Die suidpunt van Afrika
By die mees suidelike punt in die land – trouens, op die Afrika-vasteland – ontmoet twee oseane én twee dorpe. Welkom op Struisbaai en L’Agulhas.
Ry jy Struisbaai op die R319 uit Bredasdorp se rigting binne, ontspan jou skouers dadelik. Op linkerhand waaier die see blinkblou uit; op regs is ’n pretpark (met ’n waterwurm en putt-puttbaan). Ruim vakansiehuise, ’n paar winkels en seekosrestaurante staan styf teen mekaar alkant van die hoofstraat. Oral adverteer borde vakansieverblyf.
Kap jy aan verby die hawe en die winkelsentrum, swaai die pad na regs en word dan Marinerylaan. Die wêreld vou oop voor jou... Links lê ’n strook kusfynbos tussen jou en die diepblou see en regs kruip die huise teen Sandberg se helling uit. Daarna doem die rooien-wit vuurtoring in die verte op, met ’n paar winkeltjies en kuierplekke aan sy voet. Jy is nou op L’Agulhas, die mees suidelike dorp in Afrika.
“Ja kyk, die twee dorpe grens só aan mekaar dat dit eintlik maar een plek is,” gesels Neels Grobler, die eienaar van die Three Oceans Pub, terwyl ons by die kroegtoonbank sit.
“Struisbaai is meer van ’n propperse dorp, terwyl jy op L’Agulhas daai village- gevoel kry.” Ek vra uit oor die kroeg se naam: ek weet die Indiese en Atlantiese Oseaan kom hier bymekaar, maar die derde? “Dis die kroeg,” sê hy en plak ’n yskoue bier voor my neer. “Hier’s genoeg om te drink, en dit raak nooit op nie.”
Neels vertel die meeste huise hierlangs is vakansieplekke wat die grootste deel van die jaar leegstaan en die permanente inwoners tel skaars by die 5 000. “Behalwe visvang en kuier is hier nie veel om te doen nie,” skerts hy. Vakansietye is dit egter ’n ander saak; dan styg die inwonertal maklik tot by 50 000!
Die groot trekpleister is Struisbaai se lang strand (die oorspronklike baai het juis sy naam te danke aan die Ou-Hollandse “struis,” wat “groot” of “massief” beteken). Hier kan jy omtrént sandkastele bou: dit strek vir ’n allemintige 14 km wes in Waenhuiskrans se rigting en is die langste witsandstrand in die Suidelike Halfrond.
Hier lê juis meer as 20 skeepswrakke wat reeds eeue lank deur die kusstrook se verraderlike rotsriwwe gekelder is – die Portugese het dit nie verniet in die 1 500’s die Cabo das Agulhas – oftewel die Kaap van Naalde – gedoop nie.
Dís om hierdie rede dat die ánder groot besienswaardigheid – die Agulhas-vuurtoring– in 1849 opgerig is.
En ’n klipgooi see se kant toe glip ’n beskeie handjie vol rotse tussen die Indiese en Atlantiese Oseaan in: die mees suidelike punt van Afrika. Die gedenkteken wat dié effe onopvallende kol merk, is gewild onder plaaslike en oorsese
besoekers – álmal wil hier ’n selfie neem!
Daar is darem ook ’n paar meer onlangse gebeurtenisse wat gehelp het om die plek ’n bietjie op die map te sit. Etlike jare gelede is ’n paar tonele van die plaaslike TV-reeks Swartwater (SABC2) in die L’Agulhas Kafee & Superette geskiet, ’n plek waar jy van klere en kerrievis tot boeke en batterye kan koop. En Jan Braai se Braaitoer begin reeds die afgelope drie jaar by Sea Shack Struisbaai, ’n loslit eet- en kuierplek teen Struisbaai se strand.
Die ware siel van hierdie wêreld lê egter in die waters self. Omdat twee oseane – en ’n maalkolk van strome – hier ontmoet, het die water ’n baie hoë konsentrasie voedingstowwe. En dit beteken net een ding: vólop vis. Dit word onder die rykste vangwaters in die land gereken: Geelbek, geelstert, kabeljou, steenbras, galjoen...
“Geelstert se tyd is gewoonlik rondom September,” gesels Neels verder. “Dan kom die ouens van so ver as die Weskus en Port Elizabeth met hulle bote om hier te vang. En Struisbaai se hawe is klein. Net een boot kan op ’n slag by daai sloep launch. Ligdag reeds staan die treilers vir kilometers in die hoofstraat om by die hawe in te kom. Dan,” maak hy grootoog, “raak dinge interessant op hierdie dorp.”
Struisbaai se vissermanne, wat sedert toeka se dae hier woon en ’n bestaan uit hierdie waters maak, het volgens Neels nie dieselfde probleem nie. Dié gesoute manne weet presies watse vis wanneer loop, en doen dinge soos dit reeds donkiejare die geval is: Daar word in kleurvolle houtbootjies (bakkies) uitgeroei van Seekoeigat, die hawe se strandjie, af tot by die skuite, oftewel chuckies (so genoem oor die chug-chuggeluid wat die enjins maak) wat in die hawe vasgemeer lê. En dan is dit oopsee toe. “Dis nogal ’n belewenis om daai besigheid vroegoggend te bekyk,” sê Neels voordat ons groet.
Die vispraatjies het my behoorlik honger gemaak. Ek kies koers na L’Agulhas Seafoods af in die pad. Nadat ek kort werk van ’n lekker bord vis-en-tjips gemaak het, kom sit Lindie Snyman, die eienaar, by my. L’Agulhas Seafoods is 25 jaar al ’n instelling op die dorp, vertel sy. Die lynvis word direk by die skuite in die hawe aangekoop – varser kry jy nie. En die plek hou haar góéd besig.
“Tog kry ek tyd om te doen waarvoor ek lief is,” vertel sy. “Hierdie wêreld is die perfekte plek vir ’n natuurmens. Jy hoef nie geld te bestee om jouself te geniet nie.” Lindie het al ’n paar keer die 14 km strandlangs van Struisbaai af na die Heuningnesriviermonding, skuins duskant Waenhuiskrans, gestap.
“Jy moet net seker maak jy spring weg as >
die gety begin terugtrek. As die hoogwater jou vang en jy op nat sand moet sukkel, gaan jou kuite dit nie hou nie.”
Sy stap ook gereeld die ongeveer 2 km van die Agulhas-vuurtoring af kuslangs oos na die skeepswrak van die Meisho Maru, wat in 1982 hier op die rotse geloop het. Teen sononder verkleur die wrak skouspelagtig pienk. “Dis ’n gunsteling onder die mense hier,” vertel Lindie.
Die Meisho Maru lê in die Agulhasnasionale park wat aan die dorp grens.
“Jy sal nie glo nie, snags loop hier nog bokkies tussen die huise rond.”
Die park strek oor sowat 200 km² van die vuurtoring kuswaarts tot by Quoinpunt. Steenbokke, ribbokke en bloukransvoëls wei tussen plate fynbos wat net hier voorkom. Wild mag dalk volop wees hierlangs, maar nadat ek by Lindie weg is, gaan soek ek Struisbaai se beroemdste wilde inwoner. En dié kêrel is nie ’n landloper nie.
Parrie, die pylstert, is ’n instelling by die hawe. Dié groot rogvis, wat so soos ’n swart vlinder onder die water sweef, is hondmak en doen al jare sy rondes wanneer die skuite uit die diepsee terugkeer.
Aanvanklik is hy aangetrek deur die afval van die sardiens wat op die bote skoongemaak word; vandag voer mense hom sommer blikkiesvis wanneer hy doodluiters tot teenaan hulle voete in die vlak water swem. En hy’s lank nie meer alleen nie – soms is hier tot 16 pylsterte op ’n slag.
“Lyk my ons luck is uit,” sê Ernest Lonsdale, wat gaaf genoeg was om my hier te ontmoet, waar ons op die hawemuur die water staan en fynkam vir ’n teken van Parrie. En hy behoort te weet: Ernest is Struisbaai se pylstert- whisperer.
“Dis al ses jaar dat ek hier met die pylsterte besig is. Aan die begin het ek hulle stukkies sardiens gevoer; later het hulle sommer net nader gekom as ek met my vingers in die water woel. Ek roep hulle, ek gesels met hulle, en as ek weer sien, is hulle hier. Ek weet nie presies hoe dit werk nie. Maar ek geniet dit om mense, veral kinders, van die pylsterte te leer.”
Ernest verduidelik afgehaal dat daar tans sand uit die hawe gepomp word, en dat Parrie en Kie. nie van die rumoer hou nie. “Maar hulle sal terug wees.”
Ernest is ’n selferkende sigeuner wat in ’n woonwa saam met Shadow, sy brakkie, op Struisbaai woon. Hy doen herstelwerkies aan yskaste en lugverkoelingstelsels om die pot aan die kook te hou. Hy het al die land deurkruis, maar meen die wêreld hierlangs is besonders.
“Dalk is dit die see, maar daar’s iets kalmerends aan die plek en sy mense. Dit sit ook nie op ’n deurpad nie; die pad loop mos anderkant die vuurtoring teen die park dood. Dis ’n bestemming, mense kom hierheen met ’n rede.”
Ons skud blad. Hy sê weer hoe jammer hy is dat ons nie vir Parrie kon opspoor nie. Ek sê nee, dis fyn, ek het mos nou ’n ánder soort wilde karakter ontmoet. Hy lag diep en lekker uit sy maag.
Teen sononder staan ek by die suidelikste punt van Afrika. Skuins na links begin die vuurtoring se reuse-oog gloei. Ek klouter oor die rotse duskant die gedenksteen dat ek my staan só kan kry dat daar geen meer vasteland voor my is nie. Die twee seë vloei wild en eindeloos in mekaar. Dis ’n aardige, eensame gevoel om te weet hier’s hoegenaamd níks meer voor jou nie – die volgende stop is die Suidpool.
Maar agter my, weet ek, vloei daar óók twee plekke in mekaar, wat eintlik maar een is. En daar’s dit gesellig, vriendelik, en ryk aan die sout van die aarde.