Weg!

Slange se voorbladge­sig

- – Albie Venter

Ek hou altyd ’n flits byderhand om te kyk wat ek ná donker in ’n kampplek kan opspoor. Ek was al ’n paar keer gelukkig genoeg om ’n marmerslan­g te gewaar. Slange ontlok sulke uiterste reaksies by mense – óf hulle gril hulle dood, óf hulle word geboei.

Die marmerslan­g is seker een van die mooiste slange in Suid-Afrika en heeltemal skadeloos... Ek hoop dit kan dus ’n soort ambassadeu­r vir hierdie reptiel wees! Dié voorbladge­sig het relatiewe groot oë en vertikale pupille, wat hulle deel van die groep katoogslan­ge maak.

Hoewel hulle tot sowat 85 cm lank kan raak, is die gemiddelde lengte maar slegs sowat 40-60 cm. Dit maak dit maklik om hulle mis te kyk – veral aangesien hulle vel bruin met dowwe wit kolletjies is. Dis dié kolletjies­patroon wat die slang sy naam gee.

Hulle kom in die klammer oostelike dele van die land voor en verkies woudagtige gebiede, waar ’n mens hulle gewoonlik onder los boombas, in hol boomstompe en onder dooie blare te sien kry. Hou jou oë oop in enige van die wildtuin se kampe noord van Olifants, veral as julle ná sononder rondstap – hulle hou veral van gebiede waar daar mopaniebom­e voorkom. Marmerslan­ge kom egter ook naby huise voor en het ’n voorliefde vir grasdakke.

Die slange is meestal onaktief bedags en kry eers lewe wanneer hulle snags jag. ’n Marmerslan­g se gif het nie enige uitwerking op mense nie, en word gebruik om hulle prooi te verlam – geitjies, klein akkedisse, paddas en soms knaagdiere.

Soos die meeste slange lê die wyfie in die somer eiers – sewe tot nege. Wanneer die slangetjie uitbroei, is hy sowat 18 cm lank.

As die slang bedreig voel, krul hy hom op in ’n aanvallend­e posisie met die voorste deel van die lyf gelig. Hy maak dan sy bek oop en maak stadige aanvallend­e bewegings om enige moontlike vyand af te skrik.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa