KLASSIEKE AFRIKAANS
Weg stof ’n klassieke Afrikaanse boek af.
Simba
deur Sangiro
Voortrekkerpers Beperk, 1944
Ek het onlangs Sangiro, die skuilnaam van Andries Albertus Pienaar (18941979), se boek Simba in ’n tweedehandsboekwinkel in Parkhurst ontdek.
Sangiro was buiten bobaasjagter, joernalis en skrywer ook ’n rolprentmaker. Net soos in sy bekendste boek, Uit oerwoud en vlakte, speel die verhaal teen die agtergrond van jagekspedisies in Oos-Afrika af.
Hy skets van meet af aan tonele wat jou as leser laat voel of jy saam met hom reis:
Wanneer ek na Oos-Afrika reis, versuim ek nooit om ’n eensame, verlate plaas wat op die verste noordelike voetrante van die Meruberg lê te besoek nie. Dit is ’n waterlose streek. Daar woon geen mense nie, en ’n paar klipmurasies op die hoogste koppie, wat op die wye, onherbergsame vlaktes kyk, is die enigste aanduiding dat hier vroeër mense gewoon het. [...] Die suidoostewind, wat onveranderlik elke aand om ’n hoek van die hoë Meruberg en deur ’n lang vallei soos deur ’n geut gejaag kom, vang die koppie met ’n geweld wat die wag-’n-bietjies en kameeldorings laat skreeu en ’n mens byna van jou voete af gooi.
Op ’n jagtog in die bekende Ngorongorokrater neem hy ’n leeuwelpie gevange wat hy Simba doop:
Nou was hy myne, en met iets van die vanglus wat ons gewoonlik alleen by die roofdiere vermoed, voel ek die mollige, kroeselige en ontembaar wilde klein leeutjie in my hande sidder. Hy was uitasem maar nog nie oorwin nie, en hy het my liefdevolle gevoelens dadelik beantwoord deur sy skerp tandjies in my pols te slaan en met sy vier pote lang rooi skrape oor my arms te trek. Dit was nou my beurt om hom toe te skreeu dat hy moet ophou, en op die geluid van my stem, kyk hy vir die eerste maal verskrik in die oë van ’n mens op. Met ’n plooi van wantroue tussen sy groot pragtige goudbruin oë bly hy in angstige verwondering in my gesig staar, waarby hy ’n oomblik sy weerspannigheid heeltemal vergeet en ek hom sonder moeite wegdra.
Hy reis later per skip met die welpie na Europa, waar Simba ’n nuwe tuiste by ’n dieretuin in Duitsland kry. Dit is duidelik dat die skrywer ’n hegte verbintenis met die welpie voel. Wanneer Sangiro ná vier jaar en vele avonture weer vir Simba besoek, herken die leeu hom nie meer nie.
Hierdie paragrawe word as van Sangiro se aangrypendste skryfwerk beskou – veral die laaste sin is waarskynlik profeties (en ontstellend):
As ek hom op sy naam roep, beweeg sy ore ’n oomblik of daar ’n herinnering in hom opflikker, maar sy oë bly strak op ’n skynbare iets in die verte gerig. In die versteende, sfinksagtige houding laat hy my onwillekeurig dink aan daardie Egiptiese oerbeeld wat peinsend wegkyk oor die sand van die woestyn, versink in die droom van vergane ryke, in die misterie van dinge wat vir altyd verby is...
En ook in Simba se ryk is die tyd nie meer véraf nie wanneer die laaste van sy geslag net as sinnebeeld nog sal peins oor die heerlikheid van ’n diereryk wat nie meer bestaan nie...