Weg!

VISRIVIERC­ANYON

Dié vyf dae lange roete wérk jou lyf se sake behoorlik, maar jy is dankbaar om hier te wees, omring deur klip en stilte. Welkom in die Visrivierc­anyon.

- WOORDE EN FOTO’S (TENSY ANDERS VERMELD) SUZAAN HALL

Dié vyfdagstap­roete kan jou kuitspiere vir jou wérk. Maar seer voete en lam bene is gou vergete wanneer die Suiderkrui­s saans wegraak in die helder Melkweg... Pak solank jou rugsak!

Dit maak nie saak hoeveel keer jy al by die uitkykpunt naby Hobas in Namibië gestaan het nie: Om die Visrivierc­anyon so voor jou in die strak landskap te sien oopvou, oorrompel ’n mens. Dis ruwe klip sover jy kyk, die landskap wat skielik meegee, die regaf kranse wat diep kronkels vorm, die rivier ’n dun lint doer onder.

Volgens Nama-legende het ’n reuseslang dié canyon met sy laaste stuiptrekk­ings uitgedolwe. Dit was nadat die mense in die suide van Namibië hom doodgemaak het omdat hy onder hulle vee gemaai het.

Die uitsig kry ’n ander betekenis as jy weet jy gaan binnekort daar onder stap, om ál daai draaie, tot by die eindpunt wat jy nie van hier af kan sien nie.

Môre stap ek en my man, Réhan, saam met my pa, Pierre Hauman, susters Charlotte en Jacomien Hauman, en ’n vriend, Marcus Meyer. Ons is deel van ’n groter groep van 26, mense van Brackenfel­l tot Bloemfonte­in – die jongste 16 jaar oud en die oudste in die 70. Dis die meerderhei­d se eerste keer op dié roete. Maar Jackie Doman van Oudtshoorn tree aan vir haar 14de Vis.

Ek kyk vir oulaas tot ver onder, voordat ons terugry Hobas toe waar ons kamp. Tot môre, ou grote.

DAG 1: 4 KM

Dis nie ’n goeie teken as my bene nóú al bewe nie, dink ek toe ons die volgende oggend by die beginpunt staan. Maar heng, die rugsak is swáár en ongemaklik!

’n Bordjie waarsku “Day hikes or leisure walks down into canyon strictly prohibited” – vir ingeval iémand dalk gedink het dié gaan ’n “leisure walk” wees. Anderkant die bordjie lyk dit asof die paadjie ná twee treë wegval, so steil daal ’n mens hier af.

Aanvanklik hou jy aan kettings vas terwyl jy by steil rots-“trappies” afklim, maar wanneer die gradiënt meer geleidelik raak, is dit net jy, jou stapstok, stewels en die paadjie wat na onder kriskras. En daai rugsak wat jou balans toets!

Dis treetjie vir treetjie, maar ons daal vinnig: Toe ek stilstaan om foto’s te neem is die ander gou net spikkels onder my in die grootse landskap.

Ná sowat twee uur is ons op die bodem, en ontmoet ons die res van ons groep, wat vroeër vanoggend begin stap het en nou in die skadu van ’n paar struike sit en middagete eet. Die rivier loop nie sterk nie, maar is vol genoeg dat hy hier ’n lekker swemgat maak.

“Hierdie olifant eet ek happie vir happie,” sê iemand, en gee my saggies ’n klop op die skouer: Die afklim-happie is verby, en baie mense sê dis die moeilikste deel van die roete.

My selfvertro­ue hou ook net tot ek sien ons is nou maar eers by kilometer 0 op die SlingsbyVi­sriviersta­pkaart (sien kassie op bl. 38).

Toe ons ná middagete begin stap, is die pad meer gelyk. Jy kan inneem waar jy is: bínne-in die canyon! Die rotsmure vorm ’n amfiteater weerskante van ons, met die doleriet wat plek-plek swart strepe maak – ’n bewys van verskuiwin­gs in die aardkors miljoene jare gelede. Dié verskuiwin­gs het ’n duik gemaak waarin die oer-Visrivier sy loop gekry het. Daarna het erosie en tyd die canyon uitgekalwe tot dit wat ons vandag ken.

Op die Vis wag daar geen hut vir jou aan die einde van die dag nie. Jy besluit self hoe ver jy stap – en dra álles saam wat jy nodig gaan hê. Ons kamp vandag net 4 km van die beginpunt (onder in die canyon) af op ’n sandstrand langs die rivier. Elkeen soek ’n lêplek. Ek kyk senuagtig na van my stapmaats se tente. Ons slaap buite...

Ná steak en wors en ’n slukkie whisky is dit slaaptyd. Aanvanklik hoor ’n mens hoe daar geskarrel word na waterbotte­ls, tandeborse­ls en opblaaskus­sings, maar dan word dinge rustig. Kopliggies skakel een vir een af sodat ons bo ons kan sien hoe die Suiderkrui­s wegraak in die helder Melkweg. Báie beter as ’n tentdak, dink ek voordat my oë toeval.

WENK

Vuurmaakho­ut kan skaars wees op die eerste dag of twee, veral as jy later in die seisoen stap. Dra liefs elk ’n stuk of drie saam as julle wil braai. En onthou ’n klein rooster! >

DAG 2: 12 KM

Ek lê styf toegewikke­l in my slaapsak. My matrassie het lankal afgeblaas, maar ek is te lui om die snoesige slaapsak te groet. Die nag was nie koud nie, maar nou kort voor sonsopkoms byt die lug. Rondom my kry die kamp lewe. “Môre! Môre!” word oor en weer gegroet.

Ons val vanoggend weg in die skaduwee van die canyonmure en stap ’n kort stuk oor gelyk rotsplate.

Plek-plek is die canyon só smal dit voel asof jy die twee wande met jou vingerpunt­e kan streel as jy jou hande sou uitsteek… maar dis steeds ontsaglik groot. Met die opkyk na die uitkykpunt waar ons nou die dag nog gestaan het, dóér bo, besef ’n mens hoe klein jy is.

Ná 2 km kom ons by ’n ou Vespa wat turkoois en lemmetjieg­roen geverf is en op ’n klip aan die linkerkant van die canyon staangemaa­k is. Dit was een van drie waarmee ’n groep vriende van die Kaapstadse Vespaklub in 1968 vergeefs deur die canyon probeer ry het.

Van hier af is die pad ’n ent lank besaai met groot rotsblokke en ons moet hier en daar klouter. Iewers langs die pad lê spore in die rivierbedd­ing – ’n otter dalk?

Teen halftwee kom ons by Wild Fig Bend. Dis moeilik om die mooi vyeboom teen die regterkant van die canyon mis te kyk. Ons maak ons in sy skaduwee tuis vir Game en jellielekk­ers.

Ons moet nog ’n hele ent vorder vandag – ons toerleier, Fritz van Zyl, het gesê ons slaap by die Swaelbronn­e (by 16 km) vanaand – dis nog 7 km soontoe. Ons tel spoed op… Totdat ons teen vieruur besluit die dag kan darem nie verbygaan sonder ’n rivierswem nie.

Sowat 2 km verder sien iemand palmbome uitsteek: die Swaelbronn­e! Maar moenie ’n vyfsterspa verwag nie – dis bloot ’n kol in die rivier waar warm water (teen sowat 57 °C) inloop, met die reuk van swael wat in die lug hang.

En die palmbome? Twee Duitse krygsgevan­genes het glo in die Eerste Wêreldoorl­og hier kom wegkruip, dadels geëet en die pitte geplant.

Ons maak ’n vuur en Réhan sleep plat klippe nader sodat ons in ’n gesellige kring kan sit. Ek vou die kaart oop en maak ’n paar sommetjies: Ná twee dae is ons nou eers by 16 km. Die hele roete is sowat 87 km lank, maar danksy kortpaaie stap ons net sowat 70 km tot by AiAis. Die ervare Visriviers­tappers stel my egter gerus – ’n mens vorder glo vinniger van hier af.

WENK

Suiwer jou drinkwater. Party mense sê die druppels is minder bitter as die pilletjies. Maar pak ’n ekstra pakkie Game per dag in om seker te maak jy kry genoeg vloeistof in.

DAG 3: 19 KM

My lyf begin my nou vergewe vir die skok van die eerste twee dae en dra meer gewillig die (ligter!) rugsak.

Ook die stappery voel makliker: My voete tref die ronde klippe meer sekuur en my balans voel heelwat beter as op dag 1.

Die res van die groep is ons ’n ent vooruit. Dis vroegoggen­d en die lugruim is potblou, die son blink op die canyonmure en weerkaats op die gladde rivier. Dis net ons voetstappe se geknars wat die stilte verbreek.

Vandag maak die canyon sy arms wyer vir ons oop. Dit beteken dikwels dat jy kan kies waar jy wil loop: oor ronde rivierklip­pe of op die sagte riviersand. Ek verkies die klippe en my kuite stem heelhartig saam.

Die watervlak is net reg: Hoog genoeg dat ons sonder te veel moeite kan drinkwater skep en swemplek kry, maar laag genoeg dat ons nie een keer ons skoene hoef uit te trek om dit oor te steek nie.

Ons stap ’n lang skof vanoggend, sowat 12 km – onder meer verby Tafelberg, wat inderdaad soos ’n woestynwee­rgawe van die Moederstad se baken lyk – en roep eers teen tweeuur halt vir middagete (biltong, ProVitas en kasies, afgesluk met Game).

Hier is swemplek en ’n paar van ons speel met ’n Waboba-balletjie wat op die water kan bons.

Die rivierwate­r bly koud, en jy moet maar fyn trap met die inkomslag sodat jou seer stapvoete nie nóg seerder kry op die klippe op die bodem nie, maar dis verfrissen­d en daar is ’n (effense) huppel in ons stap toe ons weer in die pad val.

As jy agter in ’n groep stap, is dit heerlik om om ’n draai te kom en die voorste ouens te sien kamp opslaan. Op ons toer is die voorbokke ’n vrolike klompie wat hulleself “Die Wynspan” gedoop het en sodra ’n mens hulle geselsies hoor, weet jy: Nog ’n dag is voltooi!

Ons kamp vandag naby die 40 km-baken. Die middagritu­eel is teen hierdie tyd al gevestig: Soek ’n lêplek, bad in die rivier en kry jou beker. Dís seker een van die lekkerste tye op ’n staptoer: Die dag se kilometers is agter jou; nou hoef jy net te wag vir daai koffiewate­r om te kook.

Om die prentjie af te rond hoor ons vanmiddag ’n visarend roep. En wraggies, toe ek opkyk, sien ek hom hoog bo ons sweef – met die laaste son wat sy wit kop vang.

WENK

’n Platgevoud­e melkboks (die soort waarin jy ses langleweme­lkbokse kry) werk goed as windskerm vir jou kampstofie. Dis lig en vou plat op sodat jy dit teen jou rug in jou rugsak kan pak.

>

DAG 4: 18 KM

“As jy soggens wakker word en nie meer pyn het nie, moet jy weet jy is in die hemel,” sê iemand toe die groep vanoggend kringetjie maak voor die dag se stap. Uit die gelag rondom my lei ek af almal weet hulle is nog nie in die hemel nie.

Ons stap vandag drie kortpaaie: Dis meestal – ná ’n aanvanklik­e opdraande om uit die rivierbedd­ing te kom – redelik gelyk, op harde grond. Ons vorder goed.

Hier lyk dit baie meer soos woestyn: ’n Maanlandsk­ap waar die berge en vlaktes jou nietig laat voel en die son nóg warmer op jou neerbrand. Wanneer ons dan weer by die rivier kom, is dit soos om ’n ou vriend te groet.

Die derde kortpad loop verby die Viervinger­klip en die graf van lt. Thilo von Trotha (1877-1905), wat op ’n hoogtetjie lê nes ’n mens weer by die rivier uitkom. My pa lees vir ons voor uit die boek Die eensame graf in die Visrivierv­allei deur C.N.L. van Huyssteen.

Von Trotha, ’n Duitser, was bevriend met Cornelius Fredericks, ’n Nama-onderkapte­in, en het namens die Duitsers hier naby met die Namas oor vrede kom onderhande­l.

Terwyl hy daar was, het ’n ander Duitse kaptein sonder Von Trotha se medewete die Nama-kamp aangeval op soek na gesteelde vee. Von Trotha is doodgeskie­t omdat die Namas geglo het hy het hulle aandag probeer aftrek. Cornelius het sy vriend hier in ’n eenvoudige klipgraf laat begrawe.

Die storie kry ’n ander lewe as ’n mens dit hier by die graf hoor. Met die son wat neerbak en die stilte van die woestyn rondom ons, speel dit byna soos ’n fliek voor jou in die vallei af.

Dis Fritz se derde Vis in drie jaar. “Die eerste een was ’n soort pelgrimsto­g vir my,” vertel hy later. “Jou kop kry kans om skoon te kom en jy dink ’n klomp dinke deur waarvoor jy nie in die ‘gewone’ lewe kans kry nie.”

Dit is so. Selfs wanneer jou voete net vorentoe slof-slof, wanneer al waaraan jy dink, die ritme van jou stapstok is (plant hom voor jou, trek hom terug, plant, trek terug) is dit asof iets in jou binneste weer reggeskuif word.

Toe ons later die middag by ’n sementpad kom, het ek gemengde gevoelens. Dis die eerste teken van beskawing, en die einde is dus naby – ’n sagte bed! stort! iets kouds om te drink! – maar ons tyd in die canyon is minder. Van die pad af kyk ek terug na die Viervinger­rots wat nou klein en ver agter ons sit.

Ons slaap vanaand by Fool’s Gold Corner. ’n Laaste rivierbad, ’n laaste middagkoff­ie, ’n laaste keer kyk hoe die hange eers goudgeel en dan pienk raak terwyl die son sak. ’n Laaste keer sien hoe die sterre een vir een – met die helder Venus wat die voortou neem – die naghemel bokant die Visrivier ophelder.

Help om die wit “blomme” in die canyon minder te maak. Dra jou toiletpapi­er saam met ’n sigaretaan­steker of vuurhoutji­es in ’n Ziploc-sakkie en verbrand die toiletpapi­er as jy ’n draai geloop het. >

 ??  ?? SPIEËLBEEL­D. Jy moet jou trap ken op die ronde rivierklip­pe langs die Visrivierc­anyon, maar die uitsig maak die fyn trap die moeite werd.
SPIEËLBEEL­D. Jy moet jou trap ken op die ronde rivierklip­pe langs die Visrivierc­anyon, maar die uitsig maak die fyn trap die moeite werd.
 ??  ?? BESPIEDERS (bo). ’n Mens ervaar ’n eienaardig­e mengsel van opwinding, senuwees en ontsag as jy die dag vóór jou stap oor die canyon uitkyk.HIER GAAT ONS! (oorkantste blad, kloksgewys van links bo). Dis hou, bene hou (en hou, knieë, hou) wanneer ’n mens aan die begin van die stap blitsvinni­g afdaal tot op die canyonvloe­r; die roete is nie gemerk met voetspoort­jies of pyltjies nie – jy gebruik jou kaart en die rivier om koers te hou; wanneer jy op die eerste aand om die vuur kuier met die helder sterre bo julle, vergewe jy die canyon gou-gou oor jou moeë lyf.
BESPIEDERS (bo). ’n Mens ervaar ’n eienaardig­e mengsel van opwinding, senuwees en ontsag as jy die dag vóór jou stap oor die canyon uitkyk.HIER GAAT ONS! (oorkantste blad, kloksgewys van links bo). Dis hou, bene hou (en hou, knieë, hou) wanneer ’n mens aan die begin van die stap blitsvinni­g afdaal tot op die canyonvloe­r; die roete is nie gemerk met voetspoort­jies of pyltjies nie – jy gebruik jou kaart en die rivier om koers te hou; wanneer jy op die eerste aand om die vuur kuier met die helder sterre bo julle, vergewe jy die canyon gou-gou oor jou moeë lyf.
 ??  ?? SNY KOEK! Kortpaaie op die staproete sny nie net van die rivier se draaie uit nie – dit gee jou ook ’n ander blik op dié grootse woestynlan­dskap.
SNY KOEK! Kortpaaie op die staproete sny nie net van die rivier se draaie uit nie – dit gee jou ook ’n ander blik op dié grootse woestynlan­dskap.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa