Weg!

1 Die Padstal

-

Jy kan nie ’n vakansie aanpak sonder goeie biltong nie. Gelukkig is Villiers nie te ver ná die wegtreksla­g nie, want dis waar jy die beste biltong (R289 per kg) en droëwors (R289 per kg) langs die N3 kry, by Die Padstal.

Die Padstal is ook die plek waar jy jou koelboks vol lamstjops en boerewors (vars van die plaas) kan pak. Alles bewerk deur die eienaars, Flippie en Elize Lourens. Hulle handewerk en lekkernye sluit ook in gemmerbier, vrugtesapp­e, ingelegde produkte en Leka Hot-rissiesous (hy is glo baie rof en Elize sê hy sal jou van jou stoel af piets). Hier is koekies, beskuit, konfyte, kuns en speelgoed vir die kinders. Jy gaan waarskynli­k nie sonder een van die oulike opgestopte skapies – hulle lyk baie na Shaun the Sheep – ry nie. Kyk gerus hier vir Kersgesken­ke vir vriende en familie.

En moenie ry voordat jy nie ’n geselsie aangeknoop het met die vriendelik­e personeel nie. Soos Jenny Webb, die bestuurder, sê, al wat ’n mens in hierdie lewe kort, is ’n bietjie vriendelik­heid en lekker biltong.

Die beste deel van Die Padstal? Hier is een aan elke kant van die N3. Dus kan jy kan weer inswaai met die terugkomsl­ag. Want lekker biltong raak vinnig op.

Waar? Aan albei kante van die N3 by die Engenvulst­asies noord van Villiers.

Oop? Die meeste dae 7 vm.-5 nm. en Saterdae net tot 2 nm.

082 859 3117 of soek “Die Padstal” op Facebook

– Willem van der Berg

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa