Vingerleklekker?
Die lewe in die woestyn is taai en die Kalahari – hoewel nie ’n woestyn in die ware sin van die woord nie – is geen uitsondering nie. Ek het dit weer met ’n onlangse besoek aan die Kgalagadioorgrenspark besef toe ek by die watergat in die Nossobruskamp sien hoe selfs die koning van die diere dankbaar is vir ’n “gratis” wegneemete.
Die edelvalk – een van Suider-Afrika se grootste en vinnigste valkspesies – hou in die Kalahari. Hulle kry gewoonlik hulle sit ’n entjie van ’n watergat af en hou ’n ogie op die hordes vinke, duiwe en sandpatryse wat noodgedwonge tot in die gevaarsone langs die oop watergat moet beweeg om hulle dors te les.
Die valk slaan dan toe en vang gewoonlik ’n voël in vlug aan die vlerk en gaan dan terug na sy sitplek om dit te vreet. Maar die valke is nie altyd suksesvol nie, en soms ontsnap ’n voël – met of sonder beserings.
’n Slagoffer – ’n gewone tortelduif – het ontsnap, maar kon weens ’n gebreekte vlerk nie vlieg nie. Hy het skuiling in die drinkbak gesoek. Sake het vir die arme duif vererger toe ’n leeutrop op die toneel verskyn.
Die groot wyfie – ’n ma van vier welpies – het blitsvinnig die duif uit die water getel, ’n entjie weg geloop en dit opgevreet.
Onthou: Dit kan moeilik wees om kos te kry in dié woestynagtige omgewing en vir leeus behels dit gewoonlik uitputtende jagwerk. Die duif was dalk net ’n happie, maar dit was ’n happie wat geen kosbare energie geverg het nie.