WILDKYK
Leeus is boaan die meeste mense se moetsienlysie. Wat nog te sê van ’n jagtog?! Só ’n vangs kan nogal ’n bloeddorstige besigheid wees, maar sorg vir puik stories om die kampvuur. Ons lesers was voor in die koor by dié drie aksiebelaaide leeutonele.
Was jy al so gelukkig om ’n leeujagtog te sien? Dié lesers was in die losie vir aksiebelaaide leeutonele – hulle deel hulle stories én foto’s
LEEUS VS. BUFFEL, KRUGERWILDTUIN
Nadat ons die Sweni-wildernisroete in die Krugerwildtuin gestap het, het ons onsself bederf met twee aande by die Hamiltons-tentekamp suid van Satara.
Ons was vroeg uit die vere op ons laaste dag omdat ons nog vér moes terugry in die rigting van ons tuisdorp, Somerset-Wes. Ons laaste stilhouplek was by die Shimangwanenidam, waar ons gekyk het hoe die watervoëls op die damrand rondvroetel.
Maar dit was toe nie ons afskeidstoneel nie. Ná sowat 20 minute het ’n jong leeumannetjie uit die bosse nader geslenter – strek-strek soos die oggendson stadig lewe gee aan sy slaaplyf.
Die res van die trop het ook verskyn en op die damwal byeengekom . ’n Tipiese familievergadering, of só het ons gedink. Dit was die eerste leeus wat ons dié vakansie te siene gekry het.
Toe ons agterna na die reeks foto’s kyk, kon ons sien dat dit eintlik ’n geoefende lokval was.
’n Groep dagha bo ys–ou alleenloper buffels–het toe uit ’n ander rigting verskyn en dam toe gedrentel vir iets te drinke (sien 2 op vorige bladsy).
Hulle het die leeus te laat gesien. Die buffels het in hulle spore omgedraai en gevlug terwyl die leeus uit hulle onderskeie lokvalposisies verskyn het 3 .
Die buffels het eers reguit na ons motor toe gemik en toe uitgeswaai, met die leeuwyfies kort op hulle hakke 4 .
Dit was chaos in die motor: My man het rondgetas na sy kamera en ek het probeer om onder die venster in te duik sodat ek nie die vangs kan sien nie. Nadat ek moes aanhoor dat dit ’n een-keer-in-’n-leeftyd oomblik is, het ek maar weer regop gekom en ’n video begin maak. Ek het só geredeneer: Ek sou minder sien, maar dit op kamera vaslê.
Die leeus het reeds een van die buffels ingehaal en hom probeer plattrek. Die een wyfie behoort ’n medalje vir dapperheid te kry aangesien sy die neus nooit laat los het nie 5 , en haar lewe op die spel geplaas het deur so na aan die horings te wees.
Die lug was vol stof, wat die toneel nóg meer onheilspellend gemaak het. Die buffel het aanvanklik hard gebulk, maar toe hy platgetrek is, het die geluide sagter geword, asof hy hom by sy lot berus het. Hy het so lank as moontlik uitgehou.
Ons was stomgeslaan (ons was die enigste mense daar om die toneel te aanskou): Die oggend se voëlgesang is binne tien minute vervang met die gedawer van hoewe en uiteindelik die sterwende buffel se laaste geluide.
Die vangs was gou verby en minder grusaam as wat ek verwag het, maar dit het steeds gemengde gevoelens ontlok. Aan die een kant voel ’n mens bewondering vir die slinkse strategie van die groot katte, wat nie een keer fokus verloor het nie en elkeen hulle rol gespeel het soos nodig.
Aan die ander kant sal ons nooit die buffel se dapperheid vergeet nie. ’n Mens wens amper daar kon twee wenners wees.
Wat ’n skouspelagtige Kruger-afskeid!
VIER LEEUWYFIES VS. LUIPERDMANNETJIE, BALULE
Ek bly in Nederland, maar ek en my lewensmaat kom dikwels na Suid-Afrika, waar ons baie tyd in die bos deurbring. Die Balule-Olifants-Wes-natuurreservaat (langs die wildtuin) naby Hoedspruit is een van ons gunstelingplekke, en ons bly dikwels by die Toro Yaka Bush Lodge.
Met ons verblyf in April 2018 het ons twee keer per dag op wildritte gegaan – altyd saam met Michael Duncan, ’n professionele veldgids by die lodge.
Ons het dié vier leeuwyfies op ’n aandrit uit ’n wildkykvoertuig gesien.
Hulle het pas hulle dors by ’n watergat geles. Michael het gesê hulle is waarskynlik besig om voor te berei vir die aand se jagtog.
Ons het besluit om hulle te volg. Ná sowat vyf of tien minute het ons hulle vir ’n oomblik verloor, maar toe het ’n harde gebrul hulle ligging verklap. Ons het hulle met die soeklig gekry en dadelik besef iets ongewoons is aan die gang 1 .
Die vier wyfies het ’n volwasse luiperdmannetjie omsingel en aangeval 2 , 3 . Die luiperd het probeer ontsnap, maar dit eers ná sy derde probeerslag reggekry. Hy het teen ’n boom sowat 15 m van daar af opgeklouter
4 . Hy het gesukkel om sy balans te hou, maar darem in die boom gebly.
Die totale ontmoeting het sowat 40 minute geduur voordat die wyfies hom in vrede gelaat en gaan jag het.
Ek het dié foto’s met my Canon EOS 7D Mk. II geneem, met ’n Sigma 150-600 mm-lens. My ISO was gestel op 1 600 om die sensitiwiteit te verhoog – ek kon steeds ’n sluiterspoed van 1/200ste van ’n sekonde en ’n lensopening van f5 gebruik.
’N ONGEWONE WILDEBEESVANGS, SERENGETI
Ons het in 2010 in die Serengeti in Tanzanië vakansie gehou – ’n tyd toe dit baie droog was.
Die migrasie het begin en dit was in die middel van die kalfseisoen. Daar was vir kilometers ver net een watergat en die diere moes dus daar verbykom.
Vier leeuwyfies het na aan die watergat in die skadu van ’n boom gelê – dit het gelyk asof hulle vas aan die slaap is. Ons het ons plekke daar naby ingeneem en geduldig gewag dat iets gebeur – terwyl ander voertuie gekom en gaan het.
Skielik het die dominante wyfie se oor beweeg en het sy een oog oopgemaak. Kort daarna het ons ’n trop wildebeeste sien naderkom. Die trop kon die leeus waarskynlik ruik en het eers stil gaan staan. Ná ’n rukkie het hulle dors egter die oorhand gekry en het hulle weer versigtig begin naderstap.
Die wyfies het skielik oorgegaan tot aksie en die jaagtog het begin! Die dominante wyfie was blitsvinnig in die middel van die trop. Sy het ’n pasgebore kalfie met een kragtige veeg neergevel en toe op die ma gespring. Die leeuwyfie het die wildebees afgetrek en vinnig van greep verander om haar aan die keel vas te gryp 1 , 2 .
Toe gebeur iets verstommends: Sy het begin om aan die dooie wildebees se spene te suig, waar melk uitgeloop het 3 . Ons kon kort daarna sien hoe die melk oor die wildebees se flank en agterlyf stroom 4 . Nadat sy gedrink het, het sy die volwasse wildebees ongevreet gelos en eerder aan die kalfie weggelê.
Intussen het die ander drie leeuwyfies hulle eie jagwerk gedoen en nog twee wildebeeste platgetrek.