DORP VAN DIE MAAND
Port Edward is die mees suidelike dorp in KwaZulu-Natal en ’n poort tot die Wildekus. Kom verken die staproetes en reservate, speel op die water en raak rustig tussen die wildepiesangbome.
Erns Grundling maak ’n draai op Port Edward – die mees suidelike dorp in KZN – en deel doendinge, eet- en blyplekke
Die N2 suid van Durban se King Shaka- internasionale lughawe is laatmiddag op ’n doodgewone Woensdag woes besig: Lorries dreun, vlae word geswaai by padwerke, motoriste swenk tussen bane... Gelukkig beloof die bruin padbord met die bekende sambreeltjielogo en brander ’n rustiger plek. Die Suidkus wink, en gou raak die verkeer minder. Groen heuwels strek tot op die einders. Piesangs en avo’s is langs die pad te koop.
Dorpies se name flits verby: Hibberdene, Port Shepstone, Shelly Beach, en die groot vakansiedorp, Margate...
Ek is op pad na Port Edward, KwaZulu-Natal se mees suidelike kusdorp, langs die R61 en digby die Oos-Kaap se grens. Soveel so dat dit bekend staan as die poort tot die Wildekus, of, soos baie mense daarvan praat, die ou Transkei.
Die dorp is in 1925 uitgelê en genoem na die Britse koninklike wat in 1936 koning Eduard VIII sou word (en daardie selfde jaar nog sou abdikeer).
Die maritieme geskiedenis strek veel verder terug. In 1552 het die Portugese vragskip die São João hier naby gestrand. Die skip was onderweg van Indië en oorlopens toe vol gelaai met peper, porselein en ander waardevolle items.
Die wrak is eers in die tagtigerjare deur Tim Maggs van die Natalse Museum ontdek. Stukkies porselein van dié beroemde wrak spoel glo vandag nog op Port Edward se strande uit...
Teen skemer kom ek op die dorp aan. By die afdraai is dit bedrywig by die winkelsentrum wat onder meer ’n SuperSpar en KFC huisves.
Soos ek met Owen Ellis-rylaan die dorp met ’n draai binnery, staan koraalbome omtrent op erewag, en wildevy-, koors-, en wildepiesangbome groei welig.
Die dorpskern is klein met ’n paar restaurante en winkels, ’n dokterspraktyk, biblioteek en ’n ouwêreldse vakansieoord naby die strandfront. Deesdae heet dit Port Edward Holiday Resort, maar was dekades lank die Port Edward Police Resort – dié plek vir polisiemanne en hulle gesinne om langs die kus uit te rus.
Die gastehuis waar ek vir twee nagte bespreek het, Bottlenose B&B, is naby die North Sand Bluff-vuurtoring – een van Port Edward se bekendste bakens. Die 24 m hoë vuurtoring werk steeds. Sy twee strale kan 40 km ver gesien word, maar dis sedert 2012 nie meer oop vir die publiek nie. Die koffiewinkel op die perseel het gevolglik ook toegemaak.
Sera en Fanie Koekemoer en vier vriendelike honde ontvang my hartlik by die Bottlenose B&B. Hulle het lank in Amanzimtoti gebly, maar hier kom aftree.
Sedert 2004 bedryf hulle die gastehuis. Daar is geen ander huise tussen die gastehuis en die strand nie. “Om by die see te bly is ’n seëning,” sê Sera. “Die rustigheid is soveel anders as die gejaag van die stad.”
Die aand lê ek in my gastehuiskamer. As ek die venster mooi dophou, kan ek deur die gordyn sien hoe die vuurtoring se lig oor die grasperk val. Die see se dreuning is gerusstellend en sus my vinnig aan die slaap.
Vroegoggend volg ek die voetpaadjie en stap verby wildepiesangbome tot op die strand. Twee van die honde, Tammy en Nikita, sluit by my aan. Dis net ons op die strand vanoggend.
Die bekende Silver Beach, een van die Suidkus se mooiste strande, is sowat ’n kilometer se stap weg. Dis ook die plek waar bote in die water gestoot word.
Terug by die gastehuis stel Sera en Fanie voor ek gesels met Barry Payn, iemand wat al dekades lank op Port Edward woon, voordat ek die omgewing gaan verken.
Barry (74) en sy vrou, Norma, woon op die plaas Aprils Gift, waar hy met makadamianeute boer. “Toe ek 45 jaar gelede hier aangekom het, was hier niks nie... nie eens een enkellopende meisie op die dorp nie,” skerts hy.
Hier was grondpaaie, ’n winkel of twee, ’n petrolstasie en ’n hotel. Die eienaar van die Port Edward Hotel se Sondagkoerant is sommer uit ’n vliegtuig – wat tussen Durban en OosLonden gevlieg het – op sy stoep gegooi.
Barry het destyds die ysterwarewinkel op die dorp besit. “Dit was die spil van die dorp,” sê hy, “jy kon nie ysterware in enige van die ander winkels kry nie.”
Sy Xhosa-naam was KwaMazinyana, wat verwys na kinders wat heeltyd praat. “Ek kon nog nooit my mond toemaak nie,” sê hy laggend. Naby die ingang van sy plaas is ’n bord met die naam KwaMazinyana duidelik sigbaar.
Hy was van vroeg af betrokke by die opknap van die dorp, of dit nou die plant van bome of die bou van die gholfbaan se klubhuis was.
Die koms van die Wild Coast Sun in 1992 het volgens Barry ’n groot invloed op Port Edward gehad. “Die dorp het ontplof. Kerstyd sou voertuie al die pad van die dorp af tot by die Wild Coast Casino toustaan.”
Die nabyheid aan die Wildekus maak deesdae van die dorp ’n handelstasie, meen Barry. “Dit raak veral besig oor naweke, maar dit is nog steeds net ’n dorp. Dit is eintlik lekkerder as ’n vakansiedorp buite die spitsseisoen. Dit bly ’n vredige dorpie.”
Ná my kuier by Barry is ek reg om die plek te verken. >