Weg!

ORANJERIVI­ER

In die somer van 2018 stap Glen Steyn en ’n vriend 2 500 km al met die Oranjerivi­er langs – van die bron in Lesotho tot waar dit in die Atlantiese Oseaan uitmond. Dit neem byna 100 dae. Dis ’n hardebaard avontuur, maar iemand moet dit doen, of hoe?

- WOORDE EN FOTO’S GLEN STEYN

Glen Steyn en ’n vriend stap binne 100 dae al met die Oranjerivi­er langs van Lesotho tot by die monding in die Atlantiese Oseaan – 2 500 km ver!

As kind het ek baie in die veld en koppies oorkant ons huis in Ruimsig, Johannesbu­rg, gespeel. Ek het altyd net voor donker by die huis gekom – vol skrape en kneusplekk­e. Ek en my broer, Brent, het skuilings in bome gebou en elke dag wyd verken.

Ek was in die King Eduard VII-seunskool en het daarvan gedroom om ’n wildbewaar­der te word. Maar ná skool het die lewe gebeur en ek het ’n persoonlik­e afrigter geword en ’n gim in Johannesbu­rg bestuur. Later het ek egter besef dat ek tog my liefde vir fiksheid én die buitelewe kan kombineer. Ek en my broer het eenkeer by die huis na Ross Kemp: Extreme World op die Discovery Channel gekyk. Kemp is ’n joernalis en was saam met die Britse weermag in Afganistan. Ek vir my broer gesê: “Dís wat ek wil doen.” Ek wou Afganistan toe gaan en het by die Koninklike Vloot se mariene korps aangesluit. Ek moes Engeland toe vlieg om ’n reeks onderhoude en fiksheidst­oetse te doen voordat ek aanvaar is.

Dit was in 2010. In my tyd by die vloot is ek onder meer na Afganistan, Noorweë, Oman, Amerika, Albanië en Duitsland ontplooi. Ek het die vloot in 2016 verlaat en in private sekerheid in Suid-Afrika begin werk – my spesialisv­eld was teenseerow­ery.

Beplanning en voorbereid­ing

Met my terugkeer na Suid-Afrika het ’n idee begin posvat – ’n manier om geld in te samel vir die mariene korps se liefdadigh­eidsorga- nisasie. Baie oudsoldate het geld nodig vir kunsledema­te en berading vir post-traumaties­e stres. Die ander liefdadigh­eidsorgani­sasie wat ek gekies het, was Veterans for Wildlife.

Dit word bestuur deur Wesley Thomson, ’n skoolvrien­d en ook voorheen in die vloot. Wesley kry oudsoldate uit die Verenigde Koninkryk om teen strop i ng s wagte in SuidAfrika te kom oplei.

Die idee was om al met die Oranjerivi­er langs te stap: van die bron in Lesotho af (waar dit die Senqurivie­r genoem word) tot by Alexanderb­aai aan die Atlantiese Oseaan. Ek sou deur dele van die land stap waar ek nog nooit was nie.

Ek het aanvanklik beplan om alleen te gaan, maar ek ken ook ’n paar oudsoldate wat van filmwerk en ekspedisie­s hou, en het ’n uitnodigin­g op Facebook geplaas. Ek het gesê ek is op soek na ’n kameraman om ’n drie maande lange tog in Afrika saam met my te doen: “Moet fiks wees en gemaklik met veeleisend­e terrein en toestande. G’n salaris nie, maar ’n goeie begin vir jou portefeulj­e.”

Dis hoe Alex Davidson – van Shropshire in Engeland – betrokke geraak het. Hy was ook ses jaar in die mariene korps, maar ek het hom nie goed geken nie en hom net ’n slag of wat in die kamp gesien.

Ek het in Oktober 2017 begin beplan en Google Earth gebruik om die roete uit te werk. Ek het reeds die meeste van die toerusting gehad. Ek wou nie te veel reël nie, want dan sou dit nie so ’n groot avontuur wees nie.

Die belangriks­te was om geld vas te maak. Op die ou end het die tog van 97 dae sowat R30 000 p.p. gekos – dit was meestal vir kos. Ek en Alex het dikwels op ’n dorpie halt geroep en net geëet en geëet. Ten spyte hiervan het ek steeds 18 kg verloor.

Ek het vooraf vyf dae per week ’n uur lank geoefen. Ek het in die gim geoefen op die skip waar ek in die maande voor ons tog was. Toe ek harder moes oefen, het ek die oefensessi­es in ’n frokkie met gewigte daaraan gedoen. Teen die tyd dat ons in die pad geval het, was ek fiks.

Die berge in

Op 21 Januarie 2018 het my ouers my en Alex by die Mnweni- kulturele dorpie wes van Bergville in KwaZulu-Natal afgelaai.

Om by die bron van die rivier uit te kom was ’n epiese tog. Ons moes eers die >

Mnwenipas uitklim. Van die voet van die pas af tot in Lesotho en verder tot by die bron is ’n vertikale klim van 900 m oor ’n horisontal­e afstand van 1,5 km. Dis steil, en harde werk as jou rugsak byna 40 kg weeg!

Lesotho was taai. Ek was al voorheen daar, maar om deur ’n land te ry gee jou eintlik geen idee van die terrein nie. Dis anders as ’n mens te voet is, veral in dele sonder paaie.

Dit het ons drie dae geneem om oor die Drakensber­g te klim. Ons het niemand anders gesien nie. Op die derde aand het ons reg langs die bron van die rivier geslaap en moes ons deur ’n yslike storm sit. Dit het gevoel asof ons ín die wolke was, en die weerlig het ons heelnag wakker gehou. Alex se tent het gelek en hy moes dus in myne kom skuiling soek.

Die stap was die taaiste in Lesotho, maar ook die lekkerste. Ons het meestal gekamp, maar is twee keer genooi om in rondawels te slaap toe van die plaaslike mense ons in die reën sien stap het. Hulle het skuiling gebied en ons het hulle met kos bedank.

Die landskap was móói. Daar is nie één stuk gelyk grond nie. Die mense is van die vriendelik­ste wat ek al teëgekom het. Min Suid-Afrikaners was al in Lesotho, en dis so naby!

Dit was maklik om te navigeer omdat ons altyd die Senqurivie­r kon sien, maar my militêre opleiding het vrugte afgewerp toe ek moes kaartlees, byvoorbeel­d om te besluit of ons ’n heuwel moet uitklim of rondom moet stap. Ons moes soms oor die rivier swem om by makliker terrein uit te kom. Ons het in die vloot geleer hoe om deur riviere te swem met tot 50 kg toerusting.

In diep water moet jy jou rugsak afhaal en as vlot gebruik. Jy moet ’n paar droogsakke in jou rugsak hê. Dié droogsakke skep ’n lugholte binne-in wat dit laat dryf. Jy sit jou arms op die sak voor jou en skop met jou bene om oor die stroom te kom. Dis verbasend maklik as ’n mens eers weet hoe om dit te doen.

Op dag sewe en agt het Alex voedselver­giftiging opgedoen, maar gelukkig was ons in ’n hotel in Mokhotlong. Op dag 13 het ek siek geword en 12 uur lank onophoudel­ik opgegooi. Ek het baie Rehidrat gedrink en dit uiteindeli­k afgeskud.

Ons het ’n paar gevriesdro­ogde stapetes ingepak, maar toe dié eers op was, was die opsies maar oninspirer­end. In Lesotho het ons noedels en sojamaalvl­eis geëet. In Suid-Afrika het my dieet só gelyk: ProNutro soggens, met

heelwat peuselstaf­ies deur die dag; ’n sakkie tuna, neute en sjokolade vir middagete; en pasta, lensies en (weer) tuna saans.

Op ons eerste aand terug in Suid-Afrika – dag 34 – het ons ’n ses uur lange storm beleef. Ons het sowat 40 km van die dorpie Sterksprui­t af gekamp. Die weerlig het die grond 20 m van ons tente af getref!

Ironies genoeg het water ’n logistieke uitdaging geword. Dit was nou al Maart en ’n bietjie koeler, maar ons het steeds minstens sewe liter per persoon per dag nodig gehad. Dit was moeilik om by water uit te kom omdat daar soveel private wildplase langs die Oranjerivi­er is waardeur ons nie kon stap nie. Ons moes ompaaie vat – soms tot 40 km lank – om die plase mis te loop, en ons drinkwater het begin opraak.

Ek het toe die idee gekry om sleepwaent­jies te maak waarmee ons drinkwater tot vier dae sou kon dra. ’n Plaaslike nutsman op Colesberg met die naam Percy het hulle vir ons gemaak; dit het hom twee dae gevat. Ons het R600 elk betaal. In dié tyd het ons op ’n plaas by ’n jong paartjie, Sean en Saskia de Jager, gebly.

Die waentjies het goed gewerk, maar daar was steeds dae waarop ons die water moes rantsoenee­r. Ek het net my mond nat gemaak en nie regtig gedrink nie.

Die mense langs die pad

Ons het baie mense ontmoet wat gedink het ons is mal. “Hóékom?” sou hulle vra, en ek sou antwoord dat ek my lewe meer interessan­t wou maak. Of: “Ek was verveeld by die werk…”

Die uitmergele­ndste stuk was van AliwalNoor­d tot by Upington. Hier moes ons baiekeer op teerpaaie loop omdat ons nie toegang tot die private grond langs die rivier kon kry nie. Die stap self was maklik, maar dit was geestelik moeilik omdat dit vervelig was. Ek verkies uitdagende terrein omdat ’n mens dan altyd bewus moet wees van wat om jou aangaan.

Ek en Alex het gesels oor ou weermagvri­ende, meisies, sake-idees en planne vir ander togte. Party dae het ons skaars enigiets vir mekaar gesê – daar is net soveel gesprekke wat ’n mens kan hê! Ek het nie musiek geluister nie. Ek het my selfoon by my gehad sodat ek daagliks met my ouers in verbinding kon wees en foto’ s en video’ s op sosiale media platforms kon laai.

Die interessan­te mense wat ons ontmoet >

het, het vir afleiding gesorg. Die boere van die Noord-Kaap was werklik besonders.

Awie Jacobs, ’n boer naby Douglas, het aangedring dat ons in die kothuis op sy plaas bly. Ons was twee aande daar, en het baie braaivleis en biltong geëet en bier gedrink. Sy gesin het ons ingeneem asof ons ou vriende is.

Nog ’n boer het ons langs die pad in die reën gestop en vir ons ’n sespak bier en ’n rol boerewors gegee. Hy het gesê as ons ’n vuur in die reën kan aansteek, verdien ons om die vleis te eet. Ek het in ’n afvoersloo­t vuurgemaak en die wors op ’n warm klip gaargemaak.

Naby Keimoes het ons ’n boer ontmoet wat ook in die weermag was en betrokke is by sekerheids­diens te. Ons het ingestem o meen aand op sy plaas oor te bly, maar het só goed oor die weg gekom (en lekker army- stories uitgeruil) dat ons op die ou einde vier nagte gebly het. Dit mag dalk iets te doen gehad het daarmee dat sy vrou nie daar was nie…

Ons het nie ernstige blase gekry terwyl ons stap nie. Teen dag 26 het ek nie meer vel op my linkergroo­ttoon gehad nie, maar ek het al heelwat ervaring met dié soort ding gehad in die weermag – twee dae later was die vel weer droog en hard en reg vir stap. Ons was gelukkig om nie ernstig siek te word of seer te kry nie.

Ons het ons voorraad op dorpe langs die pad aangevul, behalwe die laaste stuk deur die Richtersve­ld toe ons weer dae aaneen gestap het sonder om enigiemand anders te sien. Ons moes vir daai deel beplan om seker te maak ons het genoeg kos.

Die Richtersve­ld was die mooiste deel van die roete. Dit het amper prehistori­es gevoel, en in die dor landskap kon ek my en Alex se reis goed oordink.

My hoofdoel vir die stap langs die Oranjerivi­er was om myself uit te daag, en ek dink ek kan sê ek het dit reggekry. Ons het ook sowat R30 000 ingesamel vir die betrokke liefdadigh­eidsorgani­sasies. Die goedheid van vreemdelin­ge het uit alle oorde gekom – ongeag mense se ras of geloof. Dankie aan almal wat bygedra het.

Ek het myself beter leer ken. Ek kan swaarkry hanteer en funksionee­r goed onder druk.

Ek wil ’n interessan­te lewe lei – om reg oor my tuisland te stap was ’n goeie begin. Dit gaan sorg vir lekker stories vir my kleinkinde­rs eendag!

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? RIVIERKRON­KEL, 40 KM BUITE STERKSPRUI­T
RIVIERKRON­KEL, 40 KM BUITE STERKSPRUI­T
 ??  ?? TOONKLAP, DIE RICHTERSVE­LD IN
TOONKLAP, DIE RICHTERSVE­LD IN
 ??  ?? SPRINGBOKK­APERJOLLE BUITE COLESBERG
SPRINGBOKK­APERJOLLE BUITE COLESBERG

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa