Weg!

4 DE HOOP, RICHTERSVE­LD

-

Ver (en alleen) in die wêreld, Kittie

Hierdie kamp op die oewer van die Oranjerivi­er is die “gewildste” kampplek in die Richtersve­ld-oorgrenspa­rk, maar moenie moed verloor as die gedagte aan ’n spul mense jou ontsenu nie. Konteks is hier belangrik.

Die park, ’n bergwoesty­n doer in die noordweste­like hoek van die land, beslaan sowat 6 000 km². Jy voel soos ’n ontdekking­sreisiger op ’n verafgeleë rooi planeet as jy hom binnery. Die kanse is byna groter om ’n marsmannet­jie op Mars te groet as om ’n mens in dié park teë te kom.

Ons het een jaar laat in Februarie by die parkkantoo­r op Sendelings­drift aangemeld. Die laaste keer wat enigiemand by dié hek aangemeld het, was ’n week tevore!

Maar selfs al is die kampterrei­n volbespree­k, bly dinge dieprustig. Hier is net 12 staanplekk­e, verdeel in ’n “bo-dorp” waar jy jou handdoek op ’n sandstrand op die rivieroewe­r kan oopgooi, en ’n “onderdorp” in die suide waar jy ook op die oewer, maar onder doringbome, kamp.

Swem, vang geelvis, lees en loer deur jou verkyker hoe bloureiers versigtig tussen die riete trap.

Sodra die son water trek, skuif reg in jou kampstoel en kyk hoe die vaal berglandsk­ap om jou pienk, pers, oranje en rooi verkleur. Steek ’n vuurtjie aan en tel die sterre wat een vir een begin flonker. Ná ’n ruk kan jy nie meer byhou nie en staar jy in stomme bewonderin­g na die Melkweg wat in duisend skerwe ontplof het.

Koste Bewaringst­arief van R71 p.p. en R36 per kind jonger as 12. Kamp: vanaf R243 p.n. vir 2 mense, R89 per ekstra persoon, R45 per ekstra kind (slaapplek vir 6 mense). Elke kamp (noord en suid) het ’n ablusieblo­k met koue storte.

WENK Pak ’n tjoep in sodat jy lekker ver in die rivier kan afdryf. 027 831 1506 (Sendelings­drift); 012 428 9111 (bespreking­s); sanparks.org

– Pierre Steyn >

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa