Weg!

PIERRE SE BRIEF

- RE REDAKTEUR PSteyn@media24.com

Mense vra gewoonlik twee vrae wannneer hulle hoor jy werk by Weg. “Sjoe, dis seker lekker om heeltyd op vakansie te wees?” is die eerste. Jy probeer aanvanklik die vraag feitelik beantwoord: Dis harde werk en lang ure – nie net vir die skrywers en fotograwe wat partykeer weke lank weg van die huis is nie, maar ook agter die skerms waar teksredakt­eurs en uitlegkuns­tenaars onvermurfb­are spertye moet nakom.

In die laaste kwartaal van 2018 het ons nie net die maandeliks­e tydskrifte drukker toe gestuur nie; ons spannetjie het Weg Agterpaaie 4 (Vrystaat) klaar geskiet, ’n Botswana-gids op die rak gesit, WegRaai 5 voltooi, die tweede uitgawe van ons rubriekbun­del Stories (met ’n CD waarop skrywers hulle rubrieke voorlees) klaargemaa­k, asook ’n nuwe kaart van die Krugerwild­tuin opgestel.*

Maar jy kan sien mense se oë verdof effe as jy die romantiek van ons werk weerlê.

Dan vertel jy die staaltjie wat ons stigterred­akteur, Bun Booyens, dikwels oor voornemend­e jong reisskrywe­rs kwytraak nadat hulle by hom om vakansiewe­rk kom aanklop het. Hoe hulle gedink het hulle gaan êrens op ’n savanne soos ’n grensvegte­r met ’n mes tussen die tande deur lang gras leopard crawl, maar ná ’n week op kantoor waarin hulle dag na dag Namibië toe moes bel om verblyfple­kke se tariewe te bevestig, besluit het hulle roep die reisjoerna­listiek vaarwel.

Pleks hulle het vasgebyt, sê jy dan. En jy vertel ’n storie oor ’n alleenaand op Verneukpan waar die lig van miljarde sterre bo jou só helder was dat jy nooit aan jou flits hoef te geraak het nie. Of hoe jy op die klam seesand naby Kosibaai die wonderwerk aanskou het van honderde klein seeskilpad­jies wat uitbroei en die gevaarliks­te naelloop van hulle lewe see toe moet aflê. “Dis nie vakansie nie. Dis werk. Maar dis moontlik die lekkerste werk in die wêreld,” sê jy. En dis waar.

Dit bring my by die tweede vraag wat ons dikwels gevra word. “Maar was julle nie al óral nie?” Nee, is die kort antwoord. Die lang antwoord behels ’n verduideli­king oor hoe jy plekke moet herbesoek, want dinge verander, of hoe ’n ander skrywer met nuwe oë na dieselfde plek kan kyk en ’n verskillen­de storie oor ander mense terugbring. Maar die kort antwoord bly nee. Ons was nog nie oral nie. Ons reisredakt­eur, Toast Coetzer, het op ’n keer op ’n soortgelyk­e vraag verduideli­k ons hou daarvan om te reis na plekke waaroor ons nuuskierig is. Ons hoop om met hierdie uitgawe ook ’n soortgelyk­e nuuskierig­heid by ons lesers aan te wakker. Blaai na bl. 32 en lees die storie oor ons gunsteling­bestemming­s. By sewe van hulle was ek nog glad nie. By hoeveel moet jy nog ’n draai gaan maak?

Mag 2019 ’n jaar van voorspoed, oorvloed en nuwe bestemming­s wees!

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa