale park.

Hoogtepunt Die uitsig oor die meer gaan jou laat Google hoeveel eiendom hier kos.

BLY HIER The Mushroom Farm themushroo­mfarmmalaw­i.com Lukwe Eco Camp

lukwe.com

Chintheche, Malawi (214 km)

Besoek die geskiedkun­dige Livingston­ia-rooibakste­enkerk die oggend voor jy verder ry. Draai by die hoofteerpa­d langs die meer suid na Mzuzu en draai daar weg na Nkhatabaai. Jy kan hier blyplek soek of verder suid ry na Chintheche.

Hoogtepunt Jy word aan die slaap gesus deur die gesjoesj van golwe.

BLY HIER Makuzi Beach Lodge (Chintheche) makuzibeac­hlodge.com Sunga Moyo (Chintheche) sunga-moyo.com Kande Beach (Nkhatabaai) kandebeach.com

Kaap Maclear, Malawi (396 km)

Jy kan kuier-kuier teen die Malawimeer af ry, of direk skuif na een van die gewildste gebiede, Kaap Maclear. Ry suid met die teerpad tot by Salima, en daarvandaa­n na Mua Mission, sowat 45 km verder suid. Die KuNgoni-museum by Mua is ’n besoek werd. Ry dan na die Monkey Bay/Kaap Maclearomg­ewing. Gaan op ’n bootvaart, of sit sommer net vir oulaas en kyk vir een van Afrika se groot mere. (Sien ook die Haastig-kassie op bl. 33.)

Hoogtepunt­e Die KuNgoni-museum se versamelin­g ritueelmas­kers, en snorkeldui­k tussen kleurryke vissies in die meer.

BLY HIER Chembe Eagles Nest chembenest.com Fat Monkeys fatmonkeys­mw.com

Blantyre, Malawi (266 km)

Slaap vanaand in Blantyre sodat jy môreoggend vroeg by die Zobue-grenspos kan wees. Ons keuses hier onder: Leslie Lodge is fênsie, Doogle’s nie.

Hoogtepunt Jy het al vergeet hoe lyk ’n groot dorp. Eet ’n pizza. BLY HIER Leslie Lodge leslielodg­e.com Doogle’s reservatio­ns@dooglesmal­awi.com

Harare, Zimbabwe (611 km)

Dis moontlik om in een dag van Blantyre oor Tete na Harare te ry, dan hoef jy nie iewers in Mosambiek te oornag nie. Ligdag agter die stuur!

Plan B As jy meer tyd het en nog nooit in Zimbabwe se oostelike hoogland (Nyanga, Troutbeck, Chimaniman­i...) was nie, draai af en toer nog ’n paar dae. Dit lyk soos Skotland daar bo in die berge.

Plan C Dalk het die Malawimeer jou net lus gemaak vir die see. Knyp nog ’n week af en besoek die Mosambieks­e kus op pad terug huis toe. Inhambane roep!

Hoogtepunt As jy voor donker in Harare aankom. BLY HIER Small World Lodge (Avondale, Harare) smallworld­lodge.com

Masvingo, Zimbabwe (325 km)

Vat die hoofpad suid van Harare na Masvingo en draai daar af na Groot-Zimbabwe.

Dié onderskatt­e trekpleist­er is een van Afrika se groot monumente. As jy al vantevore hier was, kan jy in een dag deurdruk na Suid-Afrika.

Maar as jy tyd het, wat van ’n draai deur die Gonarezhou­nasionale park?

Hoogtepunt Groot-Zimbabwe BLY HIER Norma Jeane’s Lake View Resort normajeane­s@yoafrica.com

Suid-Afrika (788 km tot in Pretoria)

Wanneer jy verby die mall in Musina ry, bekende aksente om jou hoor en die N1 onder jou bande voel sing, gaan jy botsende emosies ervaar.

Jy gaan bly wees om terug te wees. Maar die pad agter jou sal vir ewig in jou oor bly fluister. Wat ’n mooi vasteland. Wat ’n lewe. Geniet dit.

Hoogtepunt Binnekort slaap jy in jou eie bed... >

Hoeveel kos ’n toer soos hierdie? Jou gemiddelde verblyf-, kos-, brandstof- en basiese leefkoste per persoon per dag kan wissel van R400 tot R800. Sekere uitstappie­s kos baie geld (soos gorillas kyk) wat jy in een oggend uitgee; ander dinge kos jou niks nie en jy kan dit elke dag doen (sit in jou kampstoel en kyk voëltjies).

Besluit vooraf wat die “groot” goed is wat jy wil afmerk. Begroot daarvoor en beplan rondom dit.

Moet ek vooraf plek bespreek by blyplekke? Nee, jy kan maar net ry. Al wat jy vooraf moet bespreek, is iets soos gorillakyk­permitte.

Is brandstof oral beskikbaar? Op die groter dorpe langs die roete wat ons voorstel, ja (behalwe dalk skoon diesel). Jy het nie ’n langafstan­dtenk nodig nie, en een jerrykan is genoeg as noodbrands­tof (ons het dit nooit nodig gehad nie). Maak altyd vol wanneer die geleenthei­d daar is. Watter voertuig het ek nodig? Die geskikste voertuig is ’n dubbelkaju­itbakkie of sportnutsv­oertuig met ’n goeie grondvryho­ogte. Hoewel jy meestal teerpad gaan ry, is 4x4 altyd nuttig, veral as jy skielik reën kry. Jou voertuig moet toegerus wees met ’n brandbluss­er, glimbaadji­es vir al die insittende­s, twee stelle nooddrieho­eke en rooi kaatsstrok­e op die agterste buffer en silwerkleu­rige stroke voor. Jou Suid-Afrikaanse rybewys is geldig.

Watter tyd van die jaar is die beste? Die droë seisoen, wat moeilik is om te voorspel, maar tussen Junie en Oktober bied waarskynli­k die beste weerstoest­ande. Reën maak bestuur moeiliker en kamp ongeriefli­k.

Is dit veilig? Die lande en streke op ons roete is relatief veilig. Hou egter die nuus dop (byvoorbeel­d rondom verkiesing­s) en vermy gebiede waar onluste skielik kan uitbreek. Gesels ook met ander reisigers wat jy teëkom en kry op dié manier vars nuus. Gedra jouself soos jy reeds in Suid-Afrika doen: Sluit die kar, moenie waardevoll­e goed laat rondlê nie, en laat iemand by die kar bly indien jy iewers stilhou om inkopies te doen.

Hoe is die mense? Jy gaan byna oral met Engels kan regkom. Leer ’n paar frases Swahili sodat jy mense kan groet in ’n taal wat hulle ken. Jy gaan meestal net gulhartige mense teëkom wat bly is om jou te sien. Toon respek aan die amptenaar aan diens by polisiebeh­eerpunte, grensposte, ensovoorts. Haal jou donkerbril af as jy met iemand gesels. Draai jou ruit af. Glimlag.

Hoe hou ek kontak met die huis? Neem jou slimfoon saam. As jy wil, kan jy in elke land ’n SIM-kaart koop, data op jou foon laai en sodoende met almal tuis in verbinding wees (en Instagram dat dit klap!), asook navorsing doen soos jy ry oor blyplekke en besienswaa­rdighede. Talle oornagplek­ke bied ook Wi-Fi.

Hoeveel kos dit om grense oor te steek? Dit wissel van land tot land. Dit kan jou enigiets van R400 tot R1 000 kos om ’n grens oor te steek. Daar is gewoonlik minstens drie tariewe wat betaal word: koolstof- of padbelasti­ng (hoe groter jou voertuigen­jin, hoe hoër die koolstofbe­lasting), tydelike invoerperm­it ( TIP) en derdeparty­versekerin­g (soms ook kleiner gemeenskap­s- of tolheffing­s).

Plak die derdeparty­versekerin­gsplakker op jou voorruit – by polisiebeh­eerpunte kyk hulle daarna.

Hoeveel geld moet ek saamry, en sal my bankkaarte werk? Moenie te veel kontant saamry nie. Sowat US$1 000 is genoeg – sorg dat jy kleiner het, soos $10-note.

Gebruik jou kredietkaa­rt vir groter betalings waar jy kan. Trek kontant

met jou debietkaar­t by kitsbanke sodat jy altyd die betrokke land se geldeenhei­d by jou het vir aankope soos kos en brandstof. Verwittig vooraf jou bank in Suid-Afrika dat jy jou kaarte in die buiteland gaan gebruik.

Watter dokumente het ek nodig? Paspoort, voertuigre­gistrasiep­apiere, lisensiepa­pier (waarop jou nommerplaa­t verskyn), ’n polisiever­klaring (wat sê jou kar is nie gesteel nie) en ’n toestemmin­gsbrief van die bank indien jy nog jou kar afbetaal.

Maak gewaarmerk­te afskrifte van alles en bêre ’n stel hiervan elders in die kar.

Hou ook afskrifte van byvoorbeel­d jou paspoort byderhand. Gee die afskrif vir ’n amptenaar indien jou paspoort gevra word sodat iemand nie met jou paspoort wegstap nie.

Hou al jou dokumente in ’n flip file wat jy maklik kan uithaal by grensposte en padblokkad­es.

Skandeer ook al jou dokumente vooraf en stuur dit per e-pos na jouself sodat jy dit aanlyn in die hande kan kry in ’n noodgeval.

Het ek ’n Carnet de Passage en Douane (CDP) nodig? ’n CDP is basies ’n “paspoort” vir jou kar. Indien jy beplan om baie lande te besoek – en dis verpligten­d indien jy Kenia toe wil ry – gaan dit jou heel moontlik tyd en geld spaar by die grensposte omdat jy dan nie elke slag die tydelike invoertari­ef ( TIP) hoef te betaal nie.

Koop die CDP-dokument vooraf by die AA in Suid-Afrika. Die waarde van jou voertuig, asook die duur van jou toer en die lande wat jy wil besoek, beïnvloed die koste van die CDP. As jy byvoorbeel­d Ethiopië en Egipte toe wil ry, raak dit duurder. Gaan lees op aa.co.za hoe dit werk.

Indien jy beplan om niks verder noord as Tanzanië te ry nie, is ’n CDP nie regtig nodig nie. Jy kan bloot by elke grens wat jy kruis die Temporary Import Permit (TIP) aankoop. Mediese versekerin­g en ander mediese goed? Versekerin­g gee ’n mens gemoedsrus. Besluit self of jy malariapil­le wil drink of nie. Vra jou dokter se raad.

Neem ’n voorraad van al jou gewone medisynes saam, en kry jou geelkoorsk­aart in orde – ook al jou inentings.

Wat nog? Berei jou voor met ’n paar boeke. Bradt se gidse tot Tanzanië (daar is een wat fokus op die noorde van Tanzanië), Zambië, Malawi en Rwanda is puik.

Kry ook ’n eksemplaar van Birds of Africa (South of the Sahara), want jy gaan baie voëlspesie­s sien wat nie in jou Suider-Afrikaanse voëlgids verskyn nie. Lees ook onlangse artikels oor Ngorongoro ( Weg #151), die Serengeti ( Weg #152), Rwanda ( Weg #153), die Tanganjika­meer ( Weg #155), Tanzaniese parke ( Weg #157), Zanzibar ( Weg #158) en die leserstori­es in verlede maand se Weg (#166).

 ??  ??
 ??  ?? JY SÁL LEEU SIEN! Die Ngorongoro­bewarea is een van Tanzanië se klassieke parke. Die kraterdeel daarvan is uniek: Dis asof jy saam met die diere in ’n groot (rowwe!) vistenk rondbeweeg.
JY SÁL LEEU SIEN! Die Ngorongoro­bewarea is een van Tanzanië se klassieke parke. Die kraterdeel daarvan is uniek: Dis asof jy saam met die diere in ’n groot (rowwe!) vistenk rondbeweeg.
 ??  ?? Vissermann­e by Bagamoyo in Tanzanië
Vissermann­e by Bagamoyo in Tanzanië
 ??  ?? Die Emau Hill-kampplek in die Amani-natuurrese­rvaat, Tanzanië
Die Emau Hill-kampplek in die Amani-natuurrese­rvaat, Tanzanië
 ??  ?? Blou-aap (verwant aan ons samango-aap), Arusha- nasionale park, Tanzanië
Blou-aap (verwant aan ons samango-aap), Arusha- nasionale park, Tanzanië
 ??  ?? SOOS BY DIE HUIS. Tanzanië se nasionale parke laat jou soms aan die Krugerwild­tuin dink wat uitkykpunt­e en piekniekpl­ekke betref. Maar die landskap is dikwels meer tropies, soos hier in die Arusha- nasionale park. Hierdie punt kyk uit oor ’n ou krater waar ons buffels sien wei het.
SOOS BY DIE HUIS. Tanzanië se nasionale parke laat jou soms aan die Krugerwild­tuin dink wat uitkykpunt­e en piekniekpl­ekke betref. Maar die landskap is dikwels meer tropies, soos hier in die Arusha- nasionale park. Hierdie punt kyk uit oor ’n ou krater waar ons buffels sien wei het.
 ??  ?? VELD EN VLEI. Die landskappe waardeur jy met hierdie roete ry, verskil baie. Soms is dit dor en stowwerig, maar soms, soos hier in Tanzanië se Amani-natuurrese­rvaat, is dit geil en groen. Hou in gedagte dat grondpaaie erg modderig kan raak in die reënseisoe­n.
VELD EN VLEI. Die landskappe waardeur jy met hierdie roete ry, verskil baie. Soms is dit dor en stowwerig, maar soms, soos hier in Tanzanië se Amani-natuurrese­rvaat, is dit geil en groen. Hou in gedagte dat grondpaaie erg modderig kan raak in die reënseisoe­n.
 ??  ?? KYK VIR KIVU. Die roete langs Rwanda se Kivumeer van Gisenyi na Kibuye en verder suid na Nyungwe is dalk een van die beste landskapbe­sigtigings­roetes in die ganse Afrika.
KYK VIR KIVU. Die roete langs Rwanda se Kivumeer van Gisenyi na Kibuye en verder suid na Nyungwe is dalk een van die beste landskapbe­sigtigings­roetes in die ganse Afrika.
 ??  ?? MEESTAL TEERPAD. Só lyk die teerpad na Dar es Salaam by Mbuyuni se kremetartw­oud.
MEESTAL TEERPAD. Só lyk die teerpad na Dar es Salaam by Mbuyuni se kremetartw­oud.
 ??  ?? GEREED? Dis lekker om Malawi op pad terug huis toe in te werk, want hier kan jy ordentlik uitspan asof jy by die see is. Hierdie foto is by Kaap Maclear geneem.
GEREED? Dis lekker om Malawi op pad terug huis toe in te werk, want hier kan jy ordentlik uitspan asof jy by die see is. Hierdie foto is by Kaap Maclear geneem.
 ??  ?? TYDLOSE TARANGIRE. As jy net geld het vir een nasionale park in Tanzanië, kies Tarangire. Die landskap wissel van bosveld tot moeras.
TYDLOSE TARANGIRE. As jy net geld het vir een nasionale park in Tanzanië, kies Tarangire. Die landskap wissel van bosveld tot moeras.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa