Weg!

Daar’s nuwe agterpaaie om die draai!

-

Dis byna weer tyd om saam met die Weg- joernalist­e Toast Coetzer en Sophia van Taak op reis te gaan. Die vierde reeks van Weg! Agterpaaie word van Januarie 2019 af uitgesaai en dié keer besoek die span die Vrystaat. Waarom die Vrystaat? Wel, die meeste van ons laat wiel net al met die N1 langs deur dié provinsie – óf op pad see toe, óf op pad wildtuin toe. Maar wat gebeur langs die agterpaaie, op plekke soos Bethulie, Lindley, Jacobsdal en Soutpan? Dít is waaroor hierdie reeks gaan: die mooi distrikte in die Vrystaat se agterplaas, die ontsaglike landskappe en vriendelik­e mense wat jy nie langs die snelweg teëkom nie.

Kykers kan uitsien na die grootste graansilok­ompleks in die Suidelike Halfrond, jukskei, breiwerk, boeremusie­k en ’n versteekte kunsgalery vol Pierneefs. Tussendeur het Toast en Sophia ook skouhoende­rs bekyk, ’n veeveiling bygewoon, in ’n sweeftuig geklim, skaap en bees gesels en sosaties geryg! En, natuurlik, van die lekkerste agterpaaie in die land ontdek.

“Ons het sommige dae draaie gery wat jy wens net nooit ophou nie,” vertel Toast. “Die Rouxville-distrik het ’n paar mooie agterpaaie, en as jy van Philippoli­s af oor Luckhoff vir Jacobsdal korrel, kan jy ook nie verkeerd gaan nie. Reg rondom die Witteberg (Fouriesbur­g en Rosendal se wêreld) is die paaie pure plesier en om van Bultfontei­n af suidwes te ry, skrams verby Dealesvill­e, oor Wolwesprui­t en Paardeberg is iets wat ek vir lank gaan onthou.”

“Ek gaan die mense nie maklik vergeet nie,” reken Sophia. “Hulle harte staan so wyd oop soos die Vrystaatse grasvlakte­s en ons het oral nuwe vriende gemaak wat ’n mens voortaan altyd sal gaan groet as jy weer daarlangs ry. Dit was luuks om ’n hele maand lank in dié deel van die binneland te kon rondtoer en daagliks verras te word. Die Vrystaat het beslis voorsien.”

Onthou om Dinsdag 8 Januarie om 9.30 nm. op VIA (DStv-kanaal 147) vir die eerste episode in te skakel! En ry dan vir nóg 12 saam in die Isuzu Mu-X. (Die biltong en nartjies lê in die slopie onder die sitplek.) Elke week se episode word vanaf 13 Januarie op Sondae om 7 nm. herhaal.

Sien jou op die agterpaaie!

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa