Jeremy Shelton
Krappe, geelvisse en rooivlerkies – dit bewe onder die (vars)water! Ons gesels met Jeremy Shelton, ’n bewaringsbioloog en die oog agter die Instagramprofiel @belowtheflow.
Van waar die liefde vir die onderwaterwêreld? Van kleins af het my pa my en my twee jonger broers na die rotspoele by Pearly Beach naby Gansbaai geneem. Ons sou die anemone aan ons vingers laat suig, seesterre versamel en knorrige klipvissies van poeletjie tot poeletjie volg met ons tuisgemaakte visstokkies. Daai rotspoele was vir ons ’n venster tot ’n nuwe wêreld.
Hoe het jy ’n varswaterbewaringsbioloog geword? Ek was van jongs af nuuskierig oor riviere. Dit het gelei tot ’n obsessie met vlieghengel vir forel. Ek het ure in die Berg-, Eerste en Molenaarsrivier deurgebring en gesien dit wemel van krappe, vissies, paddas en insekte. Dit was ’n nuwe wêreld, nes die rotspoeletjies kleintyd.
As voorgraadse student by die Universiteit van Kaapstad het ek van nature na varswaterbiologie geneig. My dosente proff. Jenny Day en Brayn Davies en dr. Jackie King was wêreldleiers op die gebied, en ’n groot inspirasie. Ek het ’n meestersgraad in bewaringsbiologie voltooi.
Daarna het ek ’n doktorsgraad saam met Jenny gedoen oor hoe nuwe visspesies wat in ’n varswaterekostelsel kom, dié stelsel verander.
Verduidelik jou PhD-navorsing in eenvoudige taal. Reënboogforel is ’n eeu gelede in die Kaap bekend gestel vir hengel en visboerdery, en het sedertdien selfonderhoudende bevolkings in baie boloopstrome gevestig. (’n Boloopstroom is die boonste deel van die rivier. Dis gewoonlik in ’n puik toestand, sonder enige impak van mense en vol varswaterlewe!)
In die algemeen vervang die forel die inheemse visse soos klein rooivlerkies, Kaapse kurpers en gespikkelde Kaapse galaxias. Hulle vreet dié visse en wedywer om plek en kos. Dié inheemse visse was miljoene jare die groot kanonne in die ekostelsels, maar dit het nou verander. Forelle se vreetgewoontes verskil van inheemse vis s’n; dus beïnvloed hulle teenwoordigheid die klein water-ongewerweldes wat in die stroombedding woon (al meer van hulle word gevreet). Dit het weer ’n invloed op die hoeveelheid groen alge wat die ongewerweldes vreet. Die hele voedselketting verander dus.
Die beste deel van jou werk? Bewaring kan net suksesvol wees as mense omgee oor ’n spesie, maar jy kan net vir iets omgee as jy bewus is van hulle en die penarie waarin hulle is. Ek is mal daaroor om wetenskap te omskep in stories wat gewone mense kan verstaan én waardeer.
En die slegste deel? Aldo Leopold, ’n bekende bewaringsgesinde, het gesê: “Een van die strawwe van ’n ekologiese opvoeding is dat ’n mens alleen in ’n wêreld van wonde woon.” Dis vandag nóg meer waar as ooit tevore. Ons is tans getuies van ’n wêreldwye massa-uitwissing. Bewaringsbioloë word getraumatiseer deur die ongekende verlies aan biodiversiteit oral om ons. Dit motiveer ons egter ook – waarskynlik meer as enigiets anders.
Wat is die een ding wat jy wens meer mense oor varswater-ekologie geweet het? Hoe mooi die varswaterwêreld is, én die karakters wat onder die oppervlak weggesteek is.
Ouers, vat jou kinders na die Tweede Tolkampplek by Bainskloof. Pak snorkels in en gaan swem saam met die nuuskierige rooivlerkies en Kaapse kurpers in die Wolwekloofstroom. Of gaan maak ’n draai by die Maalgatpoel in die Sederberg se Matjiesrivier om groter spesies soos die Clanwilliam-geelvis of Clanwilliam-saagvin te sien.
Die grootste uitdaging vir Suid-Afrika se varswaterekostelsels? Die Kaap het ’n tekort aan vars water. Dis ’n reuse-uitdaging om die beperkte varswaterbronne só te bestuur sodat dit voorsien in mense en die natuur se behoeftes.
Met watter navorsing is jy tans besig? Ons probeer verstaan hoe die verspreidingsgebiede van bedreigde visspesies waarskynlik gaan verander weens klimaatsverandering. Ons moet weet wat met verskillende spesies gaan gebeur namate dit warmer word en reënval minder en minder voorspelbaar word – dan weet ons hoe ons ons beperkte hulpbronne die beste kan benut.
Gee ’n voorbeeld van ’n varswaterspesie wat onder druk is. Ons fokus tans op die grootrooivin, ’n spesie wat eers onlangs beskryf is en sover bekend net op enkele plekke in die Kaap voorkom – die Du Toitskloof-omgewing en die Riviersonderendrivier. Ons probeer verstaan watter habitatte hulle nodig het om te oorleef en werk dan saam met grondeienaars en organisasies soos Kaapse Natuurbewaring om seker te maak dié habitatte word mooi na gekyk.
Onthou: As ’n mens werk om een spesie te bewaar sorg jy vir hulle habitat, en dit lei tot die bewaring van ander spesies wat ook daar woon.
As my skip inkom… sou ek graag ’n klein mediamaatskappy op die been wou bring wat met flieks en foto’s die stories van die ryk diversiteit van ons riviere en vleilande vertel.
Vir ’n vakansie… pak ek en my meisie die motor met branderplanke, kamp- en snorkelgoed, en ry Weskus toe op soek na branders, óf na die Sederberg-wildernisgebied om in die riviere te snorkelduik en vuur te maak onder die sterre.
My droombestemming is… om deur Amerika te reis, veral na die Elwharivier in Washington se Olympic- nasionale park. In dié rivier is groot mensgemaakte damme in 2011 verwyder om habitat te herstel. Dit het gelei tot meer riviere wat vrylik vloei en die terugkeer van salm en ander spesies – dis ’n inspirerende storie.
Kyk hier na video’s oor dié projek: bit.ly/2ho4luc en vimeo.com/250627097 – en hier na van Jeremy se video’s: vimeo.com/user21257282
– Suzaan Hall