MENSE SE LENSE
LESERSFOTO’S • FOTOGRAFIEWENKE • PORTEFEULJE
Weerlig in Botswana, ’n waterval in KwaZulu-Natal en ’n volmaakte brander by Sardiniabaai – pryk jou foto dié maand op ons blaaie?
Hier is vandeesmaand se treffendste foto’s van dieremaniere en mooi buitelugtonele.
DEUR TOAST COETZER
ANDRÉ NEL
Canon EOS 7D Mk. II Sigma 16-300 mm-lens
ANDRÉ SKRYF: Dié foto is geneem by die Senyati Safari Camp net buite Kasane, Botswana. Ek en my vrou, Marieta, het vyf nagte saam met familie daar geslaap. Senyati het ’n ondergrondse skuiling waaruit jy die olifante kan dophou wanneer hulle kom water drink.
Dié aand het ons egter op die stoep van die restaurant gesit en kyk hoe die weer inrol. Ek het my driepoot staangemaak met sy afstandbeheerkabel en begin speel. Nie lank nie, of die olifante het kom drink.
Uiteindelik het ek 5 weerligfoto’s uit 128 foto’s gekry!
TOAST SÊ: Aanhouer wen! Daar’s geen ander manier met weerligfoto’s nie – jy het ’n bietjie geluk nodig. Dis ook gaaf as jy ’n paar olifante en indrukwekkende bome naby het, want dít is wat André se foto laat uitstaan.
’n Weerligfoto – veral een wat in die donkernag geneem is – werk altyd beter met iets prominents in die voorgrond soos ’n huis, windpomp of boom.
Die lodge se spreiligte help om die voorgrond goed te belig, want anders sou die bome net silhoeëtte gewees het (niks fout daarmee nie) en die olifante onsigbaar (omdat hulle onder die horisonlyn.
Ek hou ook van die byna anderwêreldse kleurkombinasie wat geskep word deur die gelerige spreilig en die blouwit weerlig wat die wolke van binne belig.
Geluk, André, jy wen ’n paar Wolverine-stapskoene.
PIERRE SKRYF: Op ’n laatmiddagwildrit by Elephant Plains in die Sabi Sand-natuurreservaat het ons hierdie luiperdwyfie teëgekom.
Sy was nog ’n jong luiperd en het onder elke stomp ingeloer, dalk op soek na iets om te vreet. Toe sy weer uit die bosse te voorskyn kom en in my rigting kyk, kon ek dié foto neem. My lensopening was f5,6 en my sluiterspoed 1/320ste van ’n sekonde.
TOAST SÊ: Hoewel jy in die aangrensende Kruger ook ’n goeie kans het om luiperds te sien is dit dikwels makliker in Sabi Sand omdat jy saam met ’n gids in ’n wildkykvoertuig ry – en dié gidse weet presies waar elke omgewing se kolkatte kuier.
Dis seker elke Weg- leser se droom om só ’n mooi duidelike luiperdfoto te neem. Daar is baie struikelblokke: die luiperd kan te ver wees, of agter ’n struik, of diep in die lang gras, dis dalk al te donker, óf luiperd se kind blits so vinnig oor die pad dat jy net tyd kry om in jou koffie te proes, newermaaind jou kamera uithaal en kiek.
Die geluksgodin was egter aan Pierre se kant – die luiperd was naby, in goeie lig én vir ’n oomblik in die oopte. Daar is ook geen diep skaduwees nie: die hele toneel is eweredig belig.
Ek hou ook van die komposisie. Deur vertikaal te raam (portretformaat) beklemtoon Pierre nou die kop en voorlyf van die dier. Jy hoef nie altyd die hele dier in jou raam te probeer druk nie. Dis soms goed om in te zoem op ’n detail wat jou oog vang. Die reël van derdes word ook gehandhaaf, met die kop van die luiperd ’n derde van bo in die raam. Dit word netjies gebalanseer deur die poot wat na onder strek.
Ons klink ’n glasie Amarula op jou klassieke skoot, Pierre! >