PIERRE SE BRIEF
Ek sonder nie gewoonlik een Wegstorie bo ’n ander uit nie… Dis omdat ’n mens bak wanneer jy ’n goeie tydskrif skep – jy kook nie. Wanneer jy kook, kan jy ’n klomp bestanddele bymekaargooi sonder om noodwendig ’n resep te volg. ’n Bietjie hiervan, ’n tikkie daarvan. Jy proe, jy voeg by, jy laat prut dit ’n bietjie langer en jy meet nie juis iets af nie. As jou instinkte reg is, is wat jy ook al gekook het, hopelik lekker wanneer jy opskep. En as dit nie lekker smaak nie, gooi jy sout of tamatiesous of Mrs Balls by om die smaak te verdoesel as jy die kluts effe kwyt geraak het.
Maar met bak kan jy nie sulke kanse vat nie. Jou resep moet beproef wees. Jou bestanddele moet reg afgemeet wees. Jou oond se temperatuur moet akkuraat wees. Dit moet vir net die regte tyd bak. As alles in die proses nie 100% saamspeel en een stap nie op die ander volg nie, het jy ’n flop op hande.
Dis nou nie ’n geheim uit die binnekamer wat ek hier deel nie, maar ons volg ’n resep wanneer ons elke maand die tydskrif begin bak.
Elke bestanddeel het ’n rol te speel. Selfs die kortste storie word met dieselfde sorg hanteer as die langste. Alles het sy plek om die tydskrif in sy geheel te laat werk. Dis die héle koek wat moet lekker smaak.
Dís hoekom ek nie sommer stories uitsonder nie. Maar partykeer buig ek my eie reëls juis omdat ’n storie – soos mense – onverwags ’n groot indruk laat. Nooit in my lewe het ek gedink ek wil Khartoem in die Soedan besoek nie, totdat ek Corinne Leukes se “Brief uit Khartoem” op bl. 144 gelees het. Nou wil ek self zalabiya en fool proe, en sien hoe reiers laatmiddag hier oor die samevloeiing van die Wit- en die Blounyl vlieg.
Vandeesmaand se Weg (die hele een) is hopelik weer heerlik, maar gun my ’n persoonlike kersie op die koek – al die pad uit Khartoem.